Frikkie Maré, landbou-ekonoom van die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks vir ons die markoorsig oor die vorige maand se landboumarkte.

Read it in English

Die prys van geelmielies het in Februarie die dalende siklus voortgesit en teen R2 592/ton gesluit. Die goeie somerreën wat in die meeste gebiede geval het, skep die verwagting van ’n mielieoes van bykans 14 miljoen ton en die groot aanbod laat die prys daal.

Die rand het in dieselfde tydperk versterk en het aan die einde van Februarie teen R13,15 en R13,84 teenoor die dollar en euro verhandel. Dit is belangrik om hier te let dat die versterking in die rand die gevolg is van die dollar wat verswak, aangesien die nuwe Trump-administrasie ’n swakker dollar nodig het om beleggings in die VSA aan te moedig.

Produsenteprysinflasie het in Januarie skerp tot 5,9% gedaal op ’n jaar-tot-jaar-grondslag, maar die verbruikersprysinflasie het met net 0,2% tot 6,6% gedaal op ’n jaar-tot-jaar-grondslag en is dus steeds bo die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se teiken van 6%.

Ná ’n tydperk van baie goeie rooivleispryse het die lams-, skaap- en beesvleisprys begin terugsak.  Die daling in die vleispryse kan hoofsaaklik aan twee redes toegeskryf word. Eerstens sien ons gewoonlik in Februarie ’n daling in die pryse, aangesien die verbruikers se koopkrag gewoonlik laer is. Die tweede rede is dat dit lyk asof verbruikersweerstand ontstaan wanneer die karkasprys van lammers bo R70/kg styg en dié van beesvleis bo R44/kg.

Op die laaste veiling in Februarie het die wolprys met 0,7% gestyg en verhandel sowat 2,2% hoër as ’n jaar gelede. Die prys van sybokhaar is egter onder druk, en hoewel die prys op die laaste veiling in Februarie met 1% gestyg het, is die aanduiderprys sowat 36% laer as ’n jaar gelede.

Die produsenteprysindeks van melk het in Januarie gedaal terwyl die PPI van melkprodukte basies dieselfde gebly het. Die verbruikersprys van melk, eiers en kaas het egter in dieselfde tydperk skerp gestyg. – Markverslag

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY