Landbou skitter by uitstaltoekennings

0
26
Organiseerders van die SA Kaasfees en Agri-Expo Livestock by die ROAR-toekennings vir 2017. Van links is Johan Ehlers (hoof uitvoerende beampte), Ann Dalton (geleentheidsbestuurder) en Hugo Lochner (president).

’n Wen vir landbou. Só beskryf die niewinsbejag-landbougenootskap Agri-Expo hul uitsonderlike prestasie by vanjaar se ROAR-uitstaltoekennings.

Die gewilde Suid-Afrikaanse Kaasfees sowel as Agri-Expo Livestock is met gesogte toekennings, onderskeidelik as Beste Verbruikersuitstalling en Beste Handel-en-Verbruikersuitstalling (albei vir uitstallings groter as 12 000m2), vereer. Die toekenningsaand is op 1 Februarie 2018 deur AAXO (Association of African Exhibition Organisers) in samewerking met EXSA (Exhibition Association of Southern Africa) aangebied.

Agri-Expo bied die SA Kaasfees die afgelope 16 jaar en Agri-Expo Livestock die afgelope vier jaar aan. Volgens Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, is hierdie erkenning deur kenners in die uitstalbedryf nie net ’n pluimpie vir Agri-Expo wat gehalte-geleenthede vir die verbruiker aanbied nie, maar ook bevestiging van die landbousektor en agri-prosesseringsbedryf se kwaliteitprodukte, sowel as die hoë standaard van uitstallings deur landbou-instansies.

“Dit is ’n besonderse prestasie dat twee van ons buiteluguitstallings wat net op landbouprodukte fokus hierdie toekennings te midde van soveel ander professionele uitstallings ontvang het. Dit beklemtoon ons hoofdoel om as ’n landbougenootskap die beeld van landbou te bevorder. Ons sukses om volhoubare platforms te skep vir interaksie tussen verbruikers en landbou is te danke aan die bydrae van elke besoeker, vennoot, uitstaller, deelnemer, verskaffer en personeellid,” sê Ehlers.

Die SA Kaasfees en Agri-Expo Livestock het meegeding teen die room van die uitstalbedryf in Suider-Afrika, met ander prominente kategoriewenners, naamlik Agritech Expo Zambia 2017, Electra Mining Botswana, MamaMagic: The Baby Expo Winter, Property Buyer Show Gauteng, ILTM Africa, Decorex Cape Town, 100% Design, African Construction & Totally concrete, Madex en African Utility Week (wat as die algehele wenner aangewys is).

Volgens AAXO was daar vanjaar ’n rekordgetal inskrywings van uitstaande gehalte. Die beoordelaars sluit leiers en kundiges in die bedryf in, naamlik Talita Myburg (bemarkingshoof, Grey Advertising), Chantal Riley (bemarkingsbestuurder, Clockwork Media), Clinton Souter, (nasionale verkoopsbestuurder, Franke), Charlene Olivier (kreatiewe direkteur AMEA, Grey Group), Atul Todi (medestigter HUB, 10times), Lance Gibbons (uitgewer-redakteur, Film Event Media), Tom Hall (redakteur, Exhibition World) en Joey Pather (HUB, GIGEC China). – Persverklaring

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY