Kies die regte baler vir jou doel

76
Hierdie groot vierkantbaler van Krone word deur Rovic Leers in Suid-Afrika verkoop en lewer tot 25% swaarder bale.

Estimated reading time: 4 minutes

Om ’n baler te koop is soos om ’n kamera of ’n voertuig te koop. Jy moet eers weet wat jy daarmee wil maak, voordat jy kan besluit watter een die geskikste vir jou doel is.

Daar bestaan verskillende behoeftes na verskillende vorme en groottes van bale, en hedendaagse tegnologie is aangepas om in elke behoefte te voorsien. Daar is ’n groot verskeidenheid van balers met verskillende funksies beskikbaar en Veeplaas het by Carel Steyn, produkbestuurder by Rovic Leers, gaan aanklop om uit te vind watter aspekte oorweeg moet word wanneer produsente die kapitale uitleg wil aangaan om ’n baler te koop.

Die doel bepaal die middele

Hy sê daar is ’n paar vrae wat ’n produsent homself moet afvra by die aankoop van ’n baler. Die eerste is wat hy op die lang duur met die bale wil maak.

“Daar is ’n doel vir elke soort baal wat gemaak word. As jy dit vir eie gebruik wil aanwend, sal die rondebaler waarskynlik die beste opsie wees. Daar is egter ook vaste sowel as wisselende baalkamers beskikbaar. Die wisselende baalkamers sal altyd die swaarste baal lewer, en dan het jy altyd die opsie om die deursnee van die baal te verander, sou die behoefte ontstaan. Die vaste baalkamers is weer goedkoper en bly daarom die gewildste,” verduidelik hy.



As ’n produsent bale maak om te verkoop, sal die mark waar hy verkoop ook sy keuse van ’n baler beïnvloed. “Die klein vierkantbale is baie gewild onder perde-eienaars en kleiner verbruikers. Aan die ander kant het die uitvoer van lusern oor die afgelope paar jaar gewild geword en hiervoor is groot vierkantbale die beste opsie, omdat hulle die beste digtheid lewer. Weens die vorm van die baal, kan daar altyd ’n volvrag gelaai word, hetsy op ’n vragmotor of in ’n skeepvaarthouer.”

Volgens Carel het die mees algemene baler ’n deursnee van 1,25m, sodat dit makliker vervoer kan word. Hy sê die uitvoermark verkies die 1,2 x 0,9m baalgrootte, maar daar is ’n mark vir 1,2 x 0,7m bale in die binneland. Daar is dus ’n baler vir elke behoefte, en die voornemende koper moet eers seker maak wat hy met die bale wil doen voordat hy die kapitale uitleg aangaan.

Ander aspekte om te oorweeg sluit in of die trekker wat die produsent gebruik, groot genoeg is om die baler te hanteer, en of ’n nuwe trekker nodig is. Die vasmaak van voltooide bale is ook belangrik. “Vir rondebalers verkies 90% van die mark om die bale met net te bind. Jy moet bepaal of die baler toegerus is vir dié doel,” sê Carel.

Naverkopediens en instandhouding

Baie landboutoerusting staan vir ’n groot deel van die jaar in ’n stoor, maar in die paar weke wanneer dit gebruik word, mag niks daarmee verkeerd loop nie. By die aankoop van ’n baler is een van die belangrikste vrae of die handelaar die baler onmiddellik kan diens indien nodig, en of onderdele geredelik beskikbaar is.

Landboutoerusting moet deurgaans in stand gehou word en elke masjien word met ’n instandhoudingskedule verkoop. Carel sê dit is belangrik dat hierdie handleiding nagegaan word om te weet waar al die ghriespunte is en hoe gereeld dit gesmeer moet word.

“Die dryflyn is ook baie belangrik. Kettings moet smering kry en die spanning
moet verstel word om ’n lang dienslewe te verseker. Die belangrikste instandhouding op ’n baler, is die hoogste verstelling van die opteldrom. Wanneer die tande baie naby aan die grond is, tel dit baie meer vreemde materiaal soos klippe en grond op. Dit het ’n direkte invloed op slytasie en die instandhoudingsbehoefte van balers.

“Net so moet ratkaste se olie nie vergeet word nie. Dit moet normaalweg een
keer per seisoen of ná elke 200 ure van gebruik, vervang word.” Kortom: ’n baler wat goed versorg word, sal uitstekende diens oor ’n lang tyd lewer. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Carel Steyn by 082 819 7248 of besoek Rovic Leers se webtuiste by www.rovicleers.co.za.