Estimated reading time: 4 minutes

Die maak van kuilvoer neem baie toe en het ekonomies relevant geword vir baie Suid-Afrikaanse boerderystelsels. Dit is een van die redes waarom die Melkprodusente-organisasie (MPO) kuilvoerdae in die Wes-Kaap aangebied het. Een daarvan was by George in die Suid-Kaap.

Fanie Ferreira, waarnemende uitvoerende hoof van die MPO, het op die dag gesê voorraadvlakke van suiwelprodukte is wêreldwyd laag, wat meebring dat die produkte duur word. Dit, tesame met faktore soos Eskom se swak dienslewering en die “nuwe pandemie genaamd Wladimir Poetin”, plaas groot druk op die insetkoste van melkboerdery.

Op die kuilvoerdag was, van links, Harry Muller, ’n melkprodusent van Herbertsdale, Fanie Ferreira, waarnemende uitvoerende hoof van die MPO, Hannes Nel van Ladismith, voorsitter van die Wes-Kaapse MPO en Ben van Greunen, ondervoorsitter van die MPO in die Wes-Kaap.

Baie Westerse lande voer nie meer produkte soos poeiermelk na Rusland en ander lande uit nie. Markte word minder toeganklik. Daarom ondersoek die MPO die moontlikheid om meer suiwelprodukte na die res van Afrika uit te voer, wat ’n groot geleentheid vir die suiwelbedryf kan beteken. Nigeriese gesante het Suid-Afrika reeds besoek om moontlike samewerking te bespreek en die MPO is al na Ghana genooi om soortgelyke ooreenkomste te ondersoek, het hy gesê.

Lees meer oor die neem van kuilvoermonsters hier.

Daneel Rossouw, Nedbank se funksionele hoof van landbou, het gesê veranderings bring groot uitdagings vir die landbou. Een van die grootste bronne van kommer is dat Eskom basies op sy knieë is. Dit het ’n groot impak op die hele ekonomie.

Uitdagings in boerdery

“Klimaatsverandering is die grootste uitdaging in boerdery. Dit bring dikwels waterskaarste, wat beteken dat produsente moet leer om met minder water klaar te kom. In ’n land met min water moet produsente meeding met res van die wêreld. Hulle doen eintlik goed met min hulpbronne.

“Die regering plaas al hoe meer druk op die private sektor. Onteiening sonder vergoeding bly steeds ’n moontlikheid vir die toekoms, marktoegang bly belangrik, maar markte word weggeneem en nuwes moet gevind word. Suid-Afrika het geen vryehandelsooreenkoms met enige land nie.”

Uitvoerders van veral vrugte en sitrus se groot probleem is dat skepe nie meer by die hawens aandoen nie. Die vrugte wag dan lank op die hawe om uitgevoer te word en die koueketting word nie in stand gehou nie.

Ian Gerber van Hoekwil, naaslinks, wat derde was in die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie, het die kuilvoerdag bygewoon. Van links is Louis Cordier, Ian, Arno Fourie, almal van Hoekwil en Abi Stander van Karatara.

Daar is nie genoeg geld beskikbaar vir navorsing nie. In die geval van dieresiektes is dit so erg dat die landbou ’n krisis met entstof verwag, het Daneel gesê.

Lees meer oor kuilvoerbestuur hier.

Beyers Mallo, bestuurder van lusern en veevoere by GWK, het oor gehaltegradering van lusern gesê die produsent moet na prima lusern mik wat min vesel het, hoogs verteerbaar is en ’n hoë oplosbare proteïeninhoud het. Lusernhooi met ’n indekswaarde van tussen 97 en 103 word as graad 1-hooi gekategoriseer en dit het ’n gemiddelde voedingswaarde. Graad 3-lusernhooi het die laagste gehalte-indeks en kan vreemde materiaal soos grasse insluit.

Suzanne Lureman, tegniese verkoopsbestuurder van Keenan, wat voermengers maak, het gesê vesel wat deur die koei ingeneem word, moet ‘prikkel, steek en krap’, want dit stimuleer die rumen om aan die gang te kom en sit die herkouproses aan die gang. As vesel te fyn is, gaan die koei minder herkou en voer minder doeltreffend benut.

’n Video van Kemin, wat in dierevoeding spesialiseer, is vertoon. Daarin is gedemonstreer hoe kleingrane ingekuil word. Dit leer ook oor nuwe tegnologie en kuilvoernavorsing oor agronomiese, biochemiese, mikrobiologiese, voedings- en ingenieursaspekte van die proses – soos verskeie tipes bymiddels wat inkuiling verbeter. – Chris Jooste, AgriOrbit