Estimated reading time: 7 minutes
Die toekoms van die kanolabedryf in Suid-Afrika is vanjaar in een van die sessies van ‘Nasie in Gesprek’ by Nampo Kaap op Bredasdorp bespreek. Groei in die kanolabedryf, hoe die bedryf se potensiaal ontsluit kan word en die uitdagings wat produsente en verwerkers ondervind is bespreek.
Theo Vorster, hoof uitvoerende beampte van Galileo Capital, het die gesprek gelei. Die paneel wat aan die bespreking deelgeneem het was Pieter Malan, hoofbestuurder van graandienste by SSK in Swellendam, Koos Blanckenberg, ’n graanprodusent van Klipheuwel in die Swartland en ook voorsitter van die Kanolaspesialiste Komitee, Kellie Becker, besturende direkteur van Southern Oil (SOILL), en José de Kock, ’n graanprodusent van die plaas Klipheuwel naby Napier in die Wes-Kaap.
Kanola ’n groeiende bedryf
Malan het gesê kanola-aanplantings het van van 68 000 ha per jaar in 2012, 2013 en 2014 toegeneem tot ’n gemiddelde van 119 000 ha per jaar die afgelope drie jaar. Dit is ’n verhoging van 70% in die oppervlakte onder kanola oor tien jaar.
Die totale opbrengs het gegroei van 100 000 ton in 2014 tot vanjaar se oes wat, afhangende van die gemiddelde opbrengs, van 215 000 ton tot 263 000 ton kan beloop. Hy voorsien dat die kanola aanplantings tot 145 000 ha kan toeneem. “Die addisionele oppervlakte is in die Wes-Kaap beskikbaar, maar daar is ook groeimoontlikhede in die Oos-Kaap. Kanola is dus ’n groeiende bedryf,” het Malan gesê.
Blanckenberg het gesê kanola is ’n uitstekende wisselbougewas en ’n alternatief tot koring en gars. Dit pas goed in saam met kleingrane en ook in bewaringsboerdery.

Nuwe tegnologie en navorsing nodig
Blanckenberg reken nuwe tegnologie in kanolasaad wat binnekort in Suid-Afrika beskikbaar kan word, kan ’n groei in opbrengs per hektaar meebring. “Ek sien eerder ’n groei in opbrengs per hektaar as ’n groei in hektare geplant. Daar is al produsente wat met die nuutste kultivars tot drie ton/ha kry.”
Malan het gesê kanola-navorsing in Suid-Afrika en die implementering van nuwe tegnologie is baie belangrik om die bedryf volhoubaar te laat groei. Teen die huidige kanolapryse is die gelykbreekpunt vir kanolaproduksie sowat 1,4 ton per hektaar. “Ons gemiddelde opbrengs van ongeveer 1,8 ton per hektaar laat nie veel ruimte vir terugslae nie. Dit beteken selfs as iets kleins verkeerd loop, kan produsente gelyk met of onder gelykbreekpunt wees.”
Hoewel die Wes-Kaap ’n droë produksiegebied is, vergelyk die gebied se gemiddelde produksie goed met dié van die res van die wêreld. Becker het gesê die gemiddelde wêreldopbrengs is 2,02 ton/ha. In 2020 was die Wes-Kaap se gemiddelde opbrengs 2,2 ton/ha. Vanjaar se gemiddelde produksie word op sowat 1,9 ton/ha geskat. “Ons gemiddelde kanola-opbrengste oor die langer termyn van 1,8 ton/ha is dus in lyn met die beste in die wêreld.
Groeiende vraag na kanola
Becker het gesê die groei in aanvraag na kanola-gebaseerde produkte word gedryf deur aggressiewe bemarking en verkope. Die vraag vir spesifieke kanola-olieprodukte beloop 140 000 ton tot 150 000 ton per jaar, wat ongeveer die helfte van die oes is. Die res van die oes word as plaasvervanger vir sonneblom- en sojaboonolie aangewend.
SOILL se ligging is tot voordeel van die maatskappy in die Wes-Kaap teenoor verwerkingsaanlegte in die noordelike provinsies. Dit geld ook vir kanola-oliekoekmeel waar die maatskappy eienaarskap van die Wes-Kaapse veevoermark kan neem en sy oliekoek aan veevoervervaardigers in die Wes-Kaap kan verskaf. “Dié mark bied nog ruimte vir groei,” het Becker gesê.
Blackenberg het gesê dat as SOILL byvoorbeeld 200 000 ton kanola verwerk, is daar ongeveer 120 000 ton kanola-oliekoek. Die oliekoek word in die Wes-Kaap deur die veebedryf gebruik en hoef nie soos in die verlede uit die noorde van die land aangery of ingevoer te word nie. Dit beteken baie vir die ekonomie van die Wes-Kaap.
Kanola het ’n ekonomiese waarde
José de Kock, ’n kanolaprodusent van die plaas Klipheuwel naby Napier in die Wes-Kaap het gesê kanola was vir lank net ’n wisselbougewas, maar dit is nie meer die geval nie. Produsente kry nou hoër pryse vir kanola en met nuwe tegnologie wat beskikbaar is, behaal hulle ook hoër opbrengste.
