Tuesday, March 28, 2023

Maak gereed vir ’n uitdagende brandseisoen

Estimated reading time: 3 minutes

Die brandseisoen in die sentrale binneland is in volle swang, met veld- en struktuurbrande wat reeds in verskeie gebiede in Noordwes verwoesting saai. Eric Stoch, voorsitter van die Noordwes-sambreelbrandbeskermingsvereniging (NWUFPA), sê vier lewens is reeds hierdie jaar weens brandverwante voorvalle geëis en plantegroei is vernietig.

Dít beklemtoon opnuut die gevare van veral wegholveldbrande. Hy sê op 3 Julie vanjaar het altesaam 142 brande in ’n bestek van 24 uur in die provinsie gewoed. Meer as die helfte van dié brande het naby paaie ontstaan. Meestal kontantgewasse en natuurlike grasveld het in die slag gebly.

Verwoesting gesaai

Stoch sê die vorige brandseisoen (2021) was die ergste nóg, met meer as 25 300 brande wat oor die provinsie heen gewoed het. Altesaam 738 303ha is in die tydperk van 1 Mei tot 18 November verwoes. Die beraamde skade het meer as R4,5 miljard beloop, wat ʼn “konserwatiewe skatting” is. Hy sê meer as die helfte van die aantal brande het in ’n kilometer-radius vanaf ’n pad (provinsiaal, nasionaal of plaaslik) ontstaan. Dit dui daarop dat die nodige voorbrande nie in plek was nie.

Lees meer oor veld- en bosbrandbekamping hier.

Belangrikheid van voorbrande

Stoch sê NWUFPA is benoud oor dié huidige brandseisoen. Die rede tot kommer is veral omdat beheerde voorbrande weens die nat toestand van grasveld en landerye nie betyds gemaak kon word nie. “Toerusting is oud en mense het nie geld om dit te vervang of na te sien nie.” 

Hy beklemtoon opnuut die belang van die maak van voorbrande. Die sny van gras geld nie as ’n voorbrand nie. Dit kom slegs daarop neer dat die lading van die brandbare materiaal verminder is. Dit is daarom belangrik om volgens wetlike riglyne die beskrywing van ’n voorbrand te verstaan.

“ ’n Voorbrand word beskou as ’n oppervlakte of ’n gebied waar alle brandbare materiaal verwyder word.” Dit kan geskied deur middel van die skraap van grond langs eiendomme se grense en gifbespuiting voor die aanvang van die brandseisoen. Stroke moet egter steeds gebrand word indien die voorafgenoemde nie gedoen word nie. Die mees doeltreffende en goedkoopste metode is egter die maak van voorbrande in samewerking met bure, die plaaslike brandbeskermingsvereniging (BBV) en die munisipale brandweerdienste.

Tyd verstreke

Volgens Stoch het die toelaatbare tyd vir die maak van voorbrande in Noordwes reeds teen die einde Junie verstryk. Daarmee saam is daar ’n duidelike tendens dat die tradisionele brandseisoen, wat gewoonlik vanaf begin Junie tot die einde Oktober gestrek het, nou oor die afgelope paar jaar met ’n beraamde 87 dae verleng het. Dit kan toegeskryf word aan die draai van seisoene, asook laat reënval. Hy sê voorbrande kan egter steeds gemaak word deur die nodige toestemming van die onderskeie brandbeheerbeamptes in die onderskeie 20 BBV’s en vier distriksbrandverenigings te verkry.

Stoch maan grondeienaars en staatsinstellings opnuut om by hul onderskeie BBV’s aan te sluit, juis omdat hulle wetlik verplig word ingevolge die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, 1998 (Wet 101 van 1998). – Christal-Lize Muller, AgriOrbit

Vir meer inligting, kontak Eric Stoch by 071 0776 653 of stuur ’n epos na nwufpa@gmail.com.

The Land Bank: Challenges and prospects

Estimated reading time: 7 minutes The Land Bank has been struggling to fulfil its...

Grondeise: Die pligte van kopers en verkopers van plase

Estimated reading time: 5 minutes Onafgehandelde grondeise begin toenemend 'n faktor raak by die...

Die veranderende Suid-Afrikaanse volstruisbedryf

Estimated reading time: 7 minutes Die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf is die wêreldleier in terme van...

Slaggate vir doeltreffende werking van onkruiddoders

Estimated reading time: 6 minutes Onkruiddoders behoort nie die enigste of laaste uitweg vir...