Estimated reading time: 3 minutes
JJ de Nysschen van Letsitele is Limpopo se Jongboer van die Jaar vir 2023. Diversifisering is ’n kenmerk van die boerdery waar hy en sy pa, Koos, daagliks saamwerk om te verseker dat hul uitmuntende boerdery volhoubaar bly.
Jeandré van den Berg, van Watervalsrivier in die omgewing van Ohrigstad, was die naaswenner. Hy boer met sitrus, pluimvee, wild en het ook nou met skape begin boer. Hy sê uitdagings skrik hom nie af nie, maar spoor hom eerder tot hoër hoogtes aan.
De Nysschen is tydens ʼn spoggeleentheid deur die kongres van Agri-Limpopo op Nylstroom gekroon. Hy sê hulle produseer sitrusvrugte, braaihoenders, beeste en wild in die omgewing van Letsitele en Bandelierskop. Hy is ʼn boorling van Letsitele en het in Pretoria gaan studeer voordat hy in 2010 by die familieboerdery aangesluit het.
Lees meer oor die 2023 Agri Wes-Kaap Jongboer van die Jaar.
In 2015 is die boerdery verdeel en het hy en sy pa die JJ de Nysschen-boerdery gevestig op die plase Junction, Delhi en Hornby waar hulle sitrus en beeste produseer. Hulle verbou suurlemoene en lemoene op sowat 250ha grond en sedert 2020 het De Nysschen begin om braaihoenders te produseer. Daar is ses hoenderhuise waarin sowat 300 000 per jaar geproduseer word. Hy rig nou nog ses hoenderhuise op wat teen die einde van die jaar in produksie sal kom.
Op die plaas Vluchtkraal in die omgewing van Bandelierskop produseer hulle wild en word ʼn ou buffelkamp ook met beeste benut.
De Nysschen se leuse is dat ’n mens se planne net nie moet opraak nie. Hy is in 2015 met sy skoolliefde, Freda, getroud en hulle het twee seuns, Cobus en Pienaar.
Hannes Wolvaardt, wat in 2022 die provinsie en Suid-Afrika se Jongboer van die Jaar was, het tydens die geleentheid gesê die toekenning is nie net ’n eer en erkenning vir die harde werk en pogings wat ingesit word nie, maar beteken oneindig baie om ’n mens te laat groei en met nuwe oë na die uitdagings van boerdery te laat kyk.
Lees meer oor Tru-Cape se produksie in Langkloof hier.
“Die beoordelaars wat jou plaas besoek daag jou uit om standpunt in te neem oor dikwels moeilike aspekte van jou eie boerdery wat jou later in staat stel om met nuwe oë na uitdagings te kyk.” Die vordering wat ek as gevolg van dié toekenning gemaak het, is vir my byna onwerklik,” het hy gesê. – Andries Gouws, Plaas Media