Jongste verslag: Vinpro plaas wyntoerisme onder die vergrootglas

Estimated reading time: 4 minutes

Besoekers aan Suid-Afrika se uitsonderlike wyntoerismebestemmings kan uitsien na selfs meer onvergeetlike ervarings, danksy waarnemings uit die South African Wine Tourism Visitor Research Report 2022.

“Ons skop Internasionale Toerismemaand in September heel gepas af met insigte oor wyntoerismebesoekers, wat Suid-Afrikaanse wyntoerismebestemmings sal help om spesifieke marksegmente te identifiseer en bemarkingsveldtogte, produkte en ervarings te skep wat tot hul behoeftes spreek,” sê Marisah Nieuwoudt, Vinpro-wyntoerismebestuurder.

Wêreldwyd bestee die toerismebedryf miljoene rande aan marknavorsing om te bepaal wat mense motiveer om te reis, hoekom hulle ʼn spesifieke bestemming kies, hoeveel hulle spandeer, hoe gereeld hulle reis, en meer. Benewens kwalitatiewe maatstawwe, sluit hierdie navorsing ook demografiese, geografiese, ekonomiese, sosiale en sielkundige faktore in wat wyntoerismebestemmings help om ʼn meer omvattende oorsig van hul besoekers te kry.

“Een van die kerndoelwitte van die Vinpro wyntoerismestrategie is om wyntoerisme-intelligensie te genereer wat op bedryfsbehoeftes fokus en kennisleemtes in die sektor aanspreek,” sê Marisah. “Deur die navorsingstudie oor wyntoerismebesoekers wou ons ʼn metodiek ontwikkel en implementeer waardeur ons inligting oor besoekers aan wynplase kan insamel en ontleed. Dit sal wynkelders help om hul besoekers beter te verstaan en aan hul behoeftes te voorsien.”

Die navorsing en verslag is moontlik gemaak deur samewerking tussen verskeie belangegroepe, insluitende die onderskeie wynroetes wat deel vorm van die SA Wynroeteforum, Vintelligence, ʼn verskaffer van besigheidsintelligensie-oplossings aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf, en die Pinotage Youth Development Academy (PYDA). “Ons is ook dankbaar vir die befondsing van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit (KWDM) vir die wyntoerisme-veldnavorsing, asook hul deurlopende ondersteuning aan ons wyntoerismepogings,” sê Marisah.

Waarnemings van wyntoerismebesoekers

Die verslag is in drie afdelings verdeel. Dit skop af met ʼn wye wynverbruikerslens gebaseer op aanlynopnames waardeur ondersoek is tot watter mate hulle van Suid-Afrika se 23 wynroetes bewus is, asook wat hierdie bewustheid, wynroetebesoeke en reisgedrag beïnvloed.

Die tweede afdeling ontleed die profiele van 709 wyntoeriste by Suid-Afrikaanse wynkelders waarmee fisiese onderhoude gevoer is, en fokus op demografie, reismotivering en interaksie met wyn. Laastens fokus die verslag op drie soorte wyntoeriste om bemarkers te help om die kenmerke, grootte en motivering van elke segment te verstaan.

Gewaarwordings in die verslag sluit in:

  • Diegene wat wynproeë of kos-en-wyn-ervarings bygewoon het, of wat ʼn wynplaas besoek het, sal waarskynlik in die toekoms meer betaal vir ʼn bottel wyn, en meer bottels wyn per maand koop.
  • Die meerderheid wynkelderbesoekers met wie onderhoude gevoer is, woon in die Wes-Kaap en Gauteng, gevolg deur KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Die internasionale besoekers was belyn met Suid-Afrika se top-toerismebronmarkte, naamlik die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Amerika en Nederland.
  • Heelwat van die besoekers wat aangedui het dat hulle kinders het wat by hulle woon, het wynplase as individue of paartjies sonder kinders besoek. Dit kan wees vanweë persepsies rondom ʼn gebrek aan aktiwiteite vir kinders by ʼn spesifieke wynplaas, of hulle het ʼn besoek aan ʼn wynplaas beskou as ʼn afwisseling van hul normale roetine.
  • Besoekers het ontspanning, die natuurskoon en plaasomgewing, en sosialisering met vriende en familie genoem as die hoofredes om ʼn wynplaas te besoek, naas die ooglopende wynproemotivering.
  • Byna 15% van besoekers met wie onderhoude gevoer is, was nuuskierige toeriste wat matig geïnteresseerd is in wyn, maar ʼn wynplaas is net nog ʼn besienswaardigheid. ʼn Verdere 61% was wynbelangstellendes met hoë belangstelling in wyn, maar dis nie die uitsluitlike doel van ʼn wynkelderbesoek nie, en 24% van die besoekers was wynliefhebbers wat baie geïnteresseerd is in wyn en wynmaak en wynkelders is dalk die enigste doel van hul besoek aan ʼn streek.

Lees meer oor Tulbagh as skitterende wynterrein hier.

Wat die medewerkers sê

“Die kelderdeur is die hartklop van baie van ons Suid-Afrikaanse wynkelders se regstreekse verbruikerstrategieë en as sodanig was die insluiting van wyntoerismevrae by die jaarlikse Great Big Wine Survey ʼn natuurlike volgende fokusarea vir ons besigheid,” sê Andrew Douglas, Vintelligence-direkteur. “Ons glo dat die wyntoerismewaarnemings van ons aanlynopname, tesame met die aangesig-tot-aangesig-opnames wat deur Vinpro gedoen is, wynroetes en wynkelders van ’n kragtige bemarkingshulpbron sal voorsien.”

“Die KWDM besing graag die lof van Vinpro en geaffilieerde vennote vir hul voortgesette projekte wat daarop gemik is om nie net besoekers na die Kaapse Wynlande te lok nie, maar ook daardie projekte wat ons wyne en wyntoerismebestemmings na oorsese markte bevorder,” sê Ald (dr) Elna von Schlicht, uitvoerende burgemeester van die KWDM.

“In ons hoedanigheid as die streektoerismekantoor vir die distrik het ons gehelp om toerismeverwante projekte te versterk deur verskeie bemarkingsveldtogte ter waarde van R1.2 miljoen. Wesgro het in hul April 2022-verslag bevestig dat die Kaapse Wynlande die gewildste streek (75%) vir herhaalde besoeke was, en die distrik het ʼn ietwat hoër syfer ten opsigte van terugkerende besoekers as die gemiddeld vir die provinsie (70%) gehad.

Hierdie syfers sê vir ons as mense eers die Kaapse Wynlande besoek het, hulle terugkeer vir nog. Ons vermoed dat dit nie net te wyte is aan die verskeidenheid hoëgehalte, bekostigbare bestemmings en aktiwiteite wat aangebied word nie, maar meestal die ongelooflike warmte van die mense wat ons besoekers bedien.”

Kry die verslag

Laai die South African Wine Tourism Visitor Research Report 2022 gratis af en kyk na ʼn inleidende video by https://vinpro.co.za/category/news/.

Benewens die gewaarwordings in die verslag kan wynkelders Vinpro se Wine Tourism Toolkit gebruik – ʼn gratis aanlyn hulpbron met praktiese wenke en hulpmiddels beskikbaar by www.toolkit.vinpro.co.za – om hul teikenmarkte te help identifiseer, verstaan en met hulle te kommunikeer, terwyl hulle die navorsingsbevindinge in hul wynbesighede implementeer. – Persverklaring, Vinpro

Must read

Plaas TV: Klimaatslim boerdery, AFMA Forum, Agbiz Graan- en Oliesade-simposium en Kubota-trekkers

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: Die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek het ten doel om veeprodusente te identifiseer wat klimaatslim boerderypraktyke...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg ken sy storie as dit by die weer kom. Hy het die afgelope week met Lise Roberts oor die nuutste weersake op RSG Landbou gesels....

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 38

The weekly pork carcass price is brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO). Click here for this week's report. https://agriorbit.com/rooivleispryse-red-meat-prices-2/ Important notes Domestic pork carcass prices are weighted averaged abattoir purchase prices per category...

RSG Landbou: 28 September 2023 – geborg deur Plaas Media

Die grootste beperkende faktor ten opsigte van produksie-doeltreffendheid in skaapboerdery, is mortaliteit onder pasgebore lammers. In Donderdag se aflewering van RSG Landbou hoor ons by Alheit du Toit van Feedtek wat die oorsaak is...

Biesmelk: Die lewensbron van lammers

Estimated reading time: 3 minutes Die belangrikheid van biesmelk kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit is daardie eerste melk wat die lam inneem na geboorte. Dit gee daardie nuwe lam ’n eerste hupstoot en...