“Kanola voeg nou ekonomiese waarde tot die produsent se tafel en ding baie goed met gars en koring mee,” het hy gesê.
Blanckenberg het ook gesê die plaaslike bedryf gaan vir eers by nie-geneties-gemanipuleerde-organisme (GGO)-kultivars bly. “As produsente is ons gelukkig as die nie-GGO kultivars wat beskikbaar is, kan meeding met GGO kultivars en is ons as bedryf gemaklik om daarby te bly. Indien GGO kultivars bo die ander uitstyg, sal dit moeilik vir produsente wees om mededingend met die res van die wêreld te bly en sal GGO kultivars oorweeg moet word.
Mark vir vette en olies groei aggressief
Volgens Becker is die wêreldproduksie van vette en olies 250 miljoen ton per jaar. Kanola is die tweede grootste saadolie in die wêreld met ’n aandeel van sowat 12% van die totale 250 miljoen ton. Die oorlog in Oekraïne het pryse buitensporige hoogtepunte laat bereik wat die vraag gedemp het, maar die vraag is besig om te herstel. Een van die sterk drywers van die groter vraag is biodiesel. Biodiesel neem al 20% van die aanbod op en word sterk deur Europa en die laaste tyd ook Amerika gedryf .
Wat positief is, is dat die wêreldmark vir vette en olies aggressief met sowat vier miljoen ton per jaar groei. Dit is een van die min landbouprodukte waar die wêreldmark aggressief groei, het Becker gesê.
Suid-Afrika bly netto invoerder
Hy het ook gesê Suid-Afrika bly ’n netto invoerder van sagte olies. Ons totale verbruik van vette en olies is ongeveer 1,4 miljoen ton, waarvan ongeveer 900 000 ton sagte olies is. Dit is die kompleks waarin kanola-olie speel. “Ons ding mee teen sonneblom-, sojaboon-, katoen-, grondboon- en olyfolie. Die invoer van dié olies het die laaste paar jaar drasties afgeneem soos die sojaboon- en kanolabedrywe gegroei het. Daar word steeds 15 tot 20% van hierdie olies ingevoer, maar ons sien dat dit jaar op jaar afneem.”
Wat proteïene vir dierevoeding betref, is Suid-Afrika besig om selfvoorsienend te word, veral met die groei in die sojabedryf. Dit is besig om ’n uitdaging te word. “’n Jaar gelede het proteïenpryse nog teen invoerpariteit verhandel, maar nou sien ons groot diskonto’s in die mark tot voordeel van die suiwelprodusente,” het hy gesê.
Kanolabedryf moet internasionaal meeding
Becker het gesê vir SOILL as verwerker van kanola is dit belangrik om die bedryf so op te stel dat dit internasionaal mededingend is. “Dit gaan oor volhoubare verskaffing en die benutting van geleenthede soos in die biobrandstofbedryf,” het hy gesê.
Die geleenthede in die biobrandstofbedryf kan premies ontwikkel en ons moet seker maak die bedryf is geposisioneer om die geleenthede te benut. “Teen die tempo wat die biobrandstofbedryf groei, gaan daar geleenthede kom en dan moet ons sertifisering vir volhoubare voorsiening hê. Ons is reeds besig om dit uit te rol. Ons moet byvoorbeeld weet watter chemie ons kan gebruik,” het hy gesê.
“Ons is goed op pad om dit reg te kry om ’n wêreldklasbedryf daar te stel om op die wêreldverhoog te kan meeding. Ons moet seker maak ons logistieke ketting na die buiteland is so mededingend as wat dit kan wees.”
Kanolaverbouing se uitdagings
De Kock het gesê die gebruik van nuwe tegnologie het groot voordele gebring, maar dit is ook een van kanolaprodusente se grootste uitdagings. Produsente moet vandag die nuutste tegnologie gebruik om internasionaal te kan meeding, winsgewend te kan produseer en volhoubaar te boer.
Volgens Malan is dit belangrik dat produsente die regte kultivars plant om goeie opbrengste te kry en saad van die regte gehalte aan die verwerker te lewer. “Dit is ’n uitdaging omdat die regte kultivars se saad nie in voldoende hoeveelhede beskikbaar is nie. Die afgelope seisoen was dit veral ’n groot probleem en het produsente saad teruggehou wat die kanse vir siektes verhoog.”
“Wisselende klimaatstoestande is ook ’n uitdaging, maar dit kan met nuwe tegnologie en presisieboerdery aangespreek word,” het hy gesê.
Blanckenberg het gesê die plaaslike kanolabedryf is vandag ’n speler op die wêreldmark. Dit is ’n uitdaging omdat plaaslike produsente blootgestel is aan dié mark se bewegings en sonder die regte saad en tegnologie kan die plaaslike produsente nie internasionaal meeding nie.
“Vir SOILL as die grootste verwerker van kanolasaad in Suid-Afrika, is die wisselkoers die grootste uitdaging. Die maatskappy beskou dit as sy verantwoordelikheid om al die kanolasaad in te neem en die wisselkoers plaas groot druk op die beskikbaarheid van kapitaal,” het Becker gesê. – Hugo Lochner, Plaas Media