Dr Mogale Sebopetsa, hoof van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, Audrey September, Landbouwerker van die Jaar, en Pieter van Zyl, algemene bestuurder: verkryging, Shoprite Freshmark.

Estimated reading time: 3 minutes

Die algehele wenner van die 2021 Wes-Kaapse Prestige Agri-toekennings is Audrey September, ’n werknemer van JD Kirsten Boerdery op die plaas Uitkyk naby die Paarl. Sy is as die wenner in die kategorie Junior Bestuur, die streekswenner vir die Bergrivier-streek, en as 2021 se Landbouwerker van die Jaar aangewys.

Die kompetisie word deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou aangebied. Shoprite is die hoofborg. Altesame 624 werkers uit elf landboustreke in die Wes-Kaap het vanjaar in elf kategorieë teen mekaar meegeding.

Die toekennings is 13 November 2021 tydens ’n spoggeleentheid by die Protea Hotel – Marriot in Technopark naby Stellenbosch gemaak. Die hoogtepunt van die aand was die aanwys van die Wes-Kaapse Landbouwerker van die Jaar.

Audrey September sê dit is vir haar ’n groot eer om so ’n prestige-toekenning te ontvang.

Audrey het ná die geleentheid gesê dit is vir haar as landbouwerker ’n groot eer om so ’n prestige-toekenning te ontvang. “Dit beteken baie vir my, want ek weet dit gaan baie deure vir my oopmaak en ek gaan nuwe hoogtes bereik.”

Sy kom al ’n lang pad met die kompetisie. In 2016 het sy vir die eerste keer as algemene werker ingeskryf, maar geen prys ontvang nie. In 2018 het sy in die Voorvrou-kategorie ingeskryf en is sy as die naaswenner aangewys. In 2019 het sy weer in die Voorvrou-kategorie ingeskryf en is sy as die wenner op streekvlak (Bergrivier) en op provinsiale vlak aangewys.

Audrey is getroud en sê haar man en twee kinders is haar motivering om beter te doen in haar werk. “My seun (16) se droom is om eendag verder te gaan studeer vir ’n graad in landbou. Ek is sy mentor en dit beteken baie dat ek die toekenning gekry het, want dit is iets wat hom sal laat uitsien om in die landbou te werk.”

Vanjaar het sy in die kategorie Junior Bestuur ingeskryf en is sy as wenner op provinsiale vlak en ook as Wes-Kaapse Landbouwerker van die Jaar vir 2021 aangewys.

Sy sê enige werk of aktiwiteit wat jy doen, moet jy tot die beste van jou vermoë doen. “Jy sal die vrugte pluk. Jy moet nooit ophou droom nie. As jy jou hand opsteek, sal landbou baie deure vir jou oopmaak. Landbou het altyd plek vir mense wat wil leer en wat bereid is om te werk.”

Hoor wat die Landbouwerker van die Jaar oor haar toekenning gesê het op Plaas TV:

Audrey se droom is om eendag ’n bietjie hoër in die landbou te vorder waar sy jong mense kan help om hul droom in landbou te volg. “Ek wil die jong mense help om iets in landbou te bereik, want hulle is die bedryf se toekoms,” het sy gesê. – Hugo Lochner, AgriOrbit