Saturday, April 1, 2023

Kom neem deel aan die Overberg Streeksjeugskou tydens Nampo Kaap

Estimated reading time: 3 minutes

Nampo Kaap glo aan die toekoms van landbou en wil daarom graag meer doen om die jeug by landbou te betrek. Nampo Kaap nooi graag leerders om op Saterdag 17 September op Bredasdorp Park in Bredasdorp aan die Overberg Streeksjeugskou deel te neem. Registrasie is van 08:00 tot 10:00 by die BKB Vee-afdeling, Hek C. Die beoordeling van die verskillende klasse vind van 10:30 tot 14:00 in die BKB Vee-afdeling plaas, met die perde-afdeling net langsaan in die arena.

Die nege klasse waarin daar tydens Nampo Kaap deelgeneem kan word, is suiwelbees, vleisbees, vleisskaap, wolskaap, veselbok, melkbok, vleisbok, pluimvee en perde. Seuns en meisies tot 17 jaar neem in drie ouderdomsgroepe deel: junior-junior (vyf tot nege jaar), junior (tien tot 13 jaar) en senior (14 tot 17 jaar).

Kry die 2022 skou se program hier.

Madeline Kriel, koördineerder van Overberg Streeksjeugskou, sê dit is ’n kompetisie maar ook ’n leerskool waar sommige leerders eers net probeer en dan betrokke raak. Kinders moet die geleentheid gegun word om op ʼn landbouplatform te beweeg, veral vir diegene wat geen plaas- of boerderyblootstelling kry nie.

Die voorreg om met diere te werk en die verantwoordelik wees vir ʼn dier se versorging is van onskatbare waarde vir die kind se emosionele ontwikkeling. Die band wat tussen mens en dier gebou word, bied nie net ʼn veilige omgewing vir kinders nie, maar kweek ook selfvertroue en selfstandigheid.

Die Overberg Jeugskou is een van agt streekskompetisies in die Wes-Kaap waaraan leerders deelneem om vir die Wes-Kaapse Jeugskoukampioenskappe wat tydens Maart 2023 plaasvind, te kwalifiseer. Tydens die Wes-Kaapse kampioenskappe word daar ʼn span gekies wat aan die Nasionale Jeugskou deelneem.

Volgens Breyton Milford, voorsitter: Wes-Kaapse Jeugskouvereniging, kan en móét jeugskoue ’n groter rol in die Suid-Afrikaanse landbousektor speel. Dit is ’n voedingsbron vir toekomstige landbouleiers en word gesien in die prestasies van oud-jeugskoudeelnemers in naskoolse opleiding en die beroepswêreld.

Henk Aggenbach, voorsitter van Bredasdorp Park NPC en die Nampo Kaap-bestuur, sê ʼn geleentheid soos dié kan nie sonder ondersteuning van borge aangebied word nie. Die borge vir die Overberg Streeksjeugskou is Neptun, BKB, Hollard, Nedbank, die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Afrivet, Voermol, FJ Snyders, ARDS, Dirk Uys Prokureurs, Engen, Packtown, Bredasdorp SPAR, Agri-Expo, OVK, Varsmark en Hop In Supermark.

Daar sal voldoende sitplek wees en besoekers aan Nampo Kaap is welkom om te kyk hoe die deelnemers die diere vertoon, om so dié jong landbouliefhebbers te ondersteun. Leerders wat graag wil deelneem, kan Madeline Kriel by 071 280 0239 of krielm@hsbredasdorp.co.za kontak om in te skryf.

Toegangskaartjies is slegs aanlyn beskikbaar vanaf 1 Julie 2022 by www.ticketpros.co.za. Pryse is R80 vir volwassenes en R40 vir skoolgaande kinders. Voorskoolse kinders kom gratis in. Die ekspo duur van Woensdag, 14 September tot Vrydag, 17 September van 08:00 tot 17:00 en Saterdag, 17 September van 08:00 tot 14:00.

Besoekers kan gerus die Kaap Agulhas Toerisme-kantoor by 028 424 2584 of 082 896 2225 kontak, of besoek www.overberg-info.co.za vir verblyf. Vir meer inligting oor Nampo Kaap 2022, besoek www.expo.org.za of stuur ʼn epos aan admin@expo.org.za. – Persverklaring, Nampo Kaap

Related Posts

Weeklikse plaashek-rooivleispryse / Weekly farm gate red meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Die jongste vleispryse word...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Hydroponic feed for intensive sheep production

Academics around the world tend to reject hydroponic feed...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ivermektien: Veilig vir dier én mens?

Estimated reading time: 4 minutes Die potensiaal van ivermektien...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...