Monday, August 15, 2022

Kies ’n motor wat jou behoeftes pas

Estimated reading time: 4 minutes

Ons het ’n regte egte Zoeloeprinses wat by die plaaskantoor werk. Gelukkig vir ons is Mbali nie die tipe prinses wat nie op ’n ertjie onder die matras kan slaap nie, maar sy is vinnig om haar vingertjies vir jou te klap.

Sy het onlangs haar bestuurslisensie gekry en het lank vir ’n deposito op ’n gebruikte motor gespaar. Sy wou ’n Hilux hê, tot sy gesien het dat ’n tweedehandse een in ’n goeie toestand deesdae amper ’n miljoen rand kos ‘weens ’n tekort’.

Die slegte nuus, sê ek vir haar, is dat die tekort vir die res van die jaar gaan duur, aangesien die April-vloede in Durban groot dele van Toyota se aanleg in Prospecton verwoes het.

Read it in English.

Mbali erken sy het nie eintlik ’n bakkie nodig nie. Sy wou net so graag een hê met groot bande en ’n blink bosbreker, en
kon ek, synde ek dan nou ’n petrolkop is, daarmee help?



Ek laat haar toe sit en neem haar deur ’n kort, logiese proses van eliminasie om ‘n voertuig volgens haar behoeftes te kies – nie van haar drome nie! My eerste vraag aan haar was wat die hoofdoel van die voertuig gaan wees: Wil sy mense of vragte rondry?

My doel was om haar eie antwoorde in meer logiese vrae te laat vertak. Ek vra haar toe op watter tipe paaie sy gaan ry en watter soort vragte sy gaan vervoer. In die geval van grondpaaie, mik vir hoog. As die vragte swaar gaan wees, mik vir krag.

Volgende probeer ek die tipe vrag vasstel. As dit mense gaan wees, hoeveel sitplekke? Indien goedere, watter vorm en gewig? Soos ’n ware koninklike voel Mbali toe nou geregtig op ’n bietjie van albei. Sy moet haar nefies en niggies by die skool aflaai, en swaar emmers en 25kg-sakke mielies oplaai. Dus, ’n groot laai-area met maklike toegang en minstens ’n kwartton se laaivermoë.

Op hierdie stadium het ons reeds die sedans en bakkies uitgeskakel, en kyk net na nutsvoertuie en paneelwaens. Dit is hier waar ek vir Mbali vra hoeveel geld sy al vir die motor gespaar het. Sy was nogal trots op die bedrag – die helfte van haar salaris, wat haar in ’n posisie plaas om ’n lekker tweedehandse motor met lae kilometers aan te skaf.

Ek verduidelik toe dat, buiten die maandelikse paaiement, die bedrag ’n diensplan en waarborg, asook duur versekering vir ’n jong, eerste bestuurder en ’n konserwatiewe loopkoste van sowat R2/km moet dek.

Toe sy weer die berekening op die webwerf maak – hierdie keer met slegs R3 000 vir die paaiement, knip die antwoord ons
planne behoorlik kort en ons land pens en pote in die middel van die ‘behoorlikgebruikte’ kategorie.

Tot op hede het Mbali nog groot verwagtinge vir ’n SUV gehad, maar die verskillende sokkerma-taxi’s wat in hierdie prysklas val, was skaars goed genoeg vir die onderdele alleen.

Gelukkig is hierdie gedeelte ook waar die dubbelkajuite en minibussies gelys is. Dit bied ’n goeie seleksie van sulke tipe werkesels – van Changan Stars tot VW Caddys.

Maar ek wys haar daarop dat diesel by die koöperasie minder kos en verder strek as petrol, wat die lys toe na dieselvoertuie verkort.

Hieronder kry ons toe ’n juweel. Een met ’n 1,9 turbo-dieselenjin wat deur Iveco vervaardig is, wat ons eie werktuigkundige kon diens. Ses breë sitplekke op ’n plat vloer vir baie beenruimte. ’n Lang laaibak met ’n lae vloer en goeie padvryhoogte.

Mbali gee egter een kyk na die 2004 Fiat Multipla en kan nie ophou lag nie. Toe sy uiteindelik weer asem skep, merk sy wel die lae prys op. Ten spyte van verskeie toekennings en sy reputasie as die mees ergonomiese gesinsmotor ter wêreld, het hierdie lelike Fiat nooit goed verkoop nie en dus geen tweedehandse waarde gehad nie.

So leer Mbali toe die formule om ’n motor met jou kop, en nie jou hart nie, te kies: Laat behoefte die funksie inlig, en die funksie die vorm dikteer.

Lees hier wat oom Schalk sê van veiligheidstelsels in motors.