Estimated reading time: 4 minutes
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Noord-Kaap het onlangs hul jaarlikse kongres in Kimberley aangebied. Vanjaar se tema is “Kompeteerbaarheid en volhoubaarheid” en dit deurlopend by die kongres toegepas.
Tydens ’n dinee wat die aand voor die kongres aangebied is, is daar ’n spesiale toekenning aan Johan van der Colff oorhandig. Hy het etlike jare rooivleisprodusente ondersteun en was vir ’n paar jaar die voorsitter van die RPO NK. Van der Colff het hierdie jaar uitgetree en Koning Scholtz is aangewys as die waarnemende voorsitter vir die res van die jaar. Scholtz is tydens die kongres aangewys as die nuwe voorsitter van RPO NK vir 2024.
In sy voorsittersboodskap het hy die afgelope jaar as ’n uitdagende jaar vir die rooivleisbedryf in die Noord-Kaap beskryf.



Lees meer oor RPO Wes-Kaap se jaarvergadering hier.
“Ten spyte van gebiede wat goeie reën gekry het, ervaar sekere gebiede steeds ver onder die gemiddelde reënval,” het hy gesê.
Hy het ook ander uitdagings soos die ekonomiese en politieke realiteite, verhoogde insetkoste, die verswakkende infrastruktuur, entstoftekorte en die kuddebouproses na ’n jarelange droogte genoem.
Hy het verwys na die nuwe statutêre heffing wat nuwe geleenthede vir die bedryf kan ontsluit en ’n beroep op rooivleisprodusente gedoen om hierdie geleenthede te identifiseer en hul te posisioneer om hierdie geleenthede op ’n volhoubare wyse te ontgin sodat hulle, in ooreenstemming met die 2030 Visie van verskeie rolspelers in die rooivleisbedryf, die bedryf na ’n nuwe vlak kan neem.



Die gassprekers tydens die kongres was dr Henno Havenga, ’n klimatoloog van Noordwes Universiteit, wat gesels het oor die klimaat en ’n volhoubare rooivleisproduksie-omgewing. Gerhard van der Burg van BFAP het die boere ingelig oor die nuwe statutêre heffing.
Corine Steyn van RPO Nasionaal het gesels oor kompeteerbaarheid en volhoubaarheid in die bedryf en dr Johan van der Walt van AMT het die boere insig gegee oor die prystendense wat tans in die mark sigbaar is. – Koos du Pisanie, AgriOrbit