Kenners deel kennis by Skaapboer van die Jaar-boeredag

Estimated reading time: 3 minutes

Die Nasionale Skaapboer van die Jaar vir 2023, Wikus Bekker, het onlangs ’n inligtingsdag by De Oude Kraal Country Estate naby Bloemfontein aangebied. Die dag het ’n reeks sprekers ingesluit, waaronder dr Natanya Smit van Zoetis, dr Josef van Wyngaard van Voermol, Dawie Maree van FNB, Isak Staats van BKB en Kenneth Crampton van Voermol. Crampton het die gaste verwelkom en agtergrond oor die Nasionale Skaap- en Beesboer van die Jaar kompetisie gegee.

Daarna was Dawie Maree aan die woord met: “Wat is jou wedstrydplan?”. Hy het die gaste ingelig oor sy vooruitsigte vir die lewendehawe sektore en daarna uitgebrei oor die geel- en rooikaarte vir ’n boerdery. Geelkaarte dui op aspekte wat ’n demper op jou boerdery se vooruitgang kan plaas soos om nie betyds met finansiële instellings te praat wanneer jy agterkom dat jy in die moeilikheid is nie.

Om oor-optimisties te wees kan ook ’n geelkaart wees omdat finansiële kennis nie noodwendig beteken dat jy finansies goed kan bestuur nie.

Rooikaarte is ernstiger en sluit risiko’s soos dieregesondheid (bv bek-en-klouseer) en geo-politieke faktore in wat handelsverhoudinge kan versuur. Maree het genoem dat elke produsent ’n wedstrydplan in plek moet hê. Hier moet jy jou speelveld gaan evalueer. Wat het jy? Wat is die berekeninge in jou area? Is vertikale integrasie moontlik? Kan skuld gekonsolideer word?

Lees meer oor Konsortium Merino hier.

Entstowwe en voeding

Isak Staats het in sy praatjie “Hoe sien jy jou gat?” ’n motiveringsfokus aangeneem. Hy het beklemtoon dat sukses nie ’n eindpunt is nie; daar is goeie dae en slegte dae. Hy het die gaste aangeraai om nie arrogant te wees nie en benadruk dat selfondersoek so nou en dan goed is. Staats meen dat dit krities is om die regte mense in jou besigheid of span aan te stel om vooruitgang te verseker.

Dr Natanya Smit het oor die rol en belangrikheid van entstowwe gepraat. Sy het eers verduidelik hoe immuunsisteme werk en hoe entstowwe ’n immuunreaksie veroorsaak. Die belangrikheid van ’n skraagdosis is ook genoem. Sy het die verskille tussen dooie (geïnaktiveerde) en lewendige entstowwe uitgelig, asook die voor en nadele van elke tipe.

Dr Van Wyngaard het in sy gesprek oor voeding gefokus op hoe om die potensiaal uit jou diere te haal. Hy het aan die gaste verduidelik dat daar spesifieke tye, soos laat-dragtigheid en vroeë-laktasie, is wanneer dit baie belangrik is om die regte voeding beskikbaar te stel vir jou diere.

Arbeidsverhoudinge en lojaliteit

Wikus Bekker, die Skaapboer van die Jaar-wenner vir 2023, was die laaste spreker van die dag. Hy het die gehoor ingelig oor hoe hy sy arbeidsverhoudinge bestuur. Hy het beklemtoon dat daar nie plek is vir skree nie en dat mense se potensiaal verskil. Dit is belangrik om mense op die regte plek te gebruik om die meeste uit hulle uit te haal en hulle gelukkig te hou.

Lojaliteit lê Bekker na aan die hart en hy is van mening dat dit nie die moeite werd is om elke jaar tussen agente of kopers rond te spring op soek na ’n effe beter prys nie. Hy voel dat elke boer teeldoelwitte in plek moet hê en dat hulle effe aangepas kan word, maar nie heeltemal verander nie. Dit neem tyd om verskille in jou kudde te sien terwyl jy die doelwitte nastreef. Hy het boere aangeraai om nuwe planne eers kleinskaal te beproef voordat dit oor die hele boerdery geïmplementeer word. Volgens hom is dit soms beter om jou planne eenvoudig te hou eerder as om dinge onnodig ingewikkeld te maak. – Dr WA Lombard, Plaas Media

Prickly pears as a grazing crop

Estimated reading time: 8 minutes The first prickly pears arrived in South Africa shortly after...

’n Belegging in prestasietoetsing verseker volhoubare kuddeverbetering

Estimated reading time: 4 minutes Diere se prestasie word bepaal deur hul genetiese samestelling sowel...

Pak die lente- en groenweidingsuitdagings trompop

Estimated reading time: 4 minutes Die lenteseisoen in Suid-Afrika se somerreënvalgebiede kan om verskeie redes...

Unlocking production potential, one step at a time

Estimated reading time: 8 minutes Unlocking the full production potential of the livestock industry –...