lae-lewering drup

Dis lank reeds ’n feit dat spaarsamige watergebruik in Suid-Afrika en die res van Afrika noodsaaklik is. Suid-Afrika is ’n waterskaars land en onlangse rampspoedige droogtes het ons weereens herinner aan die noodsaaklikheid van uiters doeltreffende watergebruik.

Drupbesproeiingstegnologie is een van die tegnologieë wat meer doeltreffende watergebruik en waterbesparing moontlik maak. Volgens Willem Botha, bemarkingsbestuurder van Netafim Suid-Afrika, is daar nuwe tendense in die veld van drupbesproeiing wat selfs nog meer sulke voordele inhou.

Draai die kraan klein oop

“Die gebruik van lae-lewering druppers neem toe en selfs beter tegnologie is voortdurend in hierdie verband beskikbaar. Ons het destyds begin met druppers wat vier liter per uur lewer, maar praat nou van gemiddeldes soos 2,3 liter per uur en 1,6 liter per uur, asook lewerings van so laag as 0,7 en 0,4 liter per uur. Ons definieer nou lae-lewering drupbesproeiing as stelsels waarin druppers met ’n lewering van een liter per uur en laer gebruik word.”

Voorbeelde van lae-lewerings druppers.

Wat hieruit voortvloei, is die toepassing van aaneenlopende besproeiing. Lae-lewering druppers word in hierdie praktyk gebruik om lae-volume besproeiing oor ’n langer tydperk te doen.

Volgens Botha het ondervinding met tradisionele drupbesproeiing bewys dat watertoediening met hierdie druppers te diep en te vinnig is. “Dit het tot gevolg gehad dat ons kort besproeiings met tussenposes moes doen om die probleem teen te werk. Dié praktyk beteken dat ons nie eenvormige watertoediening kan hê nie en veroorsaak dikwels versuipte ondergrond. Die stelsel kon oor die algemeen nie akkuraat en 100% doeltreffend werk nie.”

Minder is meer

Die voordele van lae-lewering drupbesproeiing sluit in beter dieptebeheer, beter waterverspreiding, die moontlikheid van langer besproeiingstye en ’n beter grond-water-lug verhouding. “Geen stelsel is egter sonder nadele nie. Lae-lewering drupstelsels maak noukeurige onderhoud onontbeerlik, vereis meer gereelde spoel van druplyne en meer gereeelde algemene onderhoud op die besproeiingstelsel. Aangesien die vloeipad van die drupper kleiner is, is fyner filtrering ook nodig.”

Dit wat bereik kan word, wen egter ver. “Om net ’n paar voordele te noem: Ons kan groter gebiede gelyktydig besproei, die stelsel kan makliker en eenvoudiger geoutomatiseer word, die bestuur van die stelsel is eenvoudiger, sekere probleemgronde kan beter benut word. Spesifieke strategieë, soos aaneenlopende besproeiing, kan ook toegepas word.

“Dit maak die stelsel baie meer akkuraat en doeltreffend. In boerdery gaan alles deesdae oor presisie en meer doeltreffende produksie. Lae-lewering drupbesproeiingstegnologie en praktyke soos aaneenlopende besproeing, sal jou help om dié doelwitte te bereik.

“Uit ’n grondkundige oogpunt is die voordeel van dié tegnologieë dat ’n baie beter verspreiding van water onder die drupper moontlik is, wat tot ’n groter benatte area lei waaruit die plant water kan onttrek. ’n Groot voordeel hiervan is, soos reeds genoem, dat sanderige of klipperige grond, wat voorheen byna onbruikbaar was as gevolg van swak waterhouvermoë en -verspreiding, nou baie beter benut kan word. Dit is aangesien water teen ’n baie lae tempo toegedien kan word, wat toelaat dat verbeterde laterale verspreiding plaasvind voordat afwaartse verspreiding as gevolg van gravitasie voorkom.”

Nog ’n belangrike voordeel van lae-lewering drup is dat dit die loging van kunsmis voorkom waar kunsmis via die besproeiingstelsel toegedien word. In die geval van aaneenlopende besproeiingstelsels word voorgestel dat daar vanuit die staanspoor beplan word vir die sentrale toediening van kunsmis en chemikalieë.

Los die kraan oop

Die grootste voordeel van lae-lewering druptegnologie is dat dit aaneenlopende besproeiing moontlik maak deur die vloeitempo van water deur die stelsel só te verlaag, dat besproeiing oor ’n langer tydperk gedoen kan word.

Botha deel die konsep van aaneenlopende besproeiing: “Die toedieningstempo van die besproeiingstelsel word gebalanseer met die maksimum daaglikse waterbehoefte van die gewas oor die totale gebruikstydperk. Watertoediening is dus ongeveer gelyk aan die wateronttrekking van die plant.”

’n Stelsel waarin aaneenlopende besproeiing toegepas word, het die volgende kenmerke: Die vloei van die stelsel word ontwerp vir ’n vloeitempo van tussen 2,5 en 3,5m³/h, druppers met ’n lewering van 0,7ℓ/h of 1,0ℓ/h word gekies, spasiëring tussen druppers kan tussen 0,8 en 1,2m wees. Wyer spasiëring word gebruik om te voorkom dat die benatte gebiede mekaar oorvleuel, wat natuurlik verseker dat die grond-water-lug verhouding optimaal is.

Dit is baie belangrik dat slegs een opstelling gebruik word, wat beteken die hele plaas of ontwikkeling kan dus op een slag besproei word. Die stelsel word dan so ontwerp dat die een besproeiingskof in minder as 14 ure gedoen kan word. “Waar ons in die verlede vyf tot ses keer op ’n dag vir tydperke van tien tot 15 minute besproei het, kan jy nou aaneenlopend besproei vir ’n tydperk van tot 14 ure. Dit is iets wat bestuur vergemaklik en akkuraatheid verbeter.”

Botha verduidelik dat ’n gewas se waterbehoeftes ’n tipiese klokkurwe volg, met gewoonlik ’n laer behoefte aan die begin en einde van die dag en ’n hoë behoefte gedurende die middagure. “Die watertoedieningstempo word egter konstant gehou, wat tot ’n oortoediening tydens lae-behoefte-tydperke en ’n tekort tydens hoë-behoefte-tydperke lei. Die benatte grondvolume sal egter vir die tekort kompenseer deurdat die bufferkapasiteit aangevul word in die tye wat die watertoediening hoër is as die onttrekking.”

Die waterbehoefte van ‘n gewas tenoor die besproeiingstempo.

Twee-sone skedulering

Soos genoem, is die aanpassing van bestuurspraktyke by tegnologie baie belangrik. So moet die skedulering van besproeiing ook aangepas word.

Volgens Botha fokus besproeiingskedulering op ’n twee-sone strategie. “Dit beteken dat twee verskillende dieptes bestuur word. Die eerste is die wortelsone. Dit is die gronddiepte waar 80% van die wortels voorkom. Hierdie gedeelte sal daagliks na gelang van die gewas se waterbehoefte besproei word.”

Die besproeiing kan aaneenlopend wees, of dit kan volgens Eskom-programme aangepas en opgebreek word sodat daar in die goedkoper tye besproei word.

Die tweede sone is die buffersone, oftewel die dieper sone onder en aan die buitekante van die wortelsone. “Teoreties sal ’n plant oor ’n sekere tydperk meer water onttrek as wat in die wortelsone toegedien word, met die gevolg dat die plant op ander plekke of in die buffersone gaan water soek. Dit het tot gevolg dat die ondergrond of buffersone begin om droër te word.”

Botha verduidelik dat indien die buffersone ’n sekere punt bereik, hierdie gedeelte aangevul sal moet word. Dit word tegniese besproeiing genoem en val buite die normale 14-uur besproeiing, wat beteken dat die balans van die 24-uur tydperk gebruik word.

Dit is duidelik dat om hierdie twee sones akkuraat te bestuur, grondwatermetings ’n noodsaaklike deel van skedulering uitmaak. Die boer moet seker maak dat hy die metings verstaan en kan vergelyk met die werklike omstandighede. Dit is dus belangrik om die gemete waarde te kalibreer met die grondomstandighede. – Marike Brits, AgriOrbit

Volg die skakel vir meer inligting.

Klik hier vir nog oor Netafim SA.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY