Estimated reading time: 4 minutes
‘n Trailblazer: ‘n Voorloper. Iemand wat die weg aanwys; ‘n baanbreker. Iemand wat sy of haar kennis graag deel en hul eie kennis onverpoosd uitbrei en weet hoe om hulpbronne aan te wend. Iemand wat voortdurend hul vaardighede slyp en by veranderende omstandighede kan aanpas. Iemand wie se sukses verbetering aanmoedig en die doelpale verskuif.
Is jy so ‘n baanbreker of streef jy bloot daarna om voor te vat? Is verbetering en uitnemendheid deel van jou veeboer-DNS? Maak dan seker jy bespreek jou plek by die 2026 SA Stamboek Trailblazer en kom skuur skouers met die voorlopers in die wêreld van veeteling en -verbetering. Hierdie uitgesoekte groep sal op 28 en 29 Oktober by Tuscan Rose in Bloemfontein bymekaarkom om na die bedryf se denkleiers en hul produsente-eweknieë te luister – hetsy om kennis in te win of bloot om te bevestig wat dit vat om ‘n teler te wees wat glo in die krag van tegnologie en goeie telingspraktyke.
‘n Program wat inlig, opvoed en erkenning gee
Maak reg vir ‘n vol program wat die oggend van 28 Oktober met die SA Stamboek/Landbouweekblad Vee-Akademie afskop. Bekende en gerespekteerde sprekers van regoor die waardeketting sal gesels oor bedryfsake – van boere en bedryfsleiers tot tegnici en genetici.
Daarna volg twee Trailblazer-sessies – een die middag van 28 Oktober en die ander op 29 Oktober. Voorlopers uit die bedryf sal afgevaardigdes by beide sessies toespreek oor sake soos dieregesondheid, die ontsluiting van die waardeketting, genetiese verbetering en produksiepotensiaal. Kom luister na stemme soos dié van Dorper-teler, Charl Saunderson, Daniel Helou van die entstofvervaardiger, Biogénesis Bago, en dr Gerhard Neethling, algemene bestuurder van die Rooivleis-abattoirvereniging. Hulle sal gesels oor aspekte van wissel van produksiepotensiaal tot bek-en-klouseer entstofproduksie en marktoegang.
Michele Maartens, ‘n veterinêre tegnoloog en laboratoriumbestuur, sal ‘n nuwe perspektief op die kuns en wetenskap van veediagnostiek bied. Waardekettingsake soos samewerking en hoe om meer waarde uit rooivleis te ontsluit, sal deur dr Bobbie van der Westhuizen van SA Stamboek en Chris Burgess van Landbouweekblad/African Farming bespreek word.
Een van die groot trekpleisters van die Trailblazer-geleentheid is die jaarlikse prysuitdelingseremonies. Vanjaar se toekenningsgeleenthede sal oudergewoonte erkenning gee aan uitnemendheid in kleinvee- en vleisbeesteling. Logix-sertifikate, van meriete en brons tot silwer, goud, dubbelgoud en platinum, sal tydens die seremonies aan telers oorhandig word. Hierdie toekennings dek die tafel vir die prestige jaarlikse SA Stamboek Elite-toekennings wat in 2027 aangebied word, en waartydens die onderskeie nasionale wenners aangewys sal word.
‘n Bedryfskuier om die braaivleisvuur
Die bedryfskuier vind die aand van 28 Oktober plaas en sal die opwindende nuwe formaat wat in 2025 die eerste keer gevolg is, herhaal. Dit behels natuurlik ‘n heerlike plankie-braai waar verskeie telersgenootskappe mekaar die stryd sal aansê en hul beste vleisie sal voorsit. Die doel van die funksie is om vleis in die kollig te plaas … op die braaivleisvuur, in goeie geselskap. En net soos laasjaar sal die teenwoordiges geleentheid kry om vir hulle gunsteling braaivleis te stem, sodat ons nog ‘n wenner op die Vleis Elite-ererol kan verewig.
Opgewonde? Maak dan seker jy bespreek jou plek.
KOSTE
- Registrasie vir die Trailblazer-sessies is R230 (BTW insl.) per persoon per sessie.
- Registrasie vir die bedryfskuier is R230 (BTW insl.) per persoon.
- Registrasie vir die Vee-akademie is R250 (BTW insl.) per persoon.
OM VIR EEN OF MEER van die geleenthede te bespreek, besoek die LogixShop by www.logixshop.co.za en klik op EVENTS.
Vir meer inligting en navrae:
- Vir die Trailblazer-sessies, stuur ‘n e-pos na events@studbook.co.za
- Vir die Vee-akademie, stuur ‘n e-pos na reza.clifford@media24.com
