Landbou verloor ‘n wydbelese ekonoom en vriend

Estimated reading time: 2 minutes

‘n Alomspeler in landbou-ekonomiekringe, dr Christo Joubert, is gister op die ouderdom van 53 jaar dood in sy Bloemfonteinse woning aangetref.

Volgens sy kollega aan die Universiteit van die Vrystaat, prof Frikkie Maré, is hulle deur Joubert se bediende na sy huis ontbied, waarna hy deur paramedici dood verklaar is. Die oorsaak is as natuurlike oorsake deurgegee. Hy is vermoedelik in sy slaap oorlede.

Joubert los groot voetspore in die bedryf, en sy navorsing oor vryloopstelsels by hoenders was veral van groot belang vir die land. Hy het verskeie grade agter sy naam gehad, onder andere ‘n meestersgraad in eiendomswaardasies, ‘n MBA en ‘n doktorsgraad in landbou-ekonomie. Sy doktorsgraad, wat hy in 2017 aan die Universiteit van die Vrystaat behaal het, het gefokus op die volhoubaarheid van die braaikuikenbedryf van Suid-Afrika.

‘n Waardeketting-pionier

Hy het sy loopbaan in 1998 by Standard Bank as graanbemarker afgeskop, en was daarna by Senwes asook ABSA werksaam voordat hy in 2009 by die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) aangesluit het, waar hy die grootste deel van sy loopbaan spandeer het. Hier was hy bestuurder van die Agro Food Chain, ‘n navorsingsafdeling by die NLBR.

Gedurende hierdie tyd het hy hom toegespits op die studie en ontleding van waardekettings in die bedryf. Volgens rolspelers was Joubert instrumenteel in die daarstelling en funksionering van die vraag-en-aanbod-skattingskomitee by die raad. Sy afdeling was ook verantwoordelik vir verskeie publikasies rakende voedselpryse en insetkoste.

Joubert was ook geregistreer as ‘n professionele waardeerder by die SACPVP (South African Council for Property Valuers Profession) en SAIV (South African Institute for Valuers). Hy het ook eiendomswaardasies op ‘n vryskutbasis gedoen.

Joubert het op 1 Februarie 2023 as senior lektor by die Universiteit van die Vrystaat se Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe aangesluit.

“Ek onthou hom vir sy lojaliteit, avontuurlustige gees, harde werk en liefde vir mense,” sê prof André Jooste, ‘n bekende landbou-ekonoom en oud-kollega en vriend van Joubert. “Van messe-maak tot die buitelewe geniet, veral jag en visvang – hy het die lewe met passie omhels. Bowenal was sy liefde vir familie ongeëwenaar.”

Joubert laat drie dogters agter. – Elmarie Helberg, Plaas Media

Onbetaalde skorsing as ‘n alternatief tot ontslag

Estimated reading time: 4 minutes Die Wet op Arbeidsverhoudinge,1995 (Wet 66 van 1995) (die...

’n Beplanningskalender vir herkouerprodusente

Estimated reading time: 8 minutes Veeplaas het by finansiële kenners gaan aanklop om uit...

Regverdige en billike vergoeding vir grond

Estimated reading time: 5 minutes Artikel 25(2) van die Grondwet van die Republiek van...

Predators and problem animals on South African livestock farms

Estimated reading time: 6 minutes Livestock producers face many challenges, such as predator-related losses....