Listeria is in die omgewing teenwoordig en suiwelverwerkingsaanlegte is ’n uiters gunstige omgewing waarin dié organisme kan floreer. Onlangse berigte in die media het ons weer herinner dat algehele uitwissing van Listeria in die omgewing onmoontlik is. Daarom is nougesette skoonmaakprogramme in suiwelaanlegte die enigste manier om besmetting te beheer.

Read this in English

Toetsing vir Listeria behoort deur ’n buite-laboratorium of laboratorium weg van die perseel gedoen te word om sodoende potensiële besmetting in die omgewing van die aanleg te vermy. So lui ’n inligtingstuk oor listeria deur die Melkgehalteverbeteringsprogram by die Departement van Voedselwetenskap by die Cornell-universiteit in New York.

Hoe word dit oorgedra?

Listeriose is ’n infeksie wat gewoonlik veroorsaak word deur kos te eet wat met die Listeria monocytogenes-bakterie besmet is. Die simptome is koors, spierpyne en ernstige versteurings van die spysverteringstelsel. Soos wat die siekte ontwikkel, kan simptome soos ’n stywe nek, verwarring, ’n verlies aan balans en stuiptrekkings voorkom. Dit is veral gevaarlik vir swanger vroue en kan lei tot listeriose miskrame, doodgebore babas, vroeë geboorte of lewensbedreigende infeksie in die pasgebore baba.

Die sterftesyfer vir listeriose is 25% wêreldwyd. Met ’n hospitalisasiesyfer van meer as 95%, word dit gereken as die derde ernstigste voedselverwante siekte in die wêreld, volgens ’n voordrag deur prof Piet Jooste van die Departement Biotegnologie en Voedseltegnologie by die Tshwane Universiteit van Tegnologie.

Prof Jooste sê Listeria-infeksies moet met antibiotika behandel word. “Hoewel die infeksie gewoonlik binne drie tot tien dae nadat besmette kos geëet is, opgemerk kan word, kan die simptome eers twee maande later verskyn.”

Voorkoms van L. monocytogenes

  1. monocytogenes is dikwels teenwoordig in rou voedsel van beide plantaardige en dierlike oorsprong, soos roumelk, rou groente, gefermenteerde vleis, rou pluimvee, rou rooivleis, asook rou en gerookte seekos. Altesaam 2 tot 6% van roumelkmonsters wat getoets is, het die organisme bevat.

Dit kom ook voor in gekookte voedsel vanweë besmetting ná verwerking, soos by deli-produkte, gekookte wors en pluimvee, gepasteuriseerde melk, kaas en roomys. Die voorkoms van L. monocytogenes is algemeen in die voedselverwerkingsomgewing, wat dus die potensiaal skep vir die besmetting van verwerkte voedsel.

Prof Jooste sê die organisme is alomteenwoordig, wat volslae uitskakeling ’n onrealistiese doelwit maak. “Beheer is gevolglik ’n praktieser benadering. Dit geskied deur aandag te gee aan die fynere detail in bestaande higiëne-strategieë, asook die monitering van die organisme se voorkoms.

“Behalwe tegnologieë soos hoëdrukverwerking en gepulseerde elektriese velde, het nuwe metodes vir die beheer van patogene en bederforganismes die afgelope jare gefokus op die gebruik van natuurlike antimikrobiese middels soos bakteriosiene en bakteriofage,” verduidelik prof Jooste.

Vleis en suiwelprodukte

Volgens die Cornell-universiteit se verslag kom Listeria-bakterieë wydverspreid in die omgewing voor. Talle diere kan die bakterieë dra sonder dat hulle siek lyk, maar steeds voedsel soos vleis en suiwelprodukte besmet. Listeria is al uit baie soorte voedsel geïsoleer, insluitend ongepasteuriseerde roumelk en voedsel wat van ongepasteuriseerde melk gemaak is, rooivleis, pluimvee, seekos, groente en vrugte.

Listeria is ’n algemene oorsaak van besmetting in die suiwelomgewing, beide op die plaas en by die verwerkingsaanleg. Op die plaas kan diere self die bron wees, maar Listeria word gewoonlik in mis en swakgefermenteerde kuilvoer aangetref. Verskeie studies het gewys dat 2 tot 8% roumelkmonsters wat getoets is, Listeria-bakterieë bevat het. Listeria word in ’n suiwelaanleg meestal in klam omgewings of gebiede met staande water of melkreste, insluitende afvoerpype, vloere, verkoelers, vervoerbande en wasplekke, gevind.

Wanneer Listeria eers voedsel binnegedring het, groei dit. Besmetting by mense word veral veroorsaak deur Listeria wat in melkprodukte soos roumelk, sagte kase van roumelk, deli-vleis en worsbroodjies gegroei het. Aangesien die siekte gewoonlik eers etlike weke nadat besmette voedsel geëet is ’n aanvang neem, is dit dikwels moeilik om die oorsprong te bepaal.

Hoewel die meeste gesonde mense nie ernstig siek word nie, het sekere groepe mense ’n hoër risiko vir ernstige komplikasies. Mense met ’n hoër risiko is swanger vroue, pasgebore babas, bejaardes en mense met verswakte immuunstelsels vanweë kroniese siektes of die behandeling van siektes soos vigs en kanker.

Pasteurisasie van melk

Prof Jooste sê die pasteurisasie van melk vernietig Listeria doeltreffend. “Besmetting kan egter ná pasteurisasie wéér in die verwerkingsaanleg plaasvind. Listeria kan by verkoelingstemperature groei, wat beteken dat selfs baie lae vlakke van Listeria in verwerkte suiwelprodukte tot gevaarlike vlakke kan vermenigvuldig, ondanks behoorlike verkoeling. ’n Behoorlike sanitasieprogram en goeie higiëne-praktyke is noodsaaklik in voedselverwerking en hanteringsgebiede.

“Navorsers wat op die besmettingsrisiko’s by voedselhantering, berging en verwerking gefokus het, het gevind dat verwerkingstoerusting soos massatenks, verkoelers, tafelblaaie en vervoerbande, asook afvoerpype, vloere en bergingsgebiede almal besmetting kan veroorsaak. Listeria kan van verwerkingstoerusting en tafelblaaie na voedselprodukte versprei deur die ventilasiestelsel, deur ’n gespat wanneer met hoë-druk tuinslange skoongemaak word, asook deur werkers.

“Voedselveiligheidswetgewing is ontwerp om die veiligheid en gehalte van suiwelprodukte te beskerm. Dit is dus van kardinale belang om hierdie regulasies na te kom. Melkverwerkers moet ook daarop fokus om Listeria-besmetting in die verwerkingsproses te voorkom, asook kruisbesoedeling na gepasteuriseerde produkte.”

Belangrike wenke

Die volgende belangrike voorkomingstappe word aanbeveel:

  • Biosekuriteit: Beperk toegang tot die melkstal en verwerkingsgebied. Nie almal wat op die plaas is, insluitende besoekers en veldwerkers, behoort in die verwerkingsgebied van ’n melkaanleg toegelaat te word nie aangesien hulle besmetting deur hul skoene en klere kan veroorsaak.
  • Goedgeboude geriewe: Die vloere moet ’n afwaartse helling na die afvoerpype toon sodat daar geen plasse water of melk is nie. Die vloere en mure moet glad en maklik wees om skoon te maak, aangesien krake en kuipe plekke is waar bakterieë soos Listeria geneig is om te groei. Afvoerpype moet vryvloeiend wees.
  • Skei toerusting: Hou alle borsels en toerusting wat gebruik word om die omgewing skoon te maak, apart van borsels of toerusting wat in kontak kom met melk of suiwelvoedselprodukte. Borsels, moppe en skoonmaaktoerusting wat vir die vloere en afvoerpype gebruik word, moet slegs vir dié doel aangewend word.
  • Vermy ’n gespat en bespuiting: Dit is veral belangrik in areas waar melk geberg en verpak word. ’n Gespat en bespuiting versprei bakteriële patogene wat veilige voedselprodukte en bestanddele kan besmet. Vermy kruisbesoedeling, veral van roumelk na gepasteuriseerde melk en verwerkte voedselprodukte. Skei roumelk-hanteringsgebiede en -toerusting (bv. borsels, emmers/houers, gereedskap, pype en tenks) van gebiede en toerusting wat vir gepasteuriseerde produkte gebruik word.
  • Voorkom kruiskontak: Verwerkers op die plaas moet beperkings en prosedures instel wat kruiskontak tussen die melkplaas-omgewing en melkstal met die melkopbergingsgebied en verwerkingsomgewing voorkom (beperkte toegang, goeie higiëne, skoon klere en skoene).
  • Toetse: Toets jou geriewe vir Listeria en ander voedseloordraagbare patogene. Stel ’n plan in werking vir opvolgaksies as die monsters positief toets.
  • Skoonmaak- en ontsmetting: Ontwikkel ’n skoonmaakplan vir alles, insluitende toerusting (melkmasjiene, pyplyne, wasbakke, emmers ens.), gereedskap, tafels, die aanleg en verkoelingsgeriewe se vloere en mure, afvoerpype en pype se buitekante.
  • Daaglikse prosedures: Sorg vir daaglikse skoonmaak, ontsmetting en onderhoud van alle melkverwerking-, bergings- en verpakkingstoerusting en kamers. ’n Groot aantal Listeria-bakterieë kan in melkkonsentrate in filters en afskeiers/tenks voorkom. Vermy handkontak met toerusting en gereedskap-oppervlakke wat skoongemaak en ontsmet is.
  • Hou rekord: Hou ’n kaart of kontrolelys byderhand wat werkers moet teken om aan te dui dat die skoonmaak en ontsmetting volgens skedule gedoen is.
  • Vermy hoë-druk tuinslange: Die gebruik van hoë-druk tuinslange om afvoerpype op die vloer, wat een van die algemeenste gebiede is waar Listeria gevind word, skoon te maak, moet liefs vermy word. Die waterdruk, spat en bespuiting veroorsaak dat Listeria, asook ander bakteriese patogene, na ander plekke versprei.
  • Opleiding: Verskaf voldoende opleiding en leiding aan alle werkers wat persoonlike gesondheid en higiëne betref, deur goeie verwerkingspraktyke en aanleg-ontsmettingsprosedures te leer.

Standaarde vir voedselveiligheid

Prof Jooste sê aangesien die Suid-Afrikaanse Wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels, 1972 (Wet 54 van 1972) nie na Listeria verwys nie, het die meeste toonaangewende rolspelers in Suid-Afrika hul eie voedselveiligheidstandaarde en ouditprotokolle ontwikkel.

“Hierdie standaarde is gegrond op die nasionale wetlike vereistes, soos Regulasie R692, wat mikrobiologiese standaarde vir voedsel en verwante sake reguleer, sowel as die vereiste programme wat deur die nasionale standaarde van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde voorgeskryf word. Ondernemings wat uitvoer, gebruik ook die tersaaklike wetgewing in die land waarheen hulle uitvoer.

“Die Suiwelstandaard-agentskap het riglyne in sy Kodes van Praktyk wat verband hou met L. monocytogenes in roumelk vir finale verbruik, gepasteuriseerde melk, UHT-melk, room en gesoute botter,” sê hy. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel prof Piet Jooste by 082 806 8589 of stuur ’n epos aan pjooste@telkomsa.net.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY