Frikkie Maré, landbou-ekonoom van die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte.

Read it in English.

Mieliemark

In Desember het die prys van geelmielies gedaal soos wat die rand versterk het. Die invloed van die sterker rand was egter kleiner as verwag, aangesien baie van die mielieproduserende gebiede vanweë te min reën nog nie begin plant het nie en daar dus ’n kleiner oes verwag word. Die prys het op R1 934/ton gesluit.

Ekonomiese aanwysers

Die rand het in Desember teenoor sowel die dollar as die euro versterk. Die versterking kan toegeskryf word aan die positiewe reaksie van die markte nadat Cyril Ramaphosa tot president van die ANC verkies is. Einde Desember het die rand teen onderskeidelik R12,37 en R14,82 teenoor die dollar en euro verhandel. Verbruikersprysinflasie (VPI) het in November verlangsaam tot 4,6% op ’n jaar-tot-jaar-grondslag terwyl produsenteprysinflasie (PPI) in dieselfde tydperk tot 5,1% gestyg het. Die ekonomiese groei vir die derde kwartaal van 2017, voorgestel deur die BBP, het met 0,8% op ’n jaar-tot-jaar-grondslag gestyg. Landbou het weereens, soos in die tweede kwartaal, ’n groot positiewe bydrae tot die ekonomiese groei gelewer.

Rooivleismark

Die pryse van A- en C-grade beesvleis het einde Desember gedaal terwyl die prys van B-grade gestyg het. Die pryse het in Desember op R47,87/kg vir A2, R44,90/kg vir B2 en R43,61/kg vir C2 geëindig. Skaapvleis het presies dieselfde neiging as beesvleis getoon en A2-, B2- en C2-skaapkarkasse se prys het onderskeidelik teen R83,92/kg, R65,63/kg en R61,46/kg gesluit. In die geval van speendiere het speenkalf- én speenlampryse effens gestyg en toe sywaarts gebly. Die prys van Dorper- en Merinovelle het sywaarts beweeg terwyl die prys van huide gedaal het.

Wol- en bokhaarmark

Die indikatorprys van skoonwol het op die enigste veiling in Desember met 0,6% gestyg teenoor die vorige veiling en 21,7% hoër verhandel as die vorige jaar. Sybokhaar het in Desember sywaarts beweeg met ’n prys wat onveranderd gebly het teenoor die vorige veiling en 20,9% hoër was as ’n jaar gelede.

Suiwelmark

Die produsenteprysindeks van melk en eiers het in November skerp gestyg as gevolg van die styging in eierpryse, terwyl die prysindeks van melkprodukte sywaarts beweeg het. Die verbruikersprysindeks van melk, eiers en kaas het in dieselfde tydperk effens gestyg. – Markverslag

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY