Estimated reading time: 4 minutes
Die lewer speel ‘n baie belangike rol in ‘n verskeidenheid van liggaamsfunksies, en ‘n gesonde lewer is tot ‘n groot mate die sleutel tot winsgewende rooivleisproduksie. So het dr Andy Hentzen van die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Veeartsenykunde op Onderstepoort tydens ‘n boeredag op Harrismith, gesê. Die dag is deur Platberg Dieregesondheid in samewerking met Virbac aangebied, en lewergesondheid en die voorkoming en bestuur van lewerslak is bespreek. Dr Hentzen was die hoofspreker, gevolg deur Andrew Adams, Virbac se verteenwoordiger in KwaZulu-Natal.
Dr Hentzen het gesê dat lewerslak maar een van talle oorsake is wat lewergesondheid kan benadeel. Dit hou egter ‘n bedreiging in wat nie onderskat moet word nie. “Dis van kardinale belang dat veeboere ‘n studie maak van lewerslak en hoe dit bestuur moet word, sodat potensiële lewerskade in hulle vee voorkom kan word.
“Die lewer kan van lewerslakskade herstel; tog maak die vorming van bindweefsel dat die lewer nie weer sy volle funksie herwin nie. Dis net so belangrik dat boere ander oorsake van lewerskade, soos vergiftiging, net so goed ken en dit ook so ver as moontlik vermy’’.
Daar is ‘n baie sterk verband tussen ‘n gesonde lewer en die optimale opname en gebruik van mikrominerale in die dier, het Hentzen bygevoeg.
Belangrikheid van mikrominerale
“Die lewer berg baie mikrominerale en stel dit vry soos nodig. Een van die belangrikste rolle van mikrominerale in die lewer, is om die dier se immuunstelsel in stand te hou. As die lewer se vermoë om hierdie mikrominerale vry te stel dus ingeperk word, het dit ‘n direkte negatiewe effek op die dier se immuunstelsel. Dit maak die dier dus baie vatbaar vir siektes en infeksie.”
Hoewel dit belangrik is dat vee voortdurend genoeg mikrominerale inkry, is daar tye in die produksiesiklus waar die dier meer van hierdie minerale benodig. Dit moet dan strategies aangevul word. Voorbeelde van sulke strategiese tye is by koeie en ooie met kalwing, en by bulle en ramme tydens die dekseisoen. Verder kan siektetoestande ook ‘n groter vraag na mikrominerale skep. Dis in hierdie tye dat die ekstra toediening van mikrominerale baie belangrik is.
Strategieë om lewerslak te bestuur
Daar is verskillende benaderings wat in kombinasie gebruik kan word om die lewerslakgevaar in ‘n kudde te verlaag. Die eerste is strategiese dosering van ‘n middel wat lewerslak in die dier doodmaak. Maar hierbenewens, sê dr Hentzen, moet diere so ver as moontlik van vleiagtige dele met staande water weggehou word waar die slak, wat ‘n tussengasheer van die lewerslak is, kan oorleef.
“As dit onprakties is om sulke nat gebiede af te kamp en die diere daaruit te hou, is ‘n ander strategie om daardie dele slegs te bewei direk nadat die diere met ‘n lewerslakmiddel gedoseer is. Terwyl die diere die middel in hulle sisteme het, tree hulle as ‘stofsuiers’ op deur die lewerslaklarwes in te neem, waarna dit in die verteringstelsel vrek.”
Strategiese brand is ook ‘n beheerstrategie wat goeie sukses het. ‘n Ander beheerstrategie wat tans sterk na vore kom, is hoëdrukbeweiding waar ‘n groot aantal diere vir ’n kort tyd op ‘n klein area gekonsentreer word. Aan die een kant word die impak van die lewerslak verklein deur die groot hoeveelheid diere waartussen die larwes verdeel word. Aan die ander kant is die grondslag van hoëdrukbeweiding die lang rusperiode wat daarop volg. In die proses word die lewensiklus van die slak onderbreek.
Lees meer oor biosekuriteit op die plaas.
In ‘n neutedop
Volgens dr Henzen berus lewerslakbeheer op ‘n paar beginsels:
- Kamp dele met staande water af of beheer toegang tot daardie water soveel as moontlik.
- Doseer strategies aan die einde van Januarie, Mei en Augustus met ‘n middel wat beide die volwasse en onvolwasse stadium van lewerslak teiken.
- Ondersteun die lewer met multivitamiene, vitamien B Plus en B-kompleks, asook met mikrominerale.
Vir meer inligting, skakel dr Andy Hentzen by 082 372 0307. – Izak Hofmeyr, Plaas Media