Kies só die beste paardatum vir wolskape

Estimated reading time: 6 minutes

  • Die resultate van 36 jaar se skandering sedert 1986, toon dat die beste konsepsie-, lam- en lam-merkpersentasie by wolrasse, in April en Mei behaal word.
  • Skape reageer op ’n verkorte dagliglengte en daar is ’n vertraging van ses tot tien weke vanaf die somersonstilstand (21 Desember) vir ooie om die hoogtepunt van hul ovulasietempo te bereik. Van die herfsdag-ewening (20 Maart), bly ooie vir twee maande op piek ovulasievlakke.
  • In kommunale areas, waar ramme heeljaar saam met ooie loop, vind ons dat ooie natuurlik na ’n laat Desember- tot Januarie-dekseisoen beweeg. Die gevolg is dat die ooie in Junie lam en aan wanvoeding tesame met lae melkproduksie ly.

Die resultate van 36 jaar se skandering sedert 1986, toon dat die beste konsepsie-, lam- en lam-merkpersentasie by wolrasse, in April en Mei behaal word.

Herfsparing

Skape reageer op ’n verkorte dagliglengte en daar is ’n vertraging van ses tot tien weke vanaf die somersonstilstand (21 Desember) vir ooie om die hoogtepunt van hul ovulasietempo te bereik. Van die herfsdag-ewening (20 Maart), bly ooie vir twee maande op piek ovulasievlakke.

Daarom kan die grootste aantal potensiële lammers (ook tweelinge) van 20 Maart tot 20 Mei geproduseer word. Die gemiddelde konsepsiesyfer vir herfsparing is 93%. Ons het selfs so laat as 1 Junie troppe met uitstekende resultate vir paring gehad.

Lenteparing

Paring van Julie tot Desember is dikwels wisselvallig. Ons rekords oor dekades toon dat die gemiddelde konsepsiesyfer vir hierdie tydperk, sowat 30% onder die gemiddelde van die herfsparing is. Die produksie van tweelinge in hierdie tydperk is tussen 25 en 75% minder as die gemiddeld van die herfsparingsgroep.

Somerparing

In kommunale areas, waar ramme heeljaar saam met ooie loop, vind ons dat ooie natuurlik na ’n laat Desember- tot Januarie-dekseisoen beweeg. Die gevolg is dat die ooie in Junie lam en aan wanvoeding tesame met lae melkproduksie ly. Die lammers ly aan uitsaklamsindroom en het nog erger wanvoeding onder lede wanneer hulle gespeen word. Ervare boere het opgemerk dat paring meer suksesvol is as die kudde na die berg verskuif word waar dit koeler is.

Ramme kan onder die gevolge van hitte ly en ons vind dikwels dat dit semengehalte verlaag. Navorsing het getoon dat embrio-oorlewing verlaag by ooie wat te midde van uiters hoë temperature gepaar word.

Lees meer oor die sinkronisasie van skape hier.

Heeljaar-paring

Ons het ’n klompie troppe geskandeer waar die ooie die hele jaar by die ramme loop en het gevind dat droë ooie wat elke twee maande geskandeer word, oor die algemeen (selfs al loop hulle op besproeiing) eers teen ongeveer 15 November dragtig word. Daar is ook ’n klein aantal ooie wat selfs in September al dragtig is, en dan weer in die herfs dragtig word. Sommige jare is die besettingsyfer baie laag en dit wil voorkom asof ooie eers werklik in Januarie op hitte begin kom.

Wanneer ooie in September, Mei en Januarie gepaar word, kan dit goed begin, maar die meeste troppe word gewoonlik Januarie- en Mei-paringstroppe, terwyl paringstroppe in September heeltemal faal.

Die Merino-ras het intussen dramaties verbeter en ons hoef nie meer te wag totdat ’n jong ooi sestand is, voordat sy gepaar kan word nie.

Verbeterde lenteparing

Merino’s kan van September tot Mei dragtig word, terwyl die winterreënvaltroppe gewoonlik baie suksesvol in die herfs lam en selfs hoë tweelingsyfers kan oplewer. Dit is geneties moontlik. Ooie wat in die lente dragtig word, word as genetiese langseisoen-ooie beskou wie se nageslag dieselfde gene dra. Ramlammers van ooie wat suksesvol in die lente gepaar is, sal dieselfde gene dra en die genetiese bydrae sal dus van albei ouers af wees. Met verloop van tyd word dit geneties ’n langseisoen-kudde wat met goeie seleksie tot beter merk- en speenpersentasies lei.

Indien die omgewing ’n lentedekseisoen bepaal, kan dit as ’n volhoubare praktyk bedryf word. Wat die somerreënvalgebiede betref, is die normale praktyk egter om ramme te gebruik wat in die herfs geteel is. Die bydrae van die ram tot ’n genetiese lang seisoen word dus nie gewaarborg nie.

Nog ’n praktyk is om die droë ooie van die winterskandering weer in September en Oktober te paar. Hierdie ooie het reeds hul lae vrugbaarheid bewys en gaan waarskynlik daardie swak prestasie herhaal. Selfs ooie wat wel tydens die herfsparing dragtig geword het, maar weens swak moedereienskappe nie ’n lam kon grootmaak nie, sal waarskynlik in die lente droog wees. Die vrugbaarheid van ooie hou verband met die aspekte wat bydra tot swak moedereienskappe.

Hou die volgende reëls in gedagte:

Reël 1: Kies lenteparingsooie en ramme uit langseisoen-troppe.

Reël 2: Uitskotooie wat in die herfsdekseisoen misluk, moet nie na die lentedekseisoen geskuif word nie. Vroeë paring van jongooie (op 12 maande) neem toe en sal seleksie vir ’n lang seisoen verhoed. Studies wat op hierdie stelsel gedoen is, het getoon dat daar geen voordeel uit die vroeë paringspraktyk in ekstensiewe stelsels is nie. Alle maatstawwe in hierdie stelsels (lammers, speengewigte, wolgewigte en leeftydproduksie van ooie) is laer as wanneer ooie op 19 maande gepaar word.

Reël 3: Hou jongooie in die kudde waarin hulle gebore is. Ons het baie produsente gehelp met die teel en seleksie van ramme met hoër genetiese vrugbaarheid wat bygedra het tot voordele by voortplanting, moedereienskappe en lamoorlewing, asook weerstand teen parasiete. Waar moontlik het ons ramme meestal uit die lenteparingsooie gekies, wat tot ’n groot verbetering in die produksie van lente- sowel as herfsparingstroppe gelei het.

Reël 4: Teel jou eie vervangingsramme uit die langseisoen-kudde as jy ernstig is oor goeie resultate in jou lenteparingskudde.

Faktore wat die seisoen bepaal

Dit sal ’n wyse besluit wees om die volgende opsies te oorweeg voordat ’n besluit oor die paarseisoen geneem word:

  • Is die ooie ‘langseisoenaal’ of nie?
  • Sal grassade die jong lammers beïnvloed?
  • Kan koue tydperke tot lamvrektes lei?
  • Is daar genoeg weiding vir die ooie om melk te produseer? Ooie benodig dubbel die hoeveelheid energie tydens laktasie.
  • Is daar erge haarwurmuitbrekings wanneer lammers twee tot ses maande oud is?
  • Sal die lammers teen die beste moontlike prys bemark kan word?
  • Is daar genoeg weiding vir die gespeende lammers?
  • Sal brommeraanvalle ’n probleem tydens stertsny wees?
  • Sal skeerders beskikbaar wees om die ooie te skeer?
  • Sal lamtyd bots met ander aktiwiteite, soos oes, op die plaas?
  • Is daar genoeg lamkampe wat geskik sal wees vir die doel?
  • Sal die groenvoer (hawer) in ’n top-kondisie wees wat goeie melkproduksie sal stimuleer?
  • Moet die paring van ooie opgedeel word as gevolg ’n beperkte hoeveelheid ramme?

Aantal ramme wat nodig is

Ons waarnemings oor dekades toon dat te veel ramme in die meeste troppe gebruik word. Wanneer die aantal ramme verminder word, neem die skanderingspersentasie altyd toe.

Ons kies gewoonlik ’n A-span vir gebruik in die eerste siklus van 17 dae en ’n B-span vir die tweede siklus. Die gevolg is dat ons altyd met ’n baie hoër lampersentasie eindig. Die voorspelde paringskapasiteit dui daarop dat die eerste siklus ramme 70 tot 100 ooie kan dek en dat die keuse van die A-span op hul geslagsgeskiktheidsvlakke, tot ’n vinnige verbetering in die kudde lei.

Die huidige praktyk van 3 tot 4% ramme by die ooie berus op die ervaring toe oorplooide, laat-geslagsryp Merino-ramme destyds gebruik is. Die Merino-ras het intussen dramaties verbeter en ons hoef nie meer te wag totdat ’n jong ooi sestand is, voordat sy gepaar kan word nie.

Jare gelede sou 4% ramme benodig word, maar met die moderne wolrasse het 1% ramme ’n algemene praktyk geword. Ons het ook al troppe geskandeer waar ’n rondloperram binne drie weke 240 uit 300 ooie gedek het. Sommige stoettelers het ook proewe op jong Merino-ramme gedoen en gevind dat hulle tot 150 of meer ooie in een siklus kan dek.

Die les is kortom dat die gebruik van minder, maar beter, ramme sal bydra tot kuddeverbetering en indien dit reg bestuur word, sal dit nie tot verhoogde inteling lei nie. – Dr Johan van Rooyen, spesialisveearts, Steynsburg-dierekliniek

Vir meer inligting, kontak dr Van Rooyen by 082 463 30587, Wandile Khave (kuddegesondheidsbestuurder) by 066 303 6271 of Aluta Siko (praktykbestuurder) by 071 123 0470.

Popular stories