Frikkie Maré, landbou-ekonoom by die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig oor die vorige maand se landboumarkte.

Read it in English.

Mieliemark

In Oktober het die prys van geelmielies effens gestyg en op R2 080/ton gesluit. Die prysstyging kan grootliks toegeskryf word aan die rand wat veld verloor en sodoende die graanpryse ondersteun het.

Ekonomiese aanwysers

Die rand het in Oktober teenoor die dollar én euro verswak. ’n Groot deel van die verswakking kan toegeskryf word aan die minister van finansies se mediumtermynbegroting wat nie goed deur die internasionale gemeenskap ontvang is nie en geld die land laat uitvloei het. Einde Oktober het die rand teen onderskeidelik R14,13 en R16,45 teenoor die dollar en euro verhandel. Verbruikersprysinflasie (VPI) het in September vinniger gestyg teen 5,1% op ’n jaar tot jaar-grondslag, terwyl produsenteprysinflasie (PPI) ook vinniger gestyg het teen 5,2% vir dieselfde tydperk. Die ekonomiese groei vir die tweede kwartaal van 2017, voorgestel deur die BBP, het met 1,1% op ’n jaar tot jaar-grondslag gestyg. Landbou het ’n groot positiewe bydrae tot die ekonomiese groei gelewer.

Rooivleismark

Die pryse van veral B- en C-grade beesvleis het in Oktober sywaarts beweeg en op R43,15/kg vir B2 en R41,45/kg vir C2 geëindig. A-graad beesvleis se prys was baie wisselvalig en het effens gedaal en teen R45,83/kg gesluit. Die pryse van grade A2- en B2-skaapvleis het in Oktober gedaal, terwyl die prys van C2-karkasse gestyg het. A2-, B2- en C2-skaapkarkasse se prys het onderskeidelik teen R77/kg, R57,95/kg en R59,24/kg gesluit. In die geval van speendiere het die speenkalfprys sywaarts beweeg terwyl die speenlamprys gestyg het. Die prys van Dorpervelle het sywaarts beweeg, terwyl die prys van Merinovelle baie wisselvallig was en die prys van huide die afwaartse neiging van die laaste paar maande voortgesit het.

Wol- en bokhaarmark

Die prys van skoonwol het op die tiende veiling van die seisoen in Oktober verder gestyg en is 1,6% hoër as op die vorige veiling, terwyl die indikatorprys 16,4% hoër is as die vorige jaar. Sybokhaar het in Oktober verder gestyg met ’n prys van 5,2% hoër as op die vorige veiling en 9,2% hoër as ’n jaar gelede.

Suiwelmark

Die produsenteprysindeks van melk én eiers en melkprodukte het in September toegeneem. Die skerp styging in die produsenteprys van melk en eiers kan grootliks toegskryf word aan die styging in die prys van eiers weens die huidige voëlgriep-situasie wat aanbod beperk. Die verbruikersprysindeks van melk,                                   eiers en kaas het in dieselfde tydperk effens gestyg.

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY