Landbou-arbeid en arbeidswetgewing is dikwels ’n tameletjie om te bestuur en te verstaan. ’n Mens kan egter wel verseker dat arbeidswetgewing en -kwessies, en spesifiek die tref van voorsorg vir jou werknemers, nie een van die talle onsekerhede in landbou is nie.

Die Landbousektor Voorsorgfonds bied boere die afgelope 19 jaar, in samewerking met Absa, Maxi Employee Consultants, Agri SA, die TLU SA en die Landbou-werkgewersorganisasie (LWO), ’n eenvoudige manier om aan hul werkers dit te gee wat hulle toekom.

Die fonds is spesifiek gemik op werkgewers en werknemers in die landbousektor en bied doodsdekking, ongeskiktheidsdekking, begrafnisdekking en ’n aftreefonds met uitstekende groei.

Een van die fonds se langtermyn-kliënte is die Bosveld-groep, die grootste privaat sitrusverbouer in Suid-Afrika en produsent van verskeie ander gewasse. Veeplaas het by Renier Snyman, menslike hulpbronbestuurder van die Bosveld-groep, aangeklop om te hoor wat die fonds vir hul besigheid beteken.

’n Getuienis van voordele

Volgens Renier is menslike hulpbronbestuur baie belangrik vir die groep, aangesien hulle ’n paar duisend mense in diens het.

Renier sê die Bosveld-groep is aan die Landbousektor Voorsorgfonds bekendgestel tydens hul oorname van die maatskappy Golden Frontiers Citrus in 2011. “Ons het gesien hoe voordelig die fonds vir die maatskappy en hul werknemers was. ’n Ander maatskappy waarin ons ’n belang het, was ook deel van die fonds en ook daar was die voordele duidelik. Ons het besluit om met die fonds voort te gaan en dit ook uit te rol na ander werknemers in ons groep.”

Renier meen dit was ongetwyfeld ’n goeie besluit. “Ons het byvoorbeeld onlangs weer state gekry en die groei was goed weens die beleggings wat in die fonds gemaak is.”

Buiten dié goeie groei, sê Renier, is blitsige diens en die gemoedsrus wat die fonds ’n mens bied die belangrikste voordele. “Ek kan werklik getuig oor hoe vinnig eise uitbetaal word. In die meer as vyf jaar sedert ons by die fonds aangesluit het, het ons nog nooit probleme gehad nie. Verder gee die feit dat ons deel van die fonds is werklik aan ons as groep gemoedsrus oor die toekoms van ons werknemers.”

Pasmaak-voorsorg

“Dit is baie belangrik dat die fonds pasgemaakte moontlikhede bied wat by die werkgewer en werknemers se unieke behoeftes pas. Daar is verskeie vaste planne om van te kies en wat reeds wonderlike moontlikhede bied, maar ons kon steeds ’n unieke opsie vir ons groep kies.

“Wat wonderlik is, is dat die fonds se administrasie ook die buigsaamheid kan hanteer. Die administrasie was nog nooit ’n probleem nie, want dinge verloop altyd glad as alles reeds in plek is en daar is dus nie ’n ekstra administratiewe las nie,” vertel Renier.

Volgens Renier is hul werknemers se reaksie op die fonds baie goed. “Dit is veral omdat inligting baie goed aan die werknemers, die werklike kliënte van die fonds, oorgedra word. Nie net kry die lede gereeld volledige bydraestate om die stand van hul aftreefondse weer te gee nie, maar iemand word ook afgevaardig om aan die lede in hul eie taal die presiese werking van die fonds en die dekking wat dit bied, te verduidelik.”

Hy beklemtoon dat goeie kommunikasie ’n sleutelfaktor in die sukses van so ’n fonds is en dit haal ook baie druk van die werkgewer af. “Dit is iets wat die bestuur van die Landbousektor Voorsorgfonds baie goed regkry.” -Marike Brits, Veeplaas

Vir meer inligting, besoek die webtuiste www.aspf.co.za of kontak die hoofbeampte, Basie van der Merwe, per SMS by 082 766 4584.

Luister hier na ‘n onderhoud met Renier op RSG-landbou.

Volg die #LandbouVoorsorg-hutsmerk op sosiale media vir die jongste inligting oor die Landbousektor Voorsorgfonds.

Fondslitse met Raya:

Alles wat jy moet weet oor die Landbousektor Voorsorgfonds

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY