Leeujag-pakket veroorsaak herrie in Noord-Kaap

Estimated reading time: 3 minutes

’n Afrikaanse privaatskool, Futurum Akademie, in die Jan Kempdorp-omgewing het opslae in die nuus gemaak oor ’n voorgenome jag- en wildveiling. Die kans om ’n leeujag los te slaan het die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) laat kapsie maak.

Jacques Peacock, woordvoerder van die NDBV, sê die vereniging is gekant teen enige vorm van jag vir vermaak of rekreasie en is geskok dat die pakket deur ’n skool aangebied word. Hy beklemtoon dat dit veral die leeujag is waarteen die NDBV gekant is en dat die vereniging al vir meer as twee dekades stelling inneem teen leeus in aanhouding.

Leeujag van die baan

In ’n gesprek met Futurum se skoolhoof, Rudi Meyer, noem hy dat die NDBV melding maak van buffels wat ook gejag sal word, maar volgens hom was buffels op geen stadium deel van die jagpakkette nie.

Hy sê die skool het die leeujag van die jagpakketlys afgehaal, maar die wildveiling gaan steeds voort. Biltong-jagpakkette is wel ingesluit met die oog op voornemende jagters. Die geleentheid word op 29 Februarie 2024 aangebied.

Lees meer oor die genetiese diversiteit van leeus hier.

Jag is niks vreemd vir leerders

Meyer sê vir die meeste van Futurum se leerders is jag geen nuutjie nie. Hulle kom van plase af en is van kleins af blootgestel daaraan. Die feit dat die NDBV die idee van jagpakkette afmaak as iets wat onvanpas is vir ’n skool se fondsinsamelingsprojek strook nie met die kinders se verwysingsraamwerk nie.

“Jag leer kinders meer oor ekosisteme en veral hoe om die natuur te bewaar en te bestuur. Selfs die slagproses na ’n jagtog is vir die meeste kinders niks vreemds nie en hulle kry geleentheid om te leer van die dier se organe en die belangrikheid van selfonderhouding,” meen Meyer.

Leeujag is wettig

Die organiseerder van die projek, Dirk van Wyk, is ’n ou hand as dit kom by fondsinsamelings vir skole en het in die verlede groot sukses behaal. Hy sê daar is niks vreemds of onwettig aan die idee van ’n leeujag nie. Die jag sou op ’n plaas aangebied word wat as ’n leeujagplaas geregistreer is. Die permitte is in orde en die fasiliteite is beskikbaar.

“In Suid-Afrika is leeujag 100% wettig en daar is geen rede waarom dit nie kan plaasvind nie. As gevolg van die onnodige bohaai is die leeujag egter van die lys jagpakkette afgehaal, maar die jag- en wildsveilings gaan steeds voort op 29 Februarie,” verduidelik hy.   

Volgens Meyer het die fondsinsameling reeds heelwat belangstelling gelok vanaf voornemende kopers wat aan die veiling wil deelneem.

Hy sê so ’n fondsinsameling is noodsaaklik vir Futurum Akademie, ’n privaatskool met ’n Christelike grondslag wat goeie onderrig in Afrikaans nastreef. Die skool word nie deur die staat gesubsidieer nie en moet finansieel onafhanklik funksioneer. Die fondse wat met die veiling ingesamel word, sal aangewend word om die skoolterrein te ontwikkel asook vir salarisse, toerusting, ’n koshuis, sonkrag ensovoorts. Die skool beplan verskeie ander fondsinsamelings deur die loop van die jaar wat ’n gholfdag, ’n pretstap en manne-aand insluit.

Vir meer inligting, skakel Rudi Meyer op 078 453 1245, of kontak Dirk van Wyk by 072 399 0611 of Jacques Peacock van die NDBV by 082 828 0337. – Koos du Pisanie, Plaas Media