Die Actebis Dormer-stoet hou vanjaar hul sesde produksieveiling op 4 Mei 2018. Dit is ook by hierdie geleentheid waar Actebis Dormers se uitverkoping gehou sal word. Die veiling beloof om van die beste genetika in die Dormer-bedryf te verkoop.  Volgens Willie Esterhuyse, die dryfkrag agter Actebis Dormers sedert 2001, sal kopers van Actebis-stoetdiere gemoedsrus hê dat alle rekords noukeurig en korrek gehou word, en dat daar op alle diere ‘n volledige entings- en siektebeheerprogram toegepas word.

Sedert die stoet in 2001 begin is, word daar slegs van die beste genetika ingekoop om sodoende die stoet te verbeter. Voorkeur word gegee aan eienskappe soos groei, vrugbaarheid en aanpasbaarheid. Actebis Dormers het ten doel om ‘n verskil in elke kommersiële en stoetboer se kudde te maak, deur die beste moontlike genetika beskikbaar te stel tydens die komende veiling.

 Die waarde van ‘n Dormer

Esterhuyse het as kind al ‘n liefde ontwikkel vir die ras. “Ek het te doen gekry met die Dormers deur my pa. Hy het Dormer-ramme en Ile de France-ramme in ‘n kruisteelprogram met tweede-kudde Merino-ooie gebruik. Hier het ek die waarde van die Dormer met sy uitstekende groei- en vrugbaarheidseienskappe gesien.”

Die Dormer-ras is juis bekend vir hierdie asook uitstekende weidingseienskappe, aanpasbaarheid en karkaskwaliteit. “Ek het die Actebis Dormer-stoet in 2001 begin toe ek my eerste Dormers by Kobus Louw gekoop het. Daarna het ek op sy volgende drie veilings 20 stoetooie aangekoop en só die basis van die Actebis-stoet begin vorm.”

Actebis Dormers is geleë op plaas Brakpan by Petrusburg in die Vrystaat.

 Net die beste

Actebis Dormers beoog om met die opkomende veiling hoë-gehalte genetika beskikbaar te stel wat die Dormer-ras tot voordeel sal strek.  Volgens Esterhuyse het hy besluit om die uitverkopingsveiling te hou omdat hy sy Dohne Merino’s wil uitbrei en slegs Dormer-ramme gebruik in ‘n kruisteelprogram op Dohnes. Tydens die veiling sal kwaliteit genetika beskikbaar wees.

Die veilingsaanbod

Indien jy dus top genetika wil aanskaf en ernstig is omtrent Dormers, dan is hierdie die veiling om by te woon. Uitstekende kommersiële diere, veral ramme, kom ook onder die hamer en alhoewel die meerderheid diere wat aangebied word stoetdiere is, sal daar ook kommersiële diere beskikbaar wees.

Die Actebis Dormers-veiling vind plaas op Vrydag, 4 Mei 2018 om 11:00 by die K.A.T. Implemente-sentrum, Bainsvlei, Bloemfontein.

Daar sal 165 top Dormers op aanbod wees, waaronder 90 dragtige stoetooie, 30 jong stoetooitjies (agt maande), 20 dragtige kommersiële ooie en 25 stoet- en kudderamme.

Nageslag van bekende ramme soos Barnard JB [13-74], Rambo [W10.216], Sambok JJ [7-24] en RH [11-95] sal ook aangebie word.

Vir meer inligting, kontak Jan Joubert by 082 573 4980.

Onthou: Die Actebis Dormers-veiling op Vrydag, 4 Mei 2018 om 11:00 by die K.A.T. Implemente-sentrum, Bainsvlei, Bloemfontein.

Actebis

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY