Loer met sonar vir ’n beter karkas

Estimated reading time: 5 minutes

Intydse ultrasoniese skandering vir karkaseienskappe is ’n hulpmiddel om inligting oor lewende diere se karkasse te versamel en die data vir seleksie te gebruik.

Produsente wat die tegnologie al lank gebruik, sê dit het besliste ekonomiese voordele. Dit kan die produsent help om diere te identifiseer wat vroeër geslagsryp is, makliker dragtig raak (veral met die tweede dekking), vinniger vet aansit, makliker van die veld af bemark kan word en ’n hoër uitslagpersentasie het.

Skandering word gedoen deur ultrasoniese klankgolwe wat teen verskillende sterkte teruggekaats word en deur die skandeerder in ’n beeld omskep waarop daar tussen vet en spiere onderskei kan word.

Voordele van skandering

Tydens ’n onlangse webinaar het Jody Young, tegniese assistent by die LRF, gesê die ekonomies belangrike karkaseienskappe is matig tot hoog oorerfbaar en kan met dié tegnologie betreklik akkuraat gemeet word, sodat teeldiere wat dié eienskappe dra, geselekteer kan word.

In Suid-Afrika word die meeste vleisbeeskalwers in voerkrale slaggereed gemaak. Die gewig en die vetheidsgraad van die karkasse wat so geproduseer word, is belangrike faktore wat die wins per karkas bepaal. Die gehalte van die vleis word steeds gekoppel aan die ouderdom van die dier met slag.

Gemete eienskappe

Eienskappe wat met ultrasoniese skandering gemeet kan word, is die dikte van die ribvet, dikte van die vetneerlegging oor die lende, oogspieroppervlakte en die persentasie vet wat in die spier gemarmer is.

Die dikte van ribvet gee ’n aanduiding van die uitwendige vetbedekking wat die karkas op die spesifieke tyd het. Die lendevetmeting word saam met die ribvetmeting verwerk om ’n akkurater aanduiding van die vetverspreiding oor die karkas te kry.

Fisiologiese ouderdom het ’n invloed op dié metings aangesien die vet laaste ontwikkel. Die mate van vetneerlegging wat op ’n betreklike jong ouderdom voorkom, kan ook ’n aanduiding van vroegrypheid wees.

Die oogspieroppervlakte gee ’n aanduiding van die moontlike vleisopbrengs van die karkas.

Om meer insig te kry oor tegniese aspekte soos hierdie, maak seker jy registreer vir die 2024 LRF Veeskool by Aldam.

Vetmarmering en vetneerlegging

Vetmarmering in die vleis word op die beeld waarmee die oogspieroppervlakte gemeet word, uitgebeeld as ligte kolle in die spier. Dié vetmarmering verhoog die sappigheid en smaaklikheid van die vleis.

Die regte vetneerlegging op die karkas is om verskeie redes belangrik. Dit is gewoonlik ’n aanduiding van hoë vrugbaarheid. ’n Egalige vetbedekking oor die karkas speel ook ’n rol in die doeltreffende verkoeling daarvan.

Lees meer oor die seleksieproses met bulle koop hier.

Wanneer diere geskandeer word, behoort hulle in ’n goeie kondisie te wees sodat die genetiese eienskappe van vetneerlegging, oogspieroppervlakte en marmering sigbaar kan wees. Breedplan se rowwe aanduiding is dat die ribvet op 400 dae, gemiddeld 3mm dik moet wees en die lendevet van 4 tot 5mm dik. Sy voeg by dat die resultate van vetmarmering verder geoptimaliseer kan word as dit van 2 tot 8% met skandering is.

Skandeer alle diere

Produsente dink hulle hoef net bulle te laat skandeer, maar dit kan voordelig wees om verse ook te laat skandeer om vroegryptipes te identifiseer en hul genetiese vermoë om goeie karkaseienskappe na hul nageslag oor te dra, vas te stel. Die inligting wat van al die diere ingesamel is, kan bruikbare data van hul vaders en moeders lewer.

Produsente moet daarteen waak om nie vir enkeleienskappe te selekteer nie, omdat daar ’n korrelasie en interaksie tussen verskillende genetiese eienskappe bestaan. Young sê skandering bied ’n objektiewe meting van ekonomies belangrike karkaseienskappe wat nie met die oog op lewende diere waargeneem kan word nie.

Die gegewens wat met skanderings versamel word, kan bydra om akkurate teelwaardes ten opsigte van karkaseienskappe wat, saam met ander teelwaardes, dit moontlik kan maak vir die kudde om geneties vinniger te vorder om die teeldoelwitte te bereik.

Advies van ‘n teler

Mecki Schneider, bekende Brahmanteler van Grootfontein in Namibië en voorsitter van die LRF, sê hy het die data van 4 405 diere se karkaseienskappe wat hy versamel het sedert hy in 2007 die tegnologie begin gebruik het.

Hy beveel aan dat alle diere, bulle en verse, op 400 of 600 dae geskandeer word. In sy geval het hy twee kalftydperke wat beteken een groep diere is gemiddeld 400 dae oud en die ander groep 720 dae. Aangesien die diere dan vir skandering hanteer word, weeg hy hulle dan ook. Die inligting is vir hom belangrik, omdat daar ’n sterk korrelasie van dié gewigte en die karkasgewig is.

Die gegewens word saam met die ander beraamde teelwaardes en fenotipiese eienskappe gebruik om gebalanseerde seleksie toe te pas. Hy gebruik die rib- en lendevetmate om vroegryp diere met ’n goeie kondisietelling te identifiseer wat vroeër geslagsryp, makliker dragtig en ook met die tweede dekking makliker dragtig raak. Sulke diere kan ook makliker van die veld af bemark word en het ’n laer onderhoudsbehoefte.

Vir vetmarmering is daar syns insiens nog nie ’n akkurate meting nie. ’n Studie is nou aan die gang om dié meting meer akkuraat te doen, sê hy.

Vir meer inligting, kontak die LRF by 081 844 4853 of office@lrf.co.za.

Popular stories