Monday, August 15, 2022

Jongwyne van 2022, wys jul staal!

Estimated reading time: 3 minutes

Die spertyd om in te skryf vir vanjaar se Suid-Afrikaanse Jongwynskou is om die draai, en wynmakers het tyd tot 23 Junie om in te skryf by al die Suid-Afrikaanse wynstreke, en tot 8 Julie om direk by die skou se kantoor in die Paarl in te skryf. 

Die organiseerders van die kompetisie, die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), het aangekondig dat die beoordeling vir 25 tot 29 Julie in die Johann Graue-saal by Nederburg in die Paarl geskeduleer is. Hierdie kompetisie is spesifiek vir jongwyne wat in dieselfde jaar gemaak is en die oudste wynkompetisie ter wêreld is.

Die Suid-Afrikaanse Jongwynskou word reeds vir 190 jaar aangebied. Dit gee wynmakers sedert 1833 die geleentheid om hul verskillende jongwyne, eksperimentele style en nuwe kultivars teen hul mededingers op te weeg.

Daar word met groot verwagting uitgesien na die jongwyne van 2022. Wynmakers is dit eens dat wyne van uitsonderlike gehalte vanjaar gemaak is, wat wit- en rooiwyne met wonderlike geure opgelewer het, ondanks klimaatstoestande wat gedurende beide die groei- en oesperiodes baie gewissel het.

“’n Koel seisoen en matige weerstoestande in die meeste streke tydens parstyd het rypwording vertraag, wat wingerde die geleentheid gegee het om treffende geur en kleur in vanjaar se wyndruifoes te ontwikkel,” sê Conrad Schutte, konsultasiediensbestuurder van die wynbedryfliggaam, Vinpro.

Lees meer oor die Suid-Afrikaanse wynbedryf hier.

’n Skou van ’n ander kleur

Die Jongwynskou bied weer eens die ideale geleentheid vir alle produsente om met hul uitsoekwyne vir SA Kampioen Trofee-status in 17 klasse mee te ding. Twee besonder gesogte trofeë is op die spel, naamlik die Generaal Smuts- en Pietman Hugo-trofeë, onderskeidelik as die kompetisie se top-toekennings sedert 1952 vir die algehele kampioenwyn, en sedert 1994 as erkenning vir die hoogste totale punte behaal vir vyf ingeskrewe wyne.

In pas met die gebruik oor die jare, word spesialis-beoordelaars op al die panele aangestel om te verseker dat top kundigheid ingespan word om die wenners te identifiseer.

Die Jongwynskou is ’n unieke geleentheid vir die wynbedryf om jaarliks die jongwyne vir beoordeling in te skryf, en die uitslae as ʼn maatstaf van gehalte te gebruik. Die skou word ook wyd deur wynmakers gebruik om nuwe style en nuwe kultivars vir beoordeling voor te lê, terwyl die bekende kultivars hul staal as jongwyne wys.

Danksy die waarde van die 19 spogtrofeë – wat sedert die gloriedae van die Kompanjiestuin in Kaapstad en later die Goodwood-skouterrein in die verskillende kategorieë in samewerking met Agri-Expo toegeken word – het die SA Jongwynskou van krag tot krag gegaan as ʼn maatstaf van Suid-Afrikaanse se jongwyne met elke nuwe oesjaar.

Die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap – wat in 1996 die bemarkingsnaam Agri-Expo gevestig het – is oor al die jare aktief betrokke by die Jongwynskou as eienaar van hierdie merkwaardige wynskou en handhaaf sy verbintenis ook as beskermheer tot vandag toe. In die proses, het Agri-Expo die besonder indrukwekkende versameling goue en silwertrofeë wat jaarliks aan die wenners oorhandig word, aan die SANWSV, as organiseerder, toevertrou.

Sedert 2019 spog die Jongwynskou met ’n groot aansporing vir die twee hooftrofeë-wenners. ’n Vennootskap is gesluit tussen die organiseerders en Porex SA – ʼn prominente Paarlse voorsiener van masjinerie en wynboukundige toerusting aan die bedryf –  waardeur die twee onderskeidelike wenners van die Generaal Smuts en Pietman Hugo trofeë vir ʼn ses-dag-lange reis na Duitsland geborg word.

Die organiseerders het ook aangekondig dat die omvattende veiligheidsmaatreëls wat in die verlede vir die Covid-19-pandemie gegeld het, steeds by die beoordeling geïmplementeer sal word. Deeglike protokolle is twee jaar gelede ontwikkel om die ingeskrewe wyne so te kan hanteer dat alle gesondheids- en veiligheidsvereistes vir die beoordelaars, beamptes en personeel betrokke by die proesessies, nagekom word.

Die bekendmaking van die nasionale trofee-wenners, asook die wenner van die Pietman Hugo- en die beroemde Generaal Smuts-trofeë vir die algehele wenwyn van 2022, word vir 26 Augustus beplan. –  Persverklaring, Veritas

Versorging van ooie en lammers tydens lamtyd

Estimated reading time: 4 minutes Sorgsame bestuur van pasgebore lammers en hul moeders is...

Caring for ewes and lambs during lambing

Estimated reading time: 4 minutes A strong lamb crop is highly dependent on meticulous...

Streng seleksie sorg vir klipharde Bonsmaras

Estimated reading time: 6 minutes Sowat 100km vanaf Johannesburg, aan die voet van die...

RSG Landbou: 4 Augustus 2022 – geborg deur Hygrotech

Talle plaaseienaars maak dikwels van ‘n maatskappy gebruik om tydelike of seisoenale werkers in...