Laat die hamers val in 2017

0
1507

Die vyfde rondte van die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie, wat die eerste keer in 2013 in samewerking met Veeplaas en Stockfarm aangebied is, vind vanjaar plaas. Lees hier meer oor die kompetisie.

“Daar was nog nooit voorheen so ’n kompetisie in Suid-Afrika nie, en die konsep is deurgaans ontwikkel. Van dag een af het ons baie goeie ondersteuning van die afslaersberoep en veilingsmaatskappye gekry,” vertel Albert Loubser, redakteur van Veeplaas en Stockfarm.

Hennie Gericke van die plaas Brandwag by Mosselbaai was die eienaar van die oudste Toyota-bakkie tydens ’n promisiegeleentheid by BKB se Cooper-veilingskrale tussen Albertinia en Mosselbaai. Van links is Gawie Maritz, verkoopsbestuurder van die Toyota-handelaar in Mosselbaai, en Hennie.

Met vier rondtes agter die rug, bereik die kompetisie nou ’n vlak waar dit sy plek moet kan volstaan as Suid-Afrikaanse nasionale afslaerskompetisie wat by internasionale kompetisies kan kers vashou.

Afslaerskompetisies is oor die wêreld heen ’n algemene gesig. “Dit is die manier waarop afslaers hulself bemark en ’n platform vir aspirant-afslaers om tot die beroep toe te tree. In Suid-Afrika het die tradisie egter nie so ontwikkel nie. Met die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie kon ’n tradisie egter gekweek word en kon verskeie aspirant-afslaers al tot die beroep toetree,” sê Albert.

Die kompetisie kon ook reeds twee van sy vorige wenners, André van Zyl en Gareth Hughes, die geleentheid gee om hul talente op ’n internasionale rostrum te toets. Die 2016-wenner, Steven Mathews, sal in 2017 dié geleentheid kry.

Hoe werk die kompetisie?

“Vir logistieke gemak en om soveel as moontlik mense te bereik, werk die organiseerders saam met bestaande landbougeleenthede om dié geleenthede as gashere vir die verskeie rondtes van die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie te gebruik,” verduidelik Albert.

Die 2017-kompetisie sal in die vorm van tien streekrondtes regoor die land aangebied word. Hou die webtuiste www.agriorbit.com dop vir meer inligting oor dié geleenthede.

Die nasionale rondte sal in September tydens die 2017 ALFA-ekspo in Parys gehou word. Daar word ook beoog om ’n internasionale kompetisie by Nampo aan te bied, en uitnodigings is reeds aan rolspelers in Argentinië, Australië, Nieu-Seeland, Ierland en Namibië gestuur. Opleidingsgeleenthede om deelname aan die kompetisie en die beroep verder te bevorder, word ook tydens verskeie landbougeleenthede beplan.

Boere in KwaZulu-Natal is herinner aan die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie tydens die weeklikse veiling by die veilingskrale op Winterton. Fatnuts Ngobese van Kwela by Emmaus naby Bergville het ’n prys gekry vir die oudste Toyota-bakkie op die parkeerterrein. Van links is Edu Rohrs van Mortimer Toyota in Estcourt, Fatnuts Ngobese, Cecil Fourie van Mortimer Toyota in Estcourt en Tiaan Herbst van Veeplaas. Fatnuts se 1989-model 2,2 liter langbak is reeds 27 jaar oud en het al meer as 500 000km afgelê. Fatnuts sê hy het die voertuig agt jaar gelede vir R38 000 in Johannesburg gekoop. Nuut het die 2,2 liter destyds minder as R30 000 gekos.

Deelnemers word in twee kategorieë beoordeel. Die kategorie vir junior afslaers is gemik op deelnemers tussen 13 en 18 jaar. Die doel van dié kategorie is om potensiële afslaers reeds op ’n jong ouderdom aan die beroep bloot te stel. Die tweede kategorie, vir jong afslaers, fokus op deelnemers van 19 en 30 jaar. Hierdie kategorie is vir enigiemand, hetsy die persoon reeds opleiding in die beroep gehad het of nie, wat die kompetisie as platform wil gebruik om die beroep te betree.

By elk van die streekrondtes word ’n wenner aangewys wat outomaties na die nasionale rondte deurdring. “Punte word aan elke deelnemer toegeken en deelnemers kwalifiseer deur genoeg punte bymekaar te maak. Boonop keer niks ’n deelnemer om aan ’n volgende streekrondte deel te neem indien hy nie by die betrokke rondte gekwalifiseer het nie,” verduidelik Albert.

Promosieveilings

Om bewustheid van die kompetisie te skep en blootstelling aan die borg te verleen, word plaaslike veilings en ander geleenthede benut as promosiegeleenthede vir die 2017 Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie. Belangstellendes kan hul staal op die rostrum wys en verskeie interessante ander pryse word ook uitgedeel, soos vir die oudste Toyota-bakkie of die een met die meeste houding.

Daar was groot opgewondenheid tydens die nasionale Angoraskou in Willowmore in 2016, toe aspirant-afslaers hul staal op die rostrum kon wys. Die dag se informele wenner, Anton Terblanche van Joubertina, het met ’n Toyota-geborgde Dakar-baadjie weggestap. Die Toyota-bakkie met die meeste houding en die oudste een (op die foto) op die skouterrein is ook uitgeken.

Verskeie geleenthede is laat in 2016 en vroeg in 2017 gehou, en nog sulke geleenthede word beplan. Wees op die uitkyk vir die span van Veeplaas en Toyota by veilings in jou gebied.

Hou www.agriorbit.com en die hutsmerk #youngauctioneers op sosiale media dop vir nuus oor die vordering van die kompetisie in 2017. –Marike Brits, Onderdiehamer

 

 

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY