Die jaarlikse TLU SA Jongboerkonferensie is op 15 Maart suksesvol aangebied. Die president van TLU SA, Louis Meintjies, het sy waardering uitgespreek teenoor die sprekers wat elk op sy terrein ’n kenner is vir spesifiek die wyse hoe hulle hul kennis met die jong manne gedeel het.

Dit sluit in George Barnard wat gepraat het oor graanverbouing in uiterste omstandighede, dr Hannes Dreyer oor die veebedryf in Suid-Afrika en dr Hennie Davel wat toeligting gegee het oor landbou en die ekonomie van Suid-Afrika.

Die konferensie-inhoud is deur verskeie uitstallers aangevul wat hul produk of diens aan die jongboere bekendgestel het. Onder die uitstallers was die Landbousektor Voorsorgfonds by wie se uitstalling boere meer kon leer oor die waarde wat dié fonds bied.

Die fonds het saam met Plaas Publishing, die uitgewer van Veeplaas en Farmbiz, uitgestal en het die afgelope vier maande ’n veldtog in dié twee tydskrifte en op die webwerf www.agriorbit.com van stapel gestuur om groter bewustheid oor die fonds en sy voordele te skep. Klik hier vir meer oor die veldtog. ’n Gelukstrekking is deur die fonds, in samewerking met Plaas Publishing gehou, en twee gelukkige wenners het elk ’n lekker geskenkpak gewen.

Terugvoer is ook op die konferensie gegee oor die pasafgelope besoek van die wenners van die jaarlikse jongboerkompetisie as gaste van Manitou aan Frankryk. Buiten Manitou is Mutual & Federal Agri ’n medeborg in die vorm van ’n kontantprys van die kompetisie en het Mahindra ook vir vanjaar se kompetisie hul betrokkenheid aangekondig deur ’n bedrag te bewillig wat aangewend kan word deur die wenner om enige kursus by te woon met die oog op verdere opleiding. Boere jonger as 35 wat lid is van TLU SA, word aangemoedig om in te skryf en kan meer besonderhede by Runel by epos sekretaresse@tlu.co.za kry.

Groot waardering is ook uitgespreek teenoor die vorige jaar se komitee onder leiding van Elzet Rautenbach vir al die werk wat hulle verrig het. Tydens die konferensie is Derick Kuün as voorsitter vir die komende jaar gekies. Die komitee bestaan uit ’n streekvoorsitter in elk van die provinsies en die voorsitter. – Persverklaring

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY