Langspruit-landgoed: Vertakkings wat saam werk

Share This Post

Estimated reading time: 7 minutes

  • Gert du Preez het in 1995 besluit om by sy pa, JT (Koos) du Preez, op die Langspruit-landgoed buite Standerton aan te sluit om praktiese en bestuursvaardighede aan te leer sodat die boerdery suksesvol kon voortbestaan.
  • Hulle gebruik hul eie mielies, kuilvoer en hooi in die rantsoen en koop die HPK in.
  • Wat die koeie betref, sê hy, word bulgroepe uit een ouer stoetbul en ’n paar jong veldbulle saamgestel.
  • Langspruit het net een teelseisoen.
  • Lekke word nie in lekbakke gegooi nie, maar in lang strepe direk op die gras uitgestrooi.

Nadat hy sy honneursgraad in Biokinetika aan die Universiteit van Pretoria verwerf het, het Gert du Preez in 1995 besluit om nie in sy studieveld te werk nie maar eerder by sy pa, JT (Koos) du Preez, op die Langspruit-landgoed buite Standerton aan te sluit om praktiese en bestuursvaardighede aan te leer sodat die boerdery suksesvol kon voortbestaan.

“My pa was die tweede geslag Du Preez wat hier geboer het. Hy het by my oupa en ouma, Gert en Dinah du Preez, oorgeneem en die belange aansienlik uitgebrei. Ek was gelukkig om vir ’n goeie sewe jaar die verskillende aspekte van die boerdery onder sy bekwame en wakende oog te leer. Ek het op grondvlak in elke vertakking gewerk om die tegniese aspekte onder die knie te kry. In 2002 het my pa teruggestaan en het ek die bestuur van die boerdery oorgeneem.”

Vandag bestaan Langspruit-landgoed uit akkerbou (mielies, sojabone asook graansorghum in wisselbou), ’n kommersiële beesvertakking met suiwer Drakensbergers, ’n uitgebreide beesvoerkraal, kontrakgroei van braaikuikens vir Astral Foods, asook hooi- en kuilvoerproduksie. Langspruit het ook ’n teelplaas vir wild waar witrenosters, buffels, swartwitpense en blesbokke geteel word.

Lees meer oor Janvos Landgoed laat reg geskied aan presisie-teling.

Voerkraal voeg waarde toe

Hoewel die winsgewendheid van ’n voerkraal baie wisselvallig kan wees, bly dit oor tyd ’n goeie manier om waarde toe te voeg, sê Gert. Hulle gebruik hul eie mielies, kuilvoer en hooi in die rantsoen en koop die HPK in. Verder koop hulle ook speenkalwers om die operasie op kapasiteit te hou.

“Die een groot voordeel van die voerkraal en die braaikuikenhuise is dat ons baie mis tot ons beskikking het. Ons maak kompos op grootmaat en werk dit in ons lande in. Waar ons aanvanklik die kompos reëlmatig oor die lande uitgestrooi het, is ons nou waar ons, soos met kalktoediening, op voorskrif werk volgens grondchemiekaarte.” Langspruit doen elke jaar grondontledings en bepaal dan hoeveel kalk en kompos elke deel van die lande moet kry.

“Die kompos is werklik van onskatbare waarde. Dit dra daadwerklik by tot die stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K) op die lande om die grondvrugbaarheid te verbeter. Verder dra dit ruim by tot die opbou van organiese materiaal in die grond. As ons vier ton goedgemaakte kompos/ha uitstrooi, is die bydrae volgens die jongste ontleding 88N, 26P en 54K.

“Daarmee saam wys ons grondchemiekaarte duidelik hoe ons grond verbeter en ons opbrengste verhoog. Ek kan nie presies kwantifiseer hoeveel die kompos tot ons hoër opbrengste bydra nie, omdat soveel faktore ’n rol speel. Ek is wel oortuig daarvan dat die kompos ’n wesenlike bydrae lewer.”

Suiwer Drakensbergers

Oupa Gert het destyds al met Drakensbergers geboer, en pa Koos het daarmee voortgegaan en uitgebrei, sê Gert. “Sedert die 1970’s het ons ’n suiwer Drakensbergerkudde. Ons het sedertdien nooit enige vroulike diere ingekoop nie en die kudde net met eie aanteel uitgebrei. Ons koop wel stoetbulle in vir diversiteit.”

Omdat hulle ook speenkalwers van ander rasse en tipes inkoop, is hulle in ’n goeie posisie om die Drakensberger se prestasie in die voerkraal te vergelyk, maar daar is nie wesenlike verskille nie.

“Dis natuurlik so dat ‘n mens nie die invloed van basterkrag van kruisteling kan ignoreer nie. My ervaring in ons voerkraal is egter dat die kruisdiere nie so noemenswaardig beter presteer dat ek gedwing voel om self ’n kruisteelprogram te begin nie. Die ekstra bestuursuitdaging gemeet teen die beter prestasie, regverdig na my mening nie so ’n stap nie. Ons wil ook nie die suiwer Drakensbergerkoei se uitstekende moederlyn-eienskappe verloor nie.”

