Estimated reading time: 3 minutes
Die boerderygemeenskap kan geen belangriker belegging maak as in die ontwikkeling van sy jeug nie. Daarom is die nuwe Kovsies Agri studente-organisasie amptelik op 14 Maart 2023 in Bloemfontein by die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Old Students-sportklub bekendgestel.
Kovsies Agri is meer as net ‘n studente-organisasie. Dit is ‘n dinamiese groep studente wat daarop fokus om die gaping tussen die landbouwaardeketting en die produsente van môre te oorbrug.
Lees die artikel in Engels hier.
Hulle doel is nie net om studente se kennis te verbreed deur op praktiese ervaring en netwerkgeleenthede te fokus nie, maar ook om ‘n gevoel van samehorigheid te skep vir UV-studente met dieselfde belangstellings in die landboubedryf.
Die organisasie se leierskap is dinamies en passievol. Studente wat gretig is om ‘n verskil in die landboubedryf en in die lewens van hul lede te maak, is aan die stuur. Kovsies Agri sal as platform dien vir studente om te sosialiseer, te netwerk, te leer en geleenthede binne die landbousektor te verken.
“Ons is verheug om Kovsies Agri bekend te stel en studente ‘n unieke geleentheid te bied om praktiese ervaring op te doen en deel te voel van ‘n gemeenskap wat passievol is oor landbou,” sê die organisasie se voorsitter, Nicola Wiid. “Ons glo dat landbou die ruggraat van ons ekonomie is, en dit is noodsaaklik om studente toe te rus met die vaardighede en kennis om ‘n positiewe impak in die bedryf te maak.”
Die organisasie is daartoe verbind om innoverend te wees en uitdagings van die toekoms op ‘n mededingende wyse aan te pak. Dit sal gedoen word deur praktiese geleenthede soos plaasbesoeke, gaslesings en werkswinkels aan te bied, om studente te betrek en ‘n dieper begrip van die landboubedryf te gee. Kovsies Agri gaan ook ‘n reeks sosiale geleenthede aanbied wat studente van alle fakulteite in staat stel om by mekaar te leer, want landbou bestaan uit baie verskillende loopbane.
Lees meer oor die Farming for Tomorrow-insiatief hier.
Met die opening van die Landbougebou op die UV-kampus in 1958 het minister SP le Roux gesê: “ ‘n Volk wat vir sy landbou sorg, sorg vir sy toekoms”. Hierdie woorde is in graniet gegraveer om vir ewig by die studente te bly. Alhoewel landbou die ruggraat van die Suid-Afrikaanse ekonomie is, het jonger geslagte landbou nie as ‘n loopbaan van keuse beskou nie. Dit was hoofsaaklik omdat landbou beskou is as iets van die “ou skool”, met baie meer opwindende loopbane wat gewag het. Gelukkig het hierdie neiging mettertyd verander, en vandag is landbou weer ʼn populêre keuse.
“Die nuutgestigte Kovsies Agri dra by tot die sexy kant van landbou. Dit is ‘n organisasie onder leiding van jong mense vir jong mense om die volgende generasie produsente en landbouers wat vir landbou en ons toekoms sal sorg, bymekaar te bring,” sê prof Frikkie Maré, akademiese departementshoof van landbou-ekonomie by UV.
Theo de Jager, voorsitter van die familieboerenetwerk Saai, sê dié studente is die boereleiers van môre, die toekomstige uitvoerende hoofde van landboubesighede en die grondslag van die voedselstelsels soos dit mettertyd verander.
Op die bekendstellingsdag het Kovsies Agri ook hul splinternuwe webwerf en verskillende blaaie op sosiale media bekendgestel. – Persverklaring, Universiteit van die Vrystaat
Vir meer inligting oor Kovsies Agri, besoek gerus hul webwerf of Facebook– Twitter en Instagram-blaaie.