Frikkie Maré, landbou-ekonoom van die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig oor die vorige maand se landboumarkte.

Read it in English.

Mieliemark

In November het die prys van geelmielies gestyg soos wat die rand verswak en die prys ondersteun het. Met die versterking van die rand het die prys egter weer gedaal en op R1 985/ton gesluit.

 

 

Ekonomiese aanwysers

Die rand het in November teenoor sowel die dollar as die euro verswak voordat dit weer veld gewen het. ’n Groot deel van die verswakking kan toegeskryf word aan Suid-Afrika se kredietgradering wat deur een van die agentskappe tot rommelstatus verlaag is en geld die land laat uitvloei het. Dit kom egter voor asof die markte reeds die afgredering verdiskonteer het, en die rand het weer effens gestyg in die dae ná die aankondiging. Aan die einde van November het die rand teen onderskeidelik R13,71 en R16,34 teenoor die dollar en euro verhandel. Die verbruikersprysinflasie (VPI) het in Oktober stadiger gestyg teen 4,8% op ’n jaar-tot-jaar-grondslag terwyl produsenteprysinflasie (PPI) ook stadiger gestyg het teen 5% vir dieselfde tydperk. Die ekonomiese groei vir die tweede kwartaal van 2017, voorgestel deur die BBP, het met 1,1% op ’n jaar-tot-jaar-grondslag gestyg. Landbou het ’n groot positiewe bydrae tot die ekonomiese groei gelewer.

Rooivleismark

Die pryse van aldrie grade beesvleis het in November redelik sywaarts beweeg en op R45,58/kg vir A2, R42,80/kg vir B2 en R41,69/kg vir C2 geëindig. Die prys van A2-lamsvleis het effens gestyg, terwyl B2- en C2-grade skaapvleis baie wisselvallig vertoon het. A2-, B2- en C2-skaapkarkasse se prys het onderskeidelik teen R78,83/kg, R62,15/kg en R57,70/kg gesluit. In die geval van speendiere het die speenkalfprys skerp gestyg voordat dit weer gedaal het, terwyl die speenlamprys wisselvallig sywaarts beweeg het. Die prys van Dorper- én Merinovelle het gedaal terwyl die prys van huide sywaarts beweeg het.

Wol- en bokhaarmark

Die indikatorprys van skoonwol het ná ’n baie goeie lopie skerp gedaal op die 14de en 15de veilings. Dit was op die laaste veiling 3% laer as op die vorige veiling, maar steeds 16,7% hoër is as die vorige jaar. Sybokhaar het in November die skerp stygende tendens voortgesit met ’n prys van 3,5% hoër as op die vorige    veiling en 19,5% hoër as ’n jaar gelede.

Suiwelmark

Die produsenteprysindeks van melk en eiers het in Oktober skerp gestyg as gevolg van die styging in die eierprys, terwyl die prysindeks van melkprodukte effens gedaal het. Die verbruikersprysindeks van melk, eiers en kaas het in dieselfde tydperk effens gestyg.

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY