Estimated reading time: 6 minutes
Die Overberg-jongooikuddeklub het onlangs sy eerste opedag op Windhoek Plaas by Napier aangebied. Christoff Lourens, voorsitter van die klub, het by die opedag gesê die klub is deur ’n groep Merino-boere van die omgewing gestig om van mekaar te leer en so hul kuddes te verbeter.
Hy het dit duidelik gemaak dat die jongooi-kuddeprojek, waar die diere op een plaas onder dieselfde toestande aangehou en verskeie produksie-eienskappe gemeet word, glad nie ’n kompetisie is nie. “Dit gaan oor hoe jy jou eie skape teenoor dié van ander meet. Jy kan ander se idees gebruik om jou eie kudde te verbeter, en so ook jou boerdery se winsgewendheid en volhoubaarheid verbeter.”
Lees meer oor die Overberg-jongooikuddeklub.
Die 15 lede van die klub het in Augustus verlede jaar elkeen tien ooie ingeskryf. Die proef maak vanjaar in November klaar as die ooie se lammers gespeen is. Hoewel die projek nog min inligting kon insamel, is waardevolle lesse reeds geleer en het al die lede aangedui dat hulle volgende jaar weer ooitjies vir ’n tweede projek wil inskryf.
“Dit wys die projek werk. Dit maak ons bewus van maniere om wetenskaplik na jongooie te kyk en so kan ons verseker dat ons jongooie vorentoe ’n beter kern van ons kuddes sal vorm,” het Lourens gesê.
Resultate wys reeds tendense
Die eerste resultate van die jongooitjies wat vir die projek ingeskryf is, is deur Hannalet Jordaan, veekundige en data-analis van BKB, bespreek. Sy staan die boere by met die insamel en verwerking van die inligting.
Sy het gesê hoewel die volle jongooi-siklus (van inname tot ná die speen van die ooitjies se lammers) nog nie afgehandel is nie, is daar al ’n paar duidelike tendense. Uit die meting van die diere se woleienskappe is dit duidelik dat daar groot variasie tussen plase, maar ook binne boerderye bestaan. “Die variasie wys op die groot potensiaal onder die diere. As die regte diere geselekteer word, kan die boerderye se winsgewendheid verhoog word.”
Dr Josef van Wyngaard, tegniese bestuurder van Voermol Voere, het gesê jongooie is die beste genetika op die plaas en moet dus goed bestuur word. Met goeie voeding kan hul potensiaal ontsluit word. Dit is belangrik dat jongooie ’n egalige groeikurwe moet hê. Vervangingsooitjies met ’n onegalige groeikurwe beteken 40% meer oop ooie en die getal tweelinge kan met die helfte verminder teenoor jongooitjies wat ’n egalige groeikurwe het.
Bly weg van uiterstes
Pierre Vlok, BKB se bestuurder vir wol (westelike streek), het gesê die stoetteler van die toekoms moet ’n grondige kennis van sy bedryf hê. Hy moet praktiese kennis van landbou-ekonomie, genetika, reproduksie, en die fisiologie van die dier wat hy teel, en voeding hê. Hy moet ook aan die voorpunt van genetiese tegnologie wees.
“Dit is bewys dat mediumgrootte diere die beste presteer en die beste ekonomiese waarde en reproduksie het. Dit geld vir stoet- en kuddediere, en veral die seleksie van jongooie. Bly dus weg van uierstes,” het hy gewaarsku.
Frans Hugo, OVK se bestuurder vir veselverkryging (Suid- en Wes-Kaap), het gesê ’n wolskaapboer se oestyd is tydens lamtyd, skeertyd, en die bemarking van die lammers en uitskotdiere. “Jy moet lank genoeg voor die tyd begin beplan om te verseker dat jy op elke gebied waarde toevoeg en ’n premie op jou produk verdien. Bestee meer tyd aan bestuurspraktyke waaroor jy beheer het.”
Robert Scott van BKB het gesê hy is bekommerd dat die wol wat Suid-Afrika produseer te dun in die stapel is en nie die eienskappe het wat in wol nodig is nie. “Ons wol se styl is nie na wense nie en die wol is ook ondergekartel. Ons raak dus agter teenoor Australië en die res van die wêreld. Wolprodusente moet aandag gee aan hierdie eienskappe om seker te maak dat ons aan die voorpunt bly en die premie op ons wol behou.”
Let op vrektes en siektes
Dr Johan van Rensburg van ABE Biotech het gesê speenpersentasie is een die grootste bepalers van inkomste (wins) in ’n kleinveeboerdery. In intensiewe stelsels kan lamverliese tot soveel as 40% en meer wees. Die meeste lammervrektes vind in die eerste maand ná geboorte plaas. Altesaam 70% van lamverliese vind in die eerste 48 uur na geboorte plaas.
Dr Hensie Lategan, veearts van die Bredasdorp-dierekliniek, het gesê ensoötiese aborsie kom landswyd voor. Die infeksie word ingekoop en sulke ingekoopte skape besmet dragtige en nie-dragtige ooie. Die kiem ontwaak gedurende middragtigheid en tas die plasenta aan. Dit veroorsaak dat die fetus ’n gebrek aan voeding en suurstof ervaar. Die fetus vrek en aborteer, of die lam word swak gebore.
Die besmette ooi bou weerstand op, maar wanneer sy volgende keer lam skei sy weer kieme uit, wat vatbare ooie affekteer. ’n Ooi wat vanjaar infeksie kry, kan dus eers volgende jaar aborteer. “As gevolg van die sluimerende infeksietoestand help dit nie om ooie voor paartyd te meng en te hoop hulle bou weerstand op nie,” het hy verduidelik.
Hy het ook gesê bloednierinentings is een van die noodsaaklike inentings wat skaapboere moet doen. Die belangrikste bloednierinenting moet vier tot ses weke voor lamtyd gedoen word. Hierdie inenting verseker teenliggame in die ooi se bies, wat die lam beskerm. – Hugo Lochner, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak Christoff Lourens by 072 264 2991, Hannelet Jordaan by 060 500 8190 of hannelet.jordaan@bkb.co.za of Ferdie Naudé by 082 934 2577 of naudef@yahoo.com.