
Estimated reading time: 3 minutes
Die Griekwastad-skou, wat op 21 en 22 April plaasgevind het, was vanjaar weer ’n groot sukses. Ná twee jaar van ‘droogte’, is die Covid-inperkings opgehef en kon produsente weer ’n slag saamkuier en meeding. Vanjaar het die Boerbok- en Savanna-telers weer hul Noord-Kaap streekskampioenskappe by die skou aangebied, en Dorperboere kon ook meeding. Die interras-beesskou is ook vanjaar weer aangebied.
Lees meer oor die Williston-skou hier.
Boerbokke
In die Boerbok-kampioenskap het Lukas Burger met die louere weggestap. Hy het die senior kampioen-ooi, senior kampioenram asook die junior kampioenram vertoon, terwyl Connie Coetzee die kampioen-ooi vertoon het. In die finale beoordeling het Lukas die grootkampioen-ooi én -ram vertoon, asook die reserwe grootkampioenram. Connie se ooi is as reserwe grootkampioen-ooi aangewys.
Savanna-bokke
In die Savanna-ring is die junior kampioenram en -ooi deur Koenie Kotzé vertoon, en die reserwe junior kampioenram en -ooi kom uit die kudde van Tattie Scholtz. Onder die senior diere het Koenie die grootkampioen-ooi sowel as die reserwe grootkampioen-ooi en -ram vertoon. Tattie se Savanna-ram is as die grootkampioenram aangewys.
Dorpers
Kompetisie onder die Dorperboere was sterk. Die grootkampioen Dorper-ooi is deur Larry Snyders vertoon en Lucas Burger het die reserwe grootkampioen-ooi vertoon. Die grootkampioen Dorperram is deur Cloete Boerdery vertoon en Darryn van Zyl het die reserwe grootkampioenram vertoon.
Witdorpers
Onder die Witdorpers was die grootkampioenram deur Cloete Boerdery vertoon en Monica de Witt het die reserwe grootkampioenram gehad. Die grootkampioen Witdorper-ooi is deur Deon Maree vertoon en Cloete Boerdery het die reserwe grootkampioen-ooi vertoon.

Interras-beesskou
Ongeveer 24 diere het aan die interraskompetisie deelgeneem. In die junior afdeling is Riekie de Witt se Simmentalerkoei as die junior kampioen vroulike dier gekroon en Zirk Jansen se Brangusbul as junior kampioenbul. In albei kategorieë is Johannes Jordaan se Simbras as die reserwe junior kampioen vroulike dier en die reserwe junior kampioenbul aangewys.

Zirk Jansen van Jackpot Brangus-stoetery het met die meeste pryse weggestap. Tydens die finale beoordeling om die grootkampioene te bepaal, het hy die grootkampioenbul, die reserwe grootkampioenbul sowel as die reserwe kampioen vroulike dier vertoon. Riekie se Simmentalerkoei het as die groot kampioen vroulike dier uit die stryd getree.
