Pieter Möller nuutDeur Pieter Möller

Soms betrap ek myself dat ek wonder waar alles so vinnig heen weggehardloop het. Hier is ons al aan die einde van die jaar en dit voel my of ons skaars begin het. Dit raak weer tyd om voorraadopname te doen en te evalueer of dit wat ek vanjaar aangepak het, vrugte afgewerp het en suksesvol was.

Dan dink ek onwillekeurig aan einde verlede jaar se voornemens en besef met ’n skok dat ek vanjaar te min vakansie geneem het. Ek het myself verlede jaar ’n paar vakansies in die Maldives, Krugerwildtuin en elders belowe, en wou meer opwindende dinge aanpak.

Maar dis nooit te laat nie. As een of ander barmhartige Samaritaan my met ’n klompie Amerikaanse dollars wil borg dat ek die reise kan aanpak, is ek bereid om dit sterk te oorweeg. En enige wynplaas of -landgoed wat van hul oorskot wyn wil ontslae raak en skenk, is welkom. Ek kan aan baie redes dink waarop ons almal in hierdie pragtige land ’n glasie kan klink.

Ongewenste faktore

Ek wil verseker nog nie afskeid neem van 2016 nie, maar ’n paar dinge kan maar solank verdwyn. Die swak rand, die arrogante oom van die Ess-Y-Bee-See, die oom van ons buurland wat op 200-jarige ouderdom weer wil staan vir nog ’n 20-jaar termyn en die doemprofete wat ons Springbokrugbyspan en die landbousektor wil wegwens.

En o ja, moenie vergeet van die studente wat onrus gesaai en geboue afgebrand het nie. Hulle moet hul studies vir die volgende paar jaar in Siberië gaan voltooi sodat die koue weer hul breine kan wakker maak, aangesien dit tans in ’n diepe slaap verkeer. Ek het eintlik baie planne met die oproerige studente, maar alles is nie prakties moontlik nie. Ek dink byvoorbeeld nie dit sal werk dat hulle tydens die Nampo-week as skoonmakers aangestel word nie. Hulle gedagtes is meer vervuil as die gemiddelde asblik.

Vrede in Namibië

Toe ek onlangs in Namibië was, het ek weer diep onder die indruk gekom van die groot vrede wat in dié pragtige land heers. En terselfdertyd het ek in die stilligheid gewonder wat die inwoners anders doen as ons ou nasie, wat met ’n paar roekelose leiers aan die spits net ál dieper in ’n moeras van konflik, rasseherries en korrupsie verval.

Hoewel ek nog altyd ’n aartsopportunis was, lyk dit soms vir my of ons nog ’n bietjie sal moet vasbyt voordat daar klinkklare bewyse gaan wees van harmonie en volskaalse samewerking. Ek het in Namibië met Francois en Ulla Pretorius van Tsumeb gesels. As ’n mens na hulle benadering oor politiek, besigheid, kultuur en baie ander dinge kyk, kry jy tog hoop vir ons klomp hier – mits ons ’n slag vrede maak ons omstandighede.

Aanvaar jou omstandighede

Ons moet soos hierdie twee Namibiërs en baie van hul landgenote maak, en sekere dinge aanvaar waaraan ons niks kan doen nie. Ons gaan nie die arrogante houding van oom Fikile van die sport-ministerie verander kry nie en ons gaan nie beter sportresultate kry nie, al kies ons hoeveel spelers wat nie op meriete die spanne haal nie. Ek sien juis daar is deesdae spelers wat nou so permanent “geverf” is, hulle kan deesdae as ingekleurde spelers tel.

Ons moet verder aanvaar dat as jy droogtehulp slegs vir een groepie mense gee, voedselsekerheid nie gewaarborg kan word nie. Nog minder sal genoeg basiese voedselsoorte geproduseer kan word as ons die kommersiële boere ignoreer. Ons moet ook vrede daarmee maak dat die moontlikheid van rommelstatus vir ons land nie beteken dat ons nie aan die einde van die jaar mag Hartenbos toe gaan nie. Dit beteken eintlik dat jy net brandstof tot op Edenburg sal kan bekostig.

So aan die einde van die jaar het ons steeds meer om voor dankbaar te wees as andersom. As jy regtig innerlike vrede ervaar en gemaklik is met jouself, sal geen negatiwiteit, jou van stryk af bring nie. Ek sien saam met jou uit na die einde van die jaar se rus.

Nog uit Pieter se pen:

Wanneer jy inspirasie soek

Met ’n glimlag kan ek my vyande leer liefhê

Wanneer iemand anders vir jou besluit

My wenslysie … in Afrikaans

Die papwiele in die lewe  

Ons moet aanhou hoop

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY