Estimated reading time: 2 minutes
Die rand het in Junie wisselvallige prestasies gelewer nadat dit aanvanklik van ‘n swak vertoning in Mei herstel het, maar later weer teen die einde van die maand verswak het. Die rand het teen onderskeidelik R18,80 en R20,52 teenoor die Amerikaanse dollar en die euro gesluit. Beide die verbruikersprysindeks (VPI) en die produsenteprysindeks (PPI) het verder gedaal tot op onderskeidelik 6,3% en 7,3% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag vir Mei 2023. Die prima uitleenkoers is onveranderd op 11,75%.
Die geelmielieprys skommel op die oomblik baie. Die prys het ‘n hoogtepunt van R4008/ton bereik wat produsente moed kon gee, maar het net daarna weer verswak en die maand teen ‘n prys van R3719/ton afgesluit.
Die laaste veiling vir die 2022/23 wolseisoen het swakker pryse opgelewer. Die Australiese wolmark het baie stabiel gebly, maar ‘n sterker rand het pryse afwaarts laat neig. Die aanwyserprys vir gesertifiseerde skoonwol het in Junie teen R178,98/kg gesluit. Die bokhaarveilings is tot en met middel Augustus gesluit.
A2-beeskarkaspryse het gedurende Junie verder krag verloor terwyl die B2- en C2-pryse meer stabiel was. Die gemiddelde A2-prys het teen R48,40/kg gesluit, die B2-prys teen R46,10/kg en die C2-prys teen R44,61/kg. Weens ‘n laer aanbod het speenkalfpryse uiteindelik positiewe groei getoon en die gemiddelde prys het teen R32,36/kg gesluit. Pryse sal moontlik nog verder kan styg soos die aanbod verder verminder.
Die skaapkarkaspryse het eers versterk en weer tydens die tweede helfte van die maand verswak. Die A2-prys het teen R89,17/kg gesluit, die B2-prys het versterk en teen R59,90/kg gesluit en die C2-prys het ook tot en met R61,00/kg versterk. Speenlampryse neig opwaarts en het teen R42,97/kg gesluit. Pryse sal hopelik gedurende Julie verder styg, aangesien die prys steeds heelwat onder die vorige twee jaar se pryse is (Figuur 1).

Die prys van klas O-varkkarkasse het in Junie redelik sywaarts verhandel en teen R28,93/kg gesluit. – Hannes Venter en Frikkie Maré, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat.