Estimated reading time: 4 minutes

Landbou, een van die oudste en mees fundamentele beroepsektore van die mensdom, is nog altyd aan risiko’s soos brande, vloede, droogte, ryp, hael en sprinkaanplae blootgestel.

Read it in English.

“Klimaatsverandering, ’n toename in die frekwensie van rampe en uiterste weersomstandighede, toenemende kuberaanvalle, veranderende verbruikersgedrag en voedselveiligheid, speel egter vandag ’n bykomende en bepalende rol in landbourisikobestuur,” sê Liza de Beer van Old Mutual Insure: Kleinhandelbesigheid.

Dit, tesame met die Covid-19-pandemie en die verhoogde druk op produsente en die landboubedryf om voedsel aan ’n groeiende wêreldbevolking te voorsien, vereis verskerpte bestuur van hierdie risiko’s in ’n veranderende omgewing.

“Ons glo ’n sterk fokus, nie net op risikobestuur nie, maar ook op slim landboutegnologie, sal die bedryf kan help om baie van hierdie uitdagings te oorkom,” voeg sy by.

Blokkettingtegnologie in landbou

“Daar is tans ’n groter fokus op voorsieningsketting- en voedselstelsel-kwesbaarheid. Ons sien ’n toename in die gebruik van blokkettingtegnologie wat produsente en die bedryf in staat stel om ’n veilige, betroubare en deursigtige blik op die voorsieningsketting te kry,” sê Liza.

Dit is ‘n belangrike ontwikkeling, aangesien verbruikers deesdae presies wil weet waar hul kos vandaan kom en hoe en waar dit geproduseer, geberg en verskeep is. Hierdie naspeurbaarheid is handig vir produknaspeuring, vraag- en aanbodbestuur, en om aan die bedryf se gehaltestandaarde te voldoen.

Robotte maak boerdery makliker

Die tegnologie wat vir hommeltuie, sowel as lug- en satellietbeelde gebruik word, bestaan ​​al ‘n geruime tyd, en dit ontwikkel steeds voort. Satellietbeelde kan topografie, grondtoestande en watervloei redelik akkuraat weerspieël om byvoorbeeld gronderosie te bestuur.

Landbourobotte kan vir herhaaldelike take soos sortering, verpakking, onkruidbeheer, snoei, uitdunning en oes ingespan word. Vandag ontvang mense regoor die wêreld pakkies wat deur robotte afgelewer word, en produsente begin ál meer om soortgelyke tegnologie in die landbousektor te aanvaar. Daar word verwag dat landbourobotte ’n toenemende impak op veral die suiwelbedryf gaan hê.

“Ons sien reeds die verskyning van verskeie toepassings, byvoorbeeld robotte wat vrugte pluk, gewasse bespuit, onkruid verwyder, en daar word verwag dat die gebruik van landbourobotte teen 2025 viervoudig sal vermeerder.

“Die tegnologie onderskei tussen gewasse en onkruid deur van diep‑leer‑algoritmes soortgelyk aan gesigsherkenning gebruik te maak. Dit verminder die toediening van middels met soveel as 77%, wat koste bespaar en die omgewingsimpak beperk,” verduidelik Liza.

Herlewingslandbou en volhoubare boerderypraktyke

Daar word vandag sterk op herlewingslandbou gefokus, en bewaringspraktyke word al hoe meer aanvaar en toegepas. Waterbesparing sal waarskynlik in die komende jare styg, gebaseer op vorige waterskaarstes wat groot implikasies vir produsente en hul produksievlakke in sommige streke van die land gehad het.

“Die swaar reën sedert die begin van die jaar en die verwoesting wat dit veroorsaak, is nóg ʼn herinnering dat klimaatsverandering onvoorspelbare weerpatrone aandryf,” sê Liza.

Die fokus op volhoubare boerdery neem terselfdertyd ook toe. Dit sluit praktyke in wat daarop gemik is om die uitwerking van klimaatsverandering teen te werk, deur oorbewerkte grond te herstel, en lae- of geenbewerkingspraktyke toe te pas. Bewaringsbewerking en wisselbou kan ook ʼn bydrae hiertoe lewer.

“Om voedselsekerheid verder te verseker, kan ons ook vanjaar ’n toename in vertikale, binnenshuise boerderypraktyke soos hidroponika, akwaponika en aeroponika verwag, aangesien bewerkbare grond negatief deur klimaatsverandering en ander faktore geraak word.”

Slim landbou in die toekoms

Slim landbou, wat op die verhoogde kwantiteit en kwaliteit van produkte toegespits is en terselfdertyd die arbeid nodig vir produksie optimaliseer, sal produsente in staat stel om meer te doen met minder. Dit sal hulle ook help om hul bedrywighede te digitaliseer – van watertegnologie tot grondherstel en -instandhouding – asook om die omgewing vir toekomstige geslagte te beskerm.

“Die slim landbou-wêreldmark word deur beide ‘n toename in die vraag na landbouproduktiwiteit, sowel as die vinnige tegnologiese ontwikkeling regoor die wêreld gedryf, en ons sal sekerlik vanjaar ‘n verdere aanvaarding van hierdie vinnig-ontwikkelende, slim landboutegnologie sien,” sluit Liza af.

Besoek ons webwerf by www.ominsure.co.za vir inligting oor ons landbouprodukoplossings.

Hierdie artikel het ten doel om inligting te verskaf en bied nie enige advies nie. Old Mutual Insure Beperk is ’n gelisensieerde FDV en nie-lewensversekeraar.