Louwcoe Charolais-boeredag plaas kollig op doeltreffendheid

Estimated reading time: 4 minutes

Louwrens en Louise Viljoen van Louwcoe Charolais hou vir die afgelope sewe jaar hul produksieveiling hoofsaaklik op Vryburg. Die stoet word op die plaas, Mountain View, in die Clocolan-omgewing gehuisves. Die Viljoens, in samewerking met OVK, het besluit om ’n boeredag op hul plaas aan te bied om produsente uit die omgewing te betrek, pitkos te deel en hul beeste in die kollig te plaas.

“Ons het intussen ook ’n Limousin-stoet tot stand gebring, so dit was ’n goeie geleentheid om ook die Limousins aan besoekers bekend te stel. Een van die voordele van ’n tweede stoet is dat ‘n mens alreeds ’n paar lesse geleer het en weet waarop om te fokus.” Dit geld ook vir die Meatmaster-stoet wat hulle tans tot stand bring. Hulle seun, Bees, is by Grey-kollege op skool en sal mettertyd die Limousin-stoet oorneem, terwyl Louise op die Meatmaster-stoet gaan fokus.

Marius Barkhuizen, interrasbeoordelaar en konsultant by die Limousin-beestelersgenootskap, het ’n paar bulle bespreek en belangrike punte uitgelig.

Minerale vir doeltreffende groei

Henri de Jager van Virbac het die program ingelei met riglyne vir die versorging van kalwers tot en met speenouderdom. Die eerste 90 dae van die kalf se lewe is ‘n belangrike tydperk, maar vir daardie kalf om gunstig te ontwikkel, is dit belangrik dat die koei reeds voor kalwing ’n goeie kondisietelling en mineraalstatus het. As ’n kalf vry is van parasiete, veral lewerslak, en ’n goeie mineraalstatus het, is sy groeiprestasie merkbaar beter as kalwers wat parasietdruk of mineraaltekorte ervaar.

Johan Mouton, tegniese bestuurder van navorsing en ontwikkeling by Molatek, het sy aanbieding begin met ’n klomp praktiese wenke oor die doeltreffende grootmaak van verse ná speen. Hy het gesê hoewel veekos deur die jaar belangrik is, produsente daarteen moet waak om hulle diere te veel voer te gee. Verskalwers moet van geboorte af optimale voeding ontvang en hulle groei mag nooit gestrem word nie. Strategiese byvoeding op die regte tye is baie belangrik. Liggaamskondisietelling by paring en kalwing moet fyn dopgehou word om te verseker dat verse ’n optimale liggaamskondisie handhaaf.

Genetika en genomika

Volgende aan die woord was Kobus Bester, rasdirekteur van Simbra SA. Hy het die belangrikheid van epigenetika, die S-kurwe van ’n dier se ontwikkeling en die verband daarvan met die tydwaarde van weiding bespreek. Verlore tyd, het hy gesê, kan nooit weer ingehaal word nie.

Epigenetika is die chemiese skakelaar in ’n dier se liggaam wat sekere gene aan- of afskakel op grond van die omgewing waarin die dier moet funksioneer. Hierdie omgewing word tot ’n mate bepaal deur die produsent se bestuurspraktyke en ander stresfaktore soos roofdiere. “Wat die produsent dus moet verstaan is dat die omgewing wat hy deur sy bestuur skep, ’n invloed het op die manier waarop sy diere hul gene uitdruk.”

Volgende aan die beurt was Roy Dixon en Cobus Grobler van CRV Xseed, wat ’n paar belangrike wenke oor die aanwending van kunsmatige inseminasie (KI) in vleiskuddes gedeel het. Hoewel Charolais-beeste nie baie gewild is onder melkprodusente wat hul swakker koeie KI nie, het CRV Xseed wel ’n paar jaar gelede ’n uitstekende Louwcoe-bul se saad gebruik; die bul was bekend vir sy kalwingsgemak.

Daar is ’n toenemende tendens in Suid-Afrika dat melkkalwers waarvan die vader van ’n vleisbees is, goeie waarde begin kry. Daarom is dit so belangrik dat genomiese toetse op aspirant KI-bulle gedoen word, sodat die teelwaardes van daardie bulle bekend is. Daar moet veral teen dubbelbespiering gediskrimineer word. KI is die vinnigste manier om genetiese vordering in ’n kudde te bewerkstellig. ‘n Belangrike wenk is om klaar te wees met jou KI-program teen die tyd wat die normale dekseisoen begin.

‘n Louwcoe-bul is die antwoord

Dr TJ Boshoff van die Clocolan Dierekliniek se praatjie se tema was “Hoe weet ek dat ek ’n Louwcoe-bul nodig het?” Die antwoord tot dié vraag, het hy gesê, is speengewigte. Dit is ook belangrik om te weet of die bulle in jou kudde doeltreffend is. Daarom is dit noodsaaklik dat jy jou bulle elke jaar moet toets vir gesonde semen en immuniteit teen geslagsiektes soos brusellose, trigomoniase en vibriose. ’n Bul is nie veel anders as ’n planter nie; saaiprodusente kalibreer hulle planters gereeld en beesprodusente moet dieselfde met hul bulle doen.

Waarom ’n Louwcoe-teelbul gebruik? Louwrens het die dag afgesluit met ’n kort opsomming van hulle prioriteite en teeldoelwitte. Hy het gesê kalwingsgemak, goeie groei en koeidoeltreffendheid is die belangrikste aspekte van hulle teeldoelwitte. Wat koeidoetreffendheid betref, is sy mikpunt dat ’n kalf teen 50% of meer van sy ma se liggaamsgewig moet speen.

Vir meer inligting, skakel Louwens Viljoen by 082 334 4877. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Related

Excellence and achievement take centre stage at LRF gala

Estimated reading time: 8 minutesExcellence in breeding, genetic progress, and outstanding service to the livestock industry. These were the attributes that took centre stage...

Stockman School 2026: Breeding better beef, from DNA to dinner plate

The second session on day two of the 2026 LRF Stockman School kicked off with a presentation on breeding better beef. Charné Claassen, division...

Foetal programming to BREEDPLAN: A jampacked second day at Stockman School

The second day of the Livestock Registering Federation’s (LRF) Stockman School at Aldam in the Free State kicked off with a session sponsored by...