Kom kyk wat Nampo Kaap in 2023 bied

Estimated reading time: 3 minutes

Bredasdorp is besig om vere reg te skud vir die jaarlikse Nampo Kaap wat vanjaar van 13 tot 16 September 2023 op Bredasdorp Park. Graan SA en Bredasdorp Park NPC span kragte saam om die geleentheid aan te bied. Volgens Henk Aggenbach, voorsitter Bredasdorp Park se direksie, is daar 60 addisionele uitstalruimtes in die Voermolsaal ingerig.

Besoekers en uitstallers kan ook na ‘n nuwe eetplek en koffiestalletjie in die Voermolsaal uitsien. Die rasuitstallings, wat voorheen in die Voermolsaal geakkommodeer is, word vanjaar in ‘n veetent, agter die Voermol- en BKB-sale, gehuisves. Daar is ook tien nuwe standplase vir buite-uitstallers langs die Shellsaal ingeruim. Afgesien van die bestaande eetplekke en kosstalletjies is daar addisionele kosstalletjies wat bykom.

Lees meer oor Graan SA se nuwe handelsmerk hier.

2023 Merino Ope

Streek 9 van Merino SA sal die Merino Ope op 13 en 14 September in die BKB Veesentrum aanbied. Dit is oop vir alle Merino-stoet-, sowel as kuddetelers. Volgens Dewe Giliomee, een van die organiseerders, gaan hierdie ‘n innoverende, prestige geleentheid wees met interessante pryse en toeskouerdeelname.

Perdeprogram

‘n Hoogtepunt waarna besoekers aan Nampo Kaap 2023 kan uitsien is daaglikse vertonings deur die beroemde Suid-Afrikaanse Lipizzaners. Hierdie wit hingste sal besoekers betower met hul asemrowende bewegings.

Fusion Horsemanship gaan ook opleidingstegnieke vir perde demonstreer en die ruiters van Griffins Horse Achery gaan boogskutvertonings lewer. Besoekers kan ook ‘n verskeidenheid perderasuitstallings sien. Daarbenewens gaan al die verskillende rasse aan ’n daaglikse optog deelneem.  Lede van die Overberg Ponieklub sal ook weer ponieritte vir die jongspan aanbied.

Groen Energie-revolusie

Die tema vir Nampo Kaap 2023 is “Groen energie-revolusie” en ‘n verskeidenheid van die nuutste tegnologie in die groen-energiesektor sal tentoongestel word om besoekers die geleentheid te gee om die verskillende opsies wat beskikbaar is deeglik te kan opweeg.

Museumtent

Nog ‘n nuwe trekpleister by Nampo Kaap 2023 is ‘n toegewyde museumtent waar 19 Wes-Kaapse museums gaan uitstal. Besoekers sal kan sien hoe dinge in die verlede gedoen is met verskeie demonstrasies soos broodbak.

Uitsonderlike blommeprag

Nampo Kaap is bekend vir sy uitsonderlike blommeprag en Marjolijn Malan se indrukwekkende blommerangskikkings sal beslis nie teleur stel nie. Die tema vir vanjaar se blomme-skouspel is “Waar twee oseane ontmoet in die seekat se tuin. Besoekers sal ook weer die geleentheid kry om te stem vir die rangskikking van hul keuse. Die Shell-saal sal ook weer gevul wees met ‘n fees van die Overberg se fynbos.

Landbou vir die toekoms

Die toekoms van landbou is baie hoog op die agenda vir Nampo Kaap 2023.  Die Nampo Kaap Skoleprogram, wat in 2022 van stapel gestuur is, het tot ‘n geleentheid vir 300 leerders van skole wat landbou as vak aanbied, gegroei. Hier kan die leerders dit wat hulle in die klaskamer leer aanvul met praktiese ervarings wat die kurrikulum ondersteun.

Die jaarlikse Overberg Streeksjeugskou vind Saterdag 16 September plaas. Leerders kan vir die volgende klasse: suiwelbees, vleisbees, vleisskaap, wolskaap, veselbok, melkbok, vleisbok, pluimvee, perd, konyn, duif, kulinêre kuns en suiwelbereiding inskryf. Seuns en meisies tot 17 jaar neem deel in drie ouderdomsgroepe: junior-junior (5 tot 9 jaar), junior (10 tot 13 jaar) en senior (14 tot 17 jaar).

Vir die skoner geslag

Die  vroueprogram met Mynhardt Joubert, Willem Botha en Jak de Priester beloof om ‘n fees van verleidelike kos, mooimaakgeheime en bekoorlike musiek te wees. Die Nampo Kaap instap-skoonheidsalon was ‘n groot treffer in 2022 en sal weer ‘n geleentheid bied waar vroue kan ontspan en die behandeling van hul keuse kan geniet.

Sien jou daar!

Toegangskaartjies is vanaf 1 Julie 2023 by www.ticketpros.co.za aanlyn beskikbaar. Pryse is R80 vir volwassenes en R40 vir skoolgaande kinders. Voorskoolse kinders kom gratis in. Die ekspo duur van Woensdag, 13 September tot Vrydag, 15 September van 08:00 tot 17:00 en Saterdag, 16 September van 08:00 tot 15:00. Besoekers kan die Kaap Agulhas Toerismekantoor kontak vir verblyf by 028 424 2584 / 082 896 2225 of www.overberg-info.co.za.persverklaring, Graan SA

Vir meer inligting oor NAMPO Kaap 2023, besoek www.expo.org.za, kontak Chrystal van Wyk by 028 050 1385 of stuur ‘n e-pos aan admin@expo.org.zaPersverklaring, Nampo Kaap

RSG Landbou: 2 Oktober 2023 – geborg deur Plaas Media

Goeie nuus vir landbou en inwoners wat afhanklik is van water uit die Kougadam...

Plaas TV: Klimaatslim boerdery, AFMA Forum, Agbiz Graan- en Oliesade-simposium en Kubota-trekkers

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is...

Strategies for managing seasonal infertility in pigs

Estimated reading time: 7 minutes The phenomenon of seasonal infertility among pigs is real,...

Avoid unilateral changes to the employment contract

Estimated reading time: 4 minutes The employment contract can be of immense value to...