Die uitbreking van die hoogs aansteeklike voëlgriep in Mpumalanga word in ʼn ernstige lig beskou. Lees hier daaroor. NWK se Opti Besighede is genoop om betrokke te raak om te voorkom dat die siekte na Noordwes versprei.

“Voëlgriep kan die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf op sy knieë dwing. Om die bedryf te beskerm, is dit noodsaaklik dat alle betrokke rolspelers asook die publiek saamwerk om die verspreiding van die siekte te keer. Vinnige reaksie kan help om uitbrekings so gou moontlik te isoleer. Ons kan slegs suksesvol wees as almal in die streek saamwerk,” sê Jaco Viljoen, uitvoerende hoof van Opti Besighede.

Die publiek moet kennis neem dat die siekte nie enige negatiewe gevolge vir mense inhou nie en alle hoendervleis wat kommersieel in Suid-Afrika geproduseer word, kan dus as veilig vir menslike gebruik beskou word. Die spesifieke stam van die virus, H5N8, wat in hoenders in Mpumalanga geïsoleer is, hou geen bedreiging in vir mense nie en is nie dieselfde dodelike stam as wat voorheen in Asiese lande gevind is nie. Dit is egter dodelik vir hoenders en ʼn 100%-vrektesyfer kan verwag word. By die Mpumalanga-uitbreking het al die voëls in die hoenderhuis waar die eerste tekens van die siekte gesien is, binne ʼn paar dae gevrek.

Maatreëls vir voëlgriep

Lees ook: What to do in an Avian Influenza outbreak.

Opti Besighede doen ʼn beroep op alle produsente van hoenders en ander pluimvee om seker te maak dat die volgende maatreëls onmiddellik ingestel word:

  1. Stel streng biosekuriteitsmaatreëls by alle produksie-eenhede in.
  2. Aangesien die siekte heel waarskynlik deur wilde voëls versprei word, voorkom kontak met enige wilde voëlspesie en hou hoenders binnenshuis.
  3. Oop waterbronne is ʼn ernstige risiko, aangesien dit wilde trekvoëls lok en deur die voëls wat die draers van die siekte is, besmet word.
  4. Dit is noodsaaklik om enige skielike styging in vrektes van enige voëlspesie by die betrokke owerhede aan te meld. Ons moedig dus die publiek sowel as produsente aan om dit aan te meld as enige abnormale vrektes of dooie voëls waargeneem word. Meld sulke waarnemings onmiddellik by Rina Botha van Opti Besighede by 082 828 6360 aan. Sy sal toesien dat die betrokke beamptes van die aangemelde gevalle ingelig word sodat die siekte beheer kan word.

Kontak Opti Besighede vir enige inligting oor die siekte asook die biosekuriteitsmaatreëls wat in plek moet wees. – Persverklaring

Astral Foods gesels oor voëlgriep-uitbreking

Update on SA avian influenza outbreak

Bird flu may cripple the poultry industry

Lesotho issues bird flu warning

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY