Dr. Theo de Jager saam met Lourika Vlietsra en Mark Fish wat die Game of Stars-projek bekendgestel het.

ʼn Heel nuwe vorm van sokker gaan in Limpopo ingespan word om verhoudinge op plase te verbeter, nuwe hoop vir plaaswerkers en die jeug te skep, hul lewensvaardighede te ontwikkel en nuwe spelers met talent vir Suid-Afrikaanse sokker op plase en op die platteland te identifiseer.

Die unieke inisiatief het op 13 Februarie afgeskop toe boere van Limpopo en die Mark Fish-stigting saamgespan het om die Game of Stars-projek van stapel te stuur. ʼn Groot groep belanghebbendes in die landbouwaardeketting, wat die georganiseerde landbou, banke, agri-besighede, versekeringsgroepe, die SA Polisiediens en vriende van die landbou ingesluit het, het saamgestem dat dit maar net die wegspring van ʼn wedloop teen ʼn verskeidenheid uitdagings is.

Willem van Jaarsveld, hoofbestuurder van Agri-Limpopo het tydens die bekendstelling van die projek gesê ʼn aanvanklike opname onder boere in die streek het gewys dat daar minstens 80 bestaande sokkerspanne op plase is en dat dit glad nie onmoontlik is dat die getal kan verdubbel voordat die finale rondtes van dié kompetisie in Augustus 2018 gespeel word.

Volgens Mark Fish, ʼn internasionaal-bekende sokkerspeler van Suid-Afrika, sal die kompetisie op ʼn uitklopgrondslag beslis word in ʼn vorm wat nouer ooreenstem met sewesrugby en T20-krieket. Dit sal bekend staan as ‘Fast Footies’ oftewel Vlugtige Voete.

Die spanne sal net 20 minute aan ʼn kant speel en daar sal periodes van vyf minute se kragspel (power play) wees wat deur die onderskeie kapteins aangevra sal word. Tydens die kragspel sal die teenstanders drie van sy spelers van die veld moet haal. Geslaagde doelskoppe van buite die 18 meter-sirkel sal as twee doele tel en met strafskoppe sal daar geen doelwagter in die doelhok wees nie. Die skop sal net as ʼn doel tel as die dwarsbalk van die doelhok met die bal raakgeskop word.

Mark sê die oogmerk met dié sokker is om spelers weer te leer om doele van ver af te skop en die spel aantrekliker en vinniger te maak om weer toeskouers na die velde te lok. Afrigters, skeidsregters, spanbestuurders en spelers op plase en in die platteland sal opgelei word. “Hoewel ons gaan sokker speel, is ons ingestel op die mense en gesinne wat by die spel betrokke is. Elke mens verdien die geleentheid om in die beste mens moontlik te ontwikkel. Dit is ons doelwit,” sê hy

Belangrik vir landbou

Leon Borcherds, voorsitter, Willem van Jaarsveld, hoofbestuurder en Piet Engelbrecht, ondervoorsitter van Agri-Limpopo.

Willem het gesê om sulke inisiatiewe te laat slaag, is samewerking van alle belanghebbendes in die landbou oor die grense van organisasies en maatskappye nodig sonder dat die integriteit van die onderskeie deelnemers en hul verbintenisse in gedrang kom. Die Agri-tafel-byeenkoms waarop die nuwe inisiatief afgeskop is, is ʼn poging om almal wat vir landbou omgee, saam te trek en die tafel vir noue en verantwoordelike samewerking te dek.

Landbou is een van die belangrike dryfvere van die ekonomie van Limpopo, maar as verskillende stemme uit die bedryf kom om ʼn gunstige omgewing vir die belangrike bedryf te skep, word dit soms gebruik as verskoning om voete te sleep en strem dit die kanse op welslae.

Dit het gelei tot die stigting van die Landbou-forum vir Limpopo waar almal saam op ʼn kompromis-grondslag besluit oor watter weg ingeslaan moet word om die hele landbou te dien. Hieruit het al ʼn veiligheids- en dieregesondheidsforum ontstaan wat groot welslae behaal. Hy voorsien nog sulke forums gaan tot stand kom.

Dr Theo de Jager, boer van Limpopo en voorsitter van die World Farmers Organisation, het gesê die uitdagings van veiligheid, klimaatsverandering, ens. is so oud soos die mensdom self. Hy het verwys na die oorloë waarin ons voorgeslagte geveg het en gesê die oorlog waarin die hedendaagse geslag betrokke is, is die een teen armoede en hongersnood.

Dit is ironies dat dit so moet wees op die vasteland met die grootste geleenthede, die beste hulpbronne, met van die wêreld se beste landbougrond, water, klimaat en mense. Wat kortkom, is beleggers.

Dit kan net gebeur as die politieke omgewing gunstig is vir beleggers, want kapitaal is so skugter soos ʼn koedoe. Die grootste gevaar is egter as boere hul vertroue verloor en ophou om te belê.

In die wandelgange van die politiek word geraas gemaak oor grondonteiening en ander kwelsake, maar daaragter sit die draak van armoede.

Die draak moet doodgemaak en sy hart uitgesny word. Die ware kwessies moet aandag kry. Dit kan pynlik wees, maar dit kan slaag. Dit het al ná die oorloë van die verlede waarin ons voorgeslagte betrokke was, gewerk. Dit vra net ʼn bietjie tyd en toewyding sodat ons dit kan doen wat ons die beste doen – om welvaart uit die grond te skep, het hy gesê. – Andries Gouws, AgriOrbit

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY