Van links is Albert Loubser, redakteur van Veeplaas, Henco Pool, junior wenner, Christo Kemp, derde in die jong afdeling, Hertie Lerm, tweede in die jong afdeling, JP Marais, jong wenner, en Appie Maritz, beoordelaar, tydens die Wes-Kaapse streeksrondte van die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie by Agri-Expo Livestock.

Die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie word in 2018 vir die sesde agtereenvolgende jaar gehou. Die 2018-weergawe van die kompetisie het met die Wes-Kaapse streeksrondte tydens Agri-Expo Livestock in Oktober verlede jaar afgeskop. Dit was die eerste van ’n reeks streeksrondtes wat ter voorbereiding van die nasionale rondte gehou word.

Deelnemers is oudergewoonte in jong (19-30) en junior (skoolgaande) kategorieë beoordeel volgens hul vertoning op die rostrum, veekennis en bedryfskennis. Altesaam vier deelnemers het tydens die Wes-Kaapse streeksrondte hulle staal op die rostrum gewys. Die deelnemers is deur Appie Maritz van BKB beoordeel, wat hulle ook met raad bygestaan het.

Henco Pool het in die junior kategorie na die nasionale rondte deurgedring. ’n Vorige wenner in die junior kategorie, Hertie Lerm, was mans genoeg om in die jong kategorie deel te neem, al is hy nog van skoolgaande ouderdom. In dié kategorie het JP Marais die eerste plek, Hertie Lerm die tweede plek en Christo Kemp die derde plek behaal.

Danie Strauss, ’n vorige streekswenner, het ook ’n voorbeeld-rondte op die rostrum gedoen, terwyl Hans Burger van Voermol en die jongeling, Oliver Vigne, die uitdaging ook vir die pret aangepak het.

’n Platform vir afslaers

Die kompetisie is in 2013 vir die eerste keer gehou en word jaarliks in samewerking met Veeplaas en Stockfarm aangebied. “Daar was nog nooit voorheen so ’n kompetisie in Suid-Afrika nie, en die konsep is deurentyd ontwikkel. Ons het van dag een af baie goeie ondersteuning van die afslaersberoep en veilingsmaatskappye gekry,” vertel Albert Loubser, redakteur van Veeplaas en Stockfarm.

Afslaerskompetisies is oor die wêreld heen ’n algemene gesig. “Dit is die manier waarop afslaers hulself bemark en ’n platform vir aspirant-afslaers om tot die beroep toe te tree. In Suid-Afrika het die tradisie egter nie so ontwikkel nie. Met die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie kon ’n tradisie egter gekweek word en kon verskeie aspirant-afslaers al tot die beroep toetree,” sê Albert.

Die kompetisie kon ook reeds van sy vorige wenners die geleentheid gee om hul talente op ’n internasionale rostrum te toets.

2018-streeksrondtes

“Vir logistieke gemak en om soveel as moontlik mense te bereik, werk die organiseerders saam met bestaande landbougeleenthede om dié geleenthede as gashere vir die verskeie rondtes van die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie te gebruik,” verduidelik Albert.

Die 2018-kompetisie sal in die vorm van ses streeksrondtes regoor die land aangebied word. Die nasionale rondte sal in September tydens ALFA 2018 in Parys gehou word en ’n internasionale kompetisie sal vir die tweede keer by Nampo 2018 aangebied word.

Streeksrondtes word by die volgende geleenthede beplan:

  • Wes-Kaap streeksrondte: Agri-Expo Livestock (reeds verby).

  • Westelike streeksrondte: Lichtenburg-skou.

  • Sentrale streeksrondte: Bloemskou.

  • Natal streeksrondte: Royal-skou.

  • Oostelike streeksrondte: Val-boeredag.

  • Gauteng streeksrondte: Wagpos Boerefees.

Hou die webtuiste www.agriorbit.com, die hutsmerk #youngauctioneers op Veeplaas se Facebook-blad en die Twitter-profiel @onderdiehamer dop om op hoogte van die kompetisie te bly.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY