Ek kan skaars Gerhard se hoed uitmaak tussen die kosmosse waar hy op my wag om deur die digte bosse blomme te beur met ’n nuwe koppelaarplaat vir sy ou Fiat 640.

Hy het reeds die trekkertjie in twee helftes losgeskroef, die stukkende koppelaar in ’n ou saadsak gestop en sy gereedskap op ’n ander een uitgepak. Ons staan langs ’n groot Sericea-veld, waar die kosmos kophoogte staan.

“Het jy deur die nag gesny?” vra ek my ou buurman terwyl ek die boks aangee.

“Jip. Jy weet mos hoe loop dinge– maak hooi terwyl die maan skyn. En ons het goeie tyd gemaak, totdat die nuwe bestuurder besluit het dat om die koppelaar te laat gly, ’n goeie manier is om die snyer deur hierdie kosmos-ontploffing te kry. Nou’s die hele plaat in stukke.”

Hy haal die nuwe pilot bearing uit die boks, kniel tussen die twee helftes van die trekker en tik dit liggies binne die vliegwiel in plek. Drie tikkies later, is hy gereed om die plaat op te skuif.

“Kan jy anderkant om gaan en my met die drukplaat help?” vra hy.

“Wanneer kry jy ’n trekker met ’n powershift-boks?” vra ek terwyl hy die moere vasdraai. “As die plaas jou betaal het vir al die ure wat jy insit om hierdie handratkas in stand te hou, kon jy nou al ’n nuwe een bekostig.”

“Wys vir my ’n kragwisselaar wat ek vir ’n paar honderd rand in die veld uitmekaar kan haal en regmaak soos dié, en ek koop hom. Probeer jy dít met jou Mahindra doen, en kyk hoeveel dit kos.”

“Daai kragwisselaar sou nie eens hierdie stukkie kosmos gevoel het nie, so ek sou by die huis gewees het en my brunch geniet, in plaas daarvan om vir jou ’n nuwe koppelaarplaat van die stad af te bring,” antwoord ek.

“Ek sal jou sê wat ek wél wil koop,” verduidelik hy terwyl ek hom van sy knieë af help optrek. “Een van daai ultramoderne CVT’s. Ek weet van ’n voorlaaier met ’n ZF CVT wat al amper 30 000 ure op het. Hy gebruik minder diesel as enige ander ratkas en kan teen 50 meter per uur aankruie.

“Nou praat jy,” sê ek. “Maar deurlopend veranderlike transmissies – CVT’s – is nie ‘ultramodern’ nie. Hier’s vir jou ’n interessante feit: Leonardo da Vinci het in 1490 ’n CVT geteken. En het jy al gesien wat CVTolie kos?! Gee my liewer die ou kragwisselaar, enige tyd.”

“Hmf,” knor Gerhard. “ ’n Mens sou dink dat dit teen dié tyd al baie goedkoper sou wees. Of dat die motorvervaardigers nie CVT’s só erg sou opneuk soos in my vrou se Honda HR-V nie. Daai was nou ’n meganiese knoeispul.”

“En dan het Ford se PowerShift en VW se DSG natuurlik ook niks vir dubbelkoppelaarstelsels gedoen nie. Min eienaars word ingelig dat die goed vir vinnige ratverwisseling ontwerp is, nie om swaar vragte rond te trek of in stop-ry-verkeer te sit nie,” sê ek. “Moet ek help om die trekker weer aanmekaar te sit?”

“Nee wat, ek het die bestuurder geradio toe ek sien jy stop. Hoe was jou baarstoernooi verlede naweek?”

“Ons het nie die wenvis gevang nie, maar ek moes wel die organiseerder se bakkie en boot uit die vlakwater sleep. Soos ek aanhoudend vir cheapskate handratbestuurders soos jy probeer verduidelik: niks klop ’n wringkragomskakelaar wat teen kruipspoed kan ry nie – dit sal jou handratmodel laat vrek. En my sesspoed slushbox sleep dieselfde vrag as jou handratkas.”

Terwyl ek gesels, sny Gerhard ’n bos kosmosse af en gee dit vir my. “Uhm,” sê ek, “eintlik verkies ek nat biltong bo blomme, as dit jou manier is om dankie te sê.”

“Jy sal jou biltong kry. Loer asseblief by die huis in en gee dit vir my vrou. Ek het haar gisteraand ’n bos belowe, maar het nog nie kans gekry nie.”

“Jy moet pasop, laatlammetjies kos meer as CVT’s,” lag ek terwyl ek na my bakkie stap.

“Dis vir ’n liefdadigheidsfunksie!” roep hy terug.

Oom Schalk gesels nuwe bande vir jou bakkie.


inruilprys, diesel, sleepwagewig


Click here for English.