charolais
Dié bulletjie, Ambrose (CB 180126), het vanjaar die Vleissentraal SA Stamboek Elite 2021-bulgroeitoetsklastoekenning vir die Charolais-ras ontvang.

Estimated reading time: 6 minutes

“Ek wil nie net die stroom volg nie. Ek wil dinge op mý manier doen. Dit is ook hoe ek ons Louwcoe Charolaisstoet bestuur – ons beeste moet nie net bekendstaan as Charolaisbeeste nie; hulle moet Louwcoe Charolais wees. Individualiteit is waarna ek streef.”

So sê Louwrens Viljoen, die dryfkrag agter die grootste Charolaisstoet in die land. Saam met sy pa, Coenraad, boer hulle op die plaas Mountain View naby Clocolan in die Oos-Vrystaat.

Coenraad vertel dat hy nog op skool was toe hy met die wit beeste begin boer het. “Ons het destyds ’n wit bul in Winburg by Douw Steyl gekoop en so het ek ’n liefde vir die Charolais ontwikkel. In 1968 het ons toe ’n stoetkoei met ’n kalf gekoop, en ek en my pa het toe met die CL Viljoen Charolaisstoet begin. Die stoet was in daardie stadium nie die moeite werd nie en ons het opgehou. Toe Louwrens egter in 2006 op die plaas kom, het ons weer ’n stoet begin. Dis hoe Louwcoe Charolais tot stand gekom het.”

Droom groot en stel doelwitte

Van dag een af, sê Louwrens, was sy mikpunt om die grootste, beste Charolaistoet in die land te hê. “Dinge loop dalk nie altyd presies volgens plan nie, maar ek glo vas die enigste manier om nie te stagneer nie, is om doelwitte te stel. Dit rig jou fokus en maak dat jy dinamies bly.”

charolais
Coenraad en Louwrens Viljoen.

Vandag bestaan Louwcoe Charolais uit ongeveer 350 vroulike stoetdiere en hulle hou vanjaar hul agtste produksieveiling.

“Daar is ’n hele paar prominente stoettelers van ander rasse in die land, vir wie ek groot respek het, en ek wil myself aan hulle meet. Dit is maklik om die grootste Charolaisstoet in die land te wees, maar om die béste te wees, verg harde werk en passie. Om dan nog in die groot dam tussen die groot visse te wil rondswem, neem nóg groter toewyding. Dit is waar ek wil wees – ek wil myself aan die beste in die land kan meet, ongeag ras.”

’n Praktyk wat hy by Arthur de Villiers van Arcadia Bonsmaras gesien het, is om die kopers van sy bulle se plase te besoek om te sien hoe sy bulle in die verskillende dele van die land vaar. Dit, sê Louwrens, is vir hom ’n uiters belangrike beginsel.

“Ek was onlangs vir ’n week in Vryburg om na ons bulle te gaan kyk. Daardie plaasbesoeke, waar ek sien hoe ons bulle vaar en hoor wat die kopers van hulle dink, is vir my oneindig baie werd. Ek wil my mark beskerm en uitbou, en ek kan dit net doen as my kopers tevrede is. My beeste is my passie – dit gaan nie net oor geld nie.”

Kundigheid word ingespan

In sy poging om altyd te verbeter, het Louwrens vir Nico Steyn as telingskonsultant aangestel. “Nico bring ’n nuwe dimensie met sy vermoë om op grond van teelwaardes, die regte bul en koei bymekaar te sit. Binne ses maande sedert hy by ons betrokke geraak het, het ons ’n Elite Silwer-toekenning by SA Stamboek gekry.

“Deur sy toedoen het ons ook met kunsmatige inseminasie (KI) begin ten einde die beste moontlike genetika in die kudde te vestig. Dit is iets wat ek nie voorheen gedoen het nie. Ek glo daaraan om kundiges te gebruik wat meer as ek weet, want dit verbreed my wêreld dramaties.”

Die ideale koei

Vir Louwrens bly vrugbaarheid die fondasie waarop ’n koeikudde gebou word. Onder Nico se invloed het hulle verse op 17 maande begin KI, waar Louwrens voorheen 24 maande as maatstaf beskou het. Omdat die Charolais ’n laatryp ras is, moet hulle egter nog sien wat die optimale ouderdom van eerste kalwing is.

charolais
Die Viljoens streef na ’n koei/kalf-speengewigverhouding van 50%.

“ ’n Stoetkoei moet kalwers speen wat goed genoeg is om ook in die stoet opgeneem te word. As ’n koei meer as een kalf speen wat nie aan hierdie standaard voldoen nie, hoort sy nie in die stoet nie. ’n Koei wat glad nie ’n kalf speen nie, moet ’n baie goeie verskoning hê, anders moet sy ook gaan.”

Sy ideale koei weeg tussen 550 en 600kg en ’n koei/kalf-speenverhouding van minstens 50% is sy mikpunt. Wat tussenkalfperiode (TKP) betref, mik hy na minder as 400 dae. Hoe vrugbaarder jou koeie, sê hy, hoe vinniger raak hulle dragtig en hoe korter is hul TKP. Dit maak die bestuur en beplanning soveel makliker.

“Ons wil op ’n punt kom waar ons al ons agt-jaaroue koeie op ’n veiling kan sit om plek te maak vir die jonger generasie. So maak ons dan vinniger genetiese vordering en kan ons goeie genetika vir ander telers beskikbaar stel, terwyl ons nog ’n goeie prys vir die ouer koeie ook kry.”

Die verbetering van uiers is iets waaraan die Viljoens hierdie jaar begin werk het deur saad van ’n poenabul uit Australië in te voer. “Dié bul bring iets anders en ek hou daarvan om anders te wees. Australiese omstandighede is baie dieselfde as hier, so sy nageslag behoort goed by ons aan te pas. Hy kom uit ’n bloedlyn wat vroulike diere met uitstekende uiers teel.”

Ideale bulle moet kan groei

’n Ander bul wat hulle ingebring het is die Franse bul, Dahlia. Sy een seun, Ambrose (CB 180126), het vanjaar die Vleissentraal-toekenning in die groeitoets ontvang. “ ’n Charolais moet kan groei. Ons staan nie verniet bekend as die ‘speenkalfkoning’ nie. Dis juis vir hierdie eienskap dat ons Dahlia gebruik. Groei en melk is vir my ewe belangrik en die twee loop saam.”

Drie jaar gelede het Louwrens ’n groep bulle aan ’n Fase D-toets onderwerp en die jaar daarna ook ’n groep in ’n Fase C-toets gehad. Met hierdie ondervinding het hy nou besluit om sy bulle jaarliks aan Fase D-toetse te onderwerp. 

“Ek voel nie gemaklik daarmee om ’n bul in ’n kraal te gaan vasdruk en voer nie. Ek glo ’n bul moet loop om sy kos te kry. In ’n Fase D-toets kry hy 3kg lek per dag, maar hy moet steeds die res van sy behoefte uit die veld aanvul. As hy klaar is met sy toets, gaan hy in elk geval berg toe totdat hy ingebring word om stadig vir die veiling voorberei te word. Hoe langer daardie bul op die veld kan bly voordat hy afgerond moet word, hoe beter is dit vir die bul.

“As ek na ’n bul kyk, is die eerste aspek waarna ek oplet ’n mooi, manlike kop. Verder hou ek van ’n gebalanseerde, kort-op-die-been, dik bul, wat goed beweeg. Ons bulle word voor ’n veiling fiks gemaak deurdat ons veewagters hulle drie keer per week ’n ent laat hardloop. Dan sien ons ook watter bulle lekker gemaklik beweeg.”

Voeromsetverhouding (VOV) is ook vir hulle belangrik. In die jongste toets het hulle ’n gemiddeld van 4,7kg voer vir 1kg gewig behaal, waarmee hulle baie tevrede is. Goeie aanpassingsvermoë, sowel as goeie groei, voeromsetverhouding en vleiseienskappe is waarvoor Louwcoe Charolais staan. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Louwrens Viljoen by 082 334 4877.

noodhulpkas, Dormers, predasiebeheer