Die Drakensbergerkoei is ’n uitstekende moederlyn met goeie melk en vrugbaarheid, en dus ’n baie goeie opsie vir ’n kruisteelprogram. Die prestasie wat hy egter uit sy suiwer Drakensbergers kry staan nie soveel terug dat hy kruisteling sal oorweeg nie.

Lang teelseisoen

Langspruit het net een teelseisoen, verduidelik Frans Kasselman, operasionele bestuurder verantwoordelik vir die beeskudde en braaikuikens. “Die teelseisoen vir ons koeie begin op 21 November en duur tot 21 Februarie. Dit is later as die meeste ander produsente in die omgewing, maar ons doen dit so om voordeel te trek uit die groeiseisoen. Die koeie is dan in ’n opwaartse kondisiekurwe, wat besetting verbeter.

“Die verse kom vanaf 1 Desember vir 63 dae by die bulle. Hierdie korter dekseisoen dien as ‘n eerste vrugbaarheidstoets. Die verse kry ons beste bulle – die helfte van die stoetbulle wat ons ingekoop het en die ander helfte ons eie bulle wat in die veldbultoets presteer het.”

Wat die koeie betref, sê hy, word bulgroepe uit een ouer stoetbul en ’n paar jong veldbulle saamgestel. “Ons hou daarvan om reeds ons twee jaar oue bulletjies te gebruik, en die plan is dat ons hulle net vir een seisoen sal gebruik voor hulle voerkraal toe gaan.

“Ons het egter nog nie heeltemal genoeg veldbulle nie, so van die bulletjies word vir meer as een seisoen gebruik, afhangend van hoeveel nuwe bulle elke jaar bykom, en hoeveel bulle ons vir die teelseisoen nodig het. Die ingekoopte stoetbulle bly egter op die plaas vir so lank as wat hulle produktief is. Ons toets ons bulle drie keer per jaar vir trigomoniase en ’n maand voor die teelseisoen vir vrugbaarheid.”

Wat dragtigheidsyfers betref, is die gemiddelde besetting van hul verse oor die afgelope vyf jaar 90%. Daardie syfer val egter tot 75% vir eerstekalfverse. Die ouer koeie se besettingsyfer is gemiddeld 85%.

Ingekoopte stoetbulle bly in die kudde vir so lank as wat hulle produktief is.

Seleksie is streng

Jong bulletjies word baie streng geselekteer, sê Frans. Die eerste seleksie is in die kraal tydens speen waar die vervangingsverse en -bulle uitgesoek word. Daarna identifiseer top-stoettelers vir ons die topdiere – bulletjies en verse. Die bulle gaan dan vanaf November deur die veldbultoets en die verse word bestuur om optimaal te ontwikkel sodat hulle op twee jaar gedek kan word.

“Na die afsluiting van die veldbultoets in Mei bereken dr Hannes Dreyer van Veldbul en Veldram SA elke bul se indekse en op grond hiervan selekteer ons die bulle wat ons die volgende dekseisoen gaan gebruik. Die res gaan voerkraal toe.

“Die bulletjies word dus vier keer aan seleksie blootgestel – by speen, in die veldbultoets, by visuele keuring en laastens tydens die vrugbaarheidstoets. Van die 153 bulletjies wat verlede jaar in die veldbultoets was, is slegs 46 uiteindelik geselekteer vir gebruik as teelbulle.”

Hulle is baie streng oor seleksie vir vrugbaarheid by hul verse. Dit is waarom hulle ’n verkorte dekseisoen van drie siklusse het. “Verse wat nie in daardie dekseisoen dragtig raak nie gaan onmiddellik voerkraal toe. Ons gee net die eerstekalfverse ’n tweede kans want dis die moeilikste groep om dragtig te kry.”

’n Groep verse wat die eerste keer by die bul loop.

Lekke op die gras

Lekke word nie in lekbakke gegooi nie, maar in lang strepe direk op die gras uitgestrooi. Elke dier het onmiddellik toegang daartoe en dominante diere hou nie die minder dominantes weg nie. Samedromming by lekbakke veroorsaak kaal kolle in die veld en die lang strepe lek op die gras verlaag die impak op die veld dramaties.

“Ons wissel ook telkens die plek waar dit uitgegooi word,” verduidelik Frans. “Ons gee drie keer per week lek – Maandag, Woensdag en Vrydag – en werk op grond van die aantal diere in die trop uit hoeveel kilogram lek gegee moet word.”

Hooibale wat in die winter gevoer word, word sorgvuldig bestuur. As bale nie heeltemal opgevreet word nie, word die oorblywende hooi opgetel en in die maak van kompos gebruik. Die gevolg is dat die dooie kolle in die somer kans kry om te herstel. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Gert du Preez by 082 449 5263 of Frans Kasselman by 082 452 1491.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutesPlaashekpryse/Farm gate pricesDie jongste vleispryse...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 39 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minuteJohan van den Berg is...

Ontwikkel ’n skerp oog vir rasstandaarde en die metodiek van kleinveebeoordeling

Estimated reading time: 7 minutesDie vertoning en beoordeling van...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutesPathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutesRabbit meat is not as...