Estimated reading time: 3 minutes

Die wêreldrekordhouer in mielieproduksie onder droëlandtoestande, Kevin Kalb, sal die Africa Agri Tech Konferensie en Ekspo (AAT2023) vanaf 14 tot 16 Maart bywoon.
Vir Suid-Afrikaanse produsente is hierdie ‘n unieke geleentheid om te leer by ‘n mede-boer wat die afgelope vyf jaar met ‘n totale gemiddelde opbrengs van 19,5 t/ha kan spog, en wat die grense van mielieproduksie bly verskuif. Trouens, Kevin se persoonlike beste van 27,5 t/ha is gedurende die 2020/21 seisoen behaal, maar hy bly mik vir die magiese 30,95/t ha-merk.
Kevin boer al meer as 35 jaar en word gereken as een van die top mielieprodusente in Amerika, indien nie die wêreld nie. Sy boerdery, Kevin Kalb Farms, produseer mielies, sojabone en kalkoene, maar dit is sy rekord as 25-malige wenner van die Nasionale Mielie-opbrengskompetisie (National Corn Yield Contest) wat deur die Nasionale Mielieprodusentevereniging (National Corn Growers Association) aangebied word, wat hom as kenner op sy gebied uitsonder.
Vir Kevin begin sy boerdery by blaarmonsters en die inligting wat hy hieruit verkry dui die rigting aan wat sy bemestingsprogram moet loop. “Alles wat ek doen word op die neem van blaarmonsters gebaseer. Ek raai nie meer nie. Hoë-opbrengs mielies benodig gebalanseerde voedingstowwe wat toegedien word wanneer die plant dit die nodigste het.”
Sy resep klink dalk eenvoudig, maar dit is die klein jakkalsies wat die wingerd verniel. Tydens AAT2023 kan Suid-Afrikaanse mielieprodusente tydens Kevin se voorlegging die nodige kennis kry om hulle eie besighede te bevorder.
Die Kalb-familie is ook bekende gesigte in Amerikaanse landbougeledere met Kevin wat vroeg reeds een van die gunsteling-produsente op die program Corn Warriors was. Kevin was deel van reeks een tot vyf en sal nou voortgaan in die nuwe TV-reeks Live to Farm, wat fokus op die wel en weë van Kevin en sy vriend, Brooks Cardinal.
Hy is ook voorsitter van die Midwest Advanced Crop Consulting-program wat deur hom en Terry Vissing ontwikkel is. Hulle het dié program ontwikkel om hulle mede-produsente te help om opbrengste op hulle plase te verbeter.
Vir Kevin Kalb is landbou ‘n familie-besigheid en tesame met sy vrou Shawn, en hulle kinders Nikia, Rhyland, Emmersen en Kogen, ryg die familie een na die ander toekenning in.
Met Kevin en Shawn wat eersdaags met plaaslike produsente by die SunBet Arena in Pretoria tydens die AAT2023 kom gesels, is daar ‘n unieke geleentheid om met een van die top mielieboere ter wêreld te kom skakel. Sien jou daar!
Meer oor Africa Agri Tech
Die Africa Agri Tech Konferensie en Ekspo het ten doel om die landbou-, wetenskap-, en tegnologie-gemeenskappe in Suidelike Afrika by een geleentheid bymekaar te bring. Wêreldneigings en die vooruitgang in landbouwetenskap, -tegnologie en -innovering word bespreek en ten toon gestel. Voorste kenners en verskaffers in die bedryf sal inligting deel en uitstal. Die geleentheid bestaan uit ’n konferensie wat oor drie dae aangebied word, uitstallings, ’n geleentheid vir vroue in die landbou, ’n innoverings-uitdaging, voorleggings oor waagkapitaal, ’n buitelandse handelsaal, landbou-merietetoekennings, en die SA Landbou-heldesaal.
Vir meer inligting, contact Pula Dippenaar by 011 465 0099 of enquiries@africa-agri.co.za, of besoek www.africaagritech.co.za. Volg ons Facebook, Instagram, of Twitter.
