Frikkie Maré, landbou-ekonoom by die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig oor die vorige maand se landboumarkte.

Read it in English

In Julie het die prys van geelmielies redelik sywaarts beweeg en op R1 909/ton gesluit. Die rand het veld verloor teenoor die dollar en die euro terwyl die gaping tussen die waarde van ’n euro en dié van die dollar verder vergroot het. Einde Julie het die rand teen onderskeidelik R13,16 en R15,59 teenoor die dollar en euro verhandel.

Produsente- én verbruikersprysinflasie het in Junie stadiger gestyg met die VPI wat op ’n jaar-tot-jaar grondslag 5,1% was en die PPI vir dieselfde tydperk 4%.  Terwyl die prys van graad A-beesvleis in Julie gedaal het, het die prys van B-grade meer sywaarts verhandel terwyl die prys van C-grade gestyg het. Die prys van al die grade skaapvleis het skerp toegeneem.

In die geval van speendiere het die speenkalfprys afgeplat en effens gedaal terwyl die prys van speenlammers baie skerp gestyg het. Die prys van skoonwol het op die laaste veiling in Junie verder teruggesak en was slegs 0,1% hoër as ’n jaar gelede. Die prys van sybokhaar het ook op die laaste veiling verswak en was byna 25% laer as ’n jaar gelede. Die produsenteprys van melk en melkprodukte en die verbruikersprys van melk, eiers en kaas het in Junie effens gestyg.

Markoorsig vir Junie 2017

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY