Konsortium Merino-veiling: Genetika trek landwye aandag

0
212
Dié ram is vir die hoogste prys van R64 000 verkoop. Van links is Gawie van Heerden, verkoper, Willie Meyer van GWK, Hugo Torr, Dombietersfontein se stoetbestuurder, Maretha Badenhorst, Gawie se ma, Jan Victor, koper, Bradwell Kerrie en Jackie Nel, afslaer.

Konsortium Merino se 33ste produksieveiling, Captain Merino, het op Donderdag, 7 September, op die plaas Dombietersfontein naby Victoria-Wes plaasgevind. Dié veiling het weereens ’n Suid-Afrikaanse rekord gebreek. Die 406 ramme wat op die veiling verkoop is, is die meeste ramme wat nog ooit op ’n Merino-veiling verkoop is. Die Suid-Afrikaanse rekordomset vir ’n Merino-ramveiling is ook verbeter, met die veiling wat ’n totale omset van R3 839 400 behaal het. Die veiling het ’n geraasveiling sowel as ’n stilveiling ingesluit.

Agtergrondinligting

Die Noord-Kaapse plaas Dombietersfontein is noordoos van Victoria-Wes geleë, en selfs in uiters droë omstandighede is dit onbetwisbare skaapwêreld waar produsente moed hou vir die komende reënseisoen.

Dombietersfontein behoort aan Gawie van Heerden, uitvoerende direkteur van Konsortium Merino. Na afloop van die veiling het hy met Carin Venter van Veeplaas gesels. “Die aanbieding het 406 ramme en 1 000 ooie gelewer, wat besoekers vanuit al vier die windrigtings in die land gelok het.” Volgens hom was dit die grootste Merino-veiling nóg in Suid-Afrika en een van die opwindendste dae in die Merinobedryf.

Gawie beskryf die Konsortium-konsep kortliks soos volg: “Die ramme gaan deur ’n seleksieproses waar die produk gewaarborg word. Dit is ’n oopkop-wolskaap wat optimum wol produseer. Produsente koop hierdie ramme en teel ooie met hulle wat ons graag weer wil terugkoop met die beleggers se geld.”

Veilingsuitslae

  • Hoogste prys ram: R64 000 (Koper: Jan Victor, Richmond)
  • Gemiddelde prys ramme: R9 457
  • Gemiddelde prys ramme (geraasveiling): R15 049
  • Gemiddelde prys ramme (stilveiling): R5 705

Aangebied deur: GWK

Afslaer: Jackie Nel

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY