Monday, March 20, 2023

KragDag vind sy voete in die Wes-Kaap

Estimated reading time: 2 minutes

Die gewilde KragDag Ekspo is nou ook in die Wes-Kaap! Die geleentheid bied ʼn uitstalkas vir energie- en ander selfstandigheidsoplossings en is dié plek waar entrepreneurs en tegnologie tot die grootste versameling van selfstandigheidsoplossings op elke denkbare terrein bymekaar kom.

Vanjaar se tema was “Kom ons bou ʼn kragstasie” en besoekers kon by kundiges in die energiesektor leer hoe elke huis en gesin meer selfstandig kan leef. Hulle is toegerus met genoeg kennis om volhoubare en bekostigbare oplossings te soek om heeltemal onafhanklik van ander kragvoorsieners te word.

Lees meer oor 2022 se KragDag Ekspo hier.

Die ekspo, wat op die plaas Môreson net buite Malmesbury aangebied is, het 5 260 besoekers gelok. Volgens die organiseerders is die groot getal besoekers ʼn aanduiding dat Suid-Afrikaners ywerig is om vir hulself skanse teen staatsverval op te rig.

Sakeliga, KragDag se hoofborg, moedig reeds vir ʼn geruime tyd sy lede en die publiek aan om na selfdoen oplossings te begin soek om die impak van die voortslepende kragkrisis in Suid-Afrika op hulself te verlig.

Kragoplossings in die kollig

Tydens die eerste KragDag Ekspo in die Wes-Kaap het 103 uitstallers verskillende produkte ten toon gestel en is daar ook verskeie demonstrasies aangebied. Die uitstallings het watersuiweringstelsels, sonkrag-oplossings, die omskakeling van organiese energie in biogas, elektriese voertuie, buitelugkragtoerusting en alternatiewe onderwys oplossings ingesluit. Die geleentheid het ook ʼn sterk landboukomponent ingesluit en leersame geleenthede aan elke besoeker gebied.  

Alternatiewe kragopwekking was veral ʼn groot fokuspunt tydens vanjaar se KragDag Ekspo in die Wes-Kaap. Volgens HP Steyn, bestuurshoof van KragDag, is kragoplossings belangriker as ooit tevore. Hy voer aan dat KragDag die geleentheid aan entrepreneurs gee om ʼn groot verskeidenheid selfstandigheidsoplossings vir alle terreine aan huishoudings en ondernemings te bied, hetsy dit met watertekorte, watersuiwering, voedselproduksie, onderwys of sekuriteit te doen het.

KragDag, Sakeliga en Solidariteit het reeds besluit om afsonderlike, maar komplementêre aksies van stapel te stuur om huishoudings en besighede te help om van Eskom weg te breek. KragDag nooi ander organisasies, instansies en ondernemings uit om deel te word van hierdie aksies.

Die Gautengse KragDag Ekspo sal vanaf 9 tot 12 Augustus vanjaar aangebied word. Die datum vir 2024 se KragDag in die Wes-Kaap word binnekort bekend gemaak. Hou die webtuiste dop vir meer inligting. – Persverklaring, KragDag

Popular stories