Estimated reading time: 4 minutes
Die hoofbestuurder van die Nasionale Wolkwekers Vereniging (NWKV), Leon de Beer, het onlangs ‘n verklaring uitgereik waarin hy die dringendheid rondom die beheer en bestuur van die Ovine Johne Siekte (of Johne se siekte, soos dit algemeen bekendstaan) beklemtoon.
Volgens De Beer is dit ‘n beheerde siekte onder die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 25 van 1984). Ingevolge dié wet word ‘n plaas waar Johne se siekte onder diere voorkom, vir ‘n onbeperkte tyd onder kwarantyn geplaas. Die siekte raak hoofsaaklik wolskape, waarvan daar 15 miljoen in Suid-Afrika is.
Die siekte het al in die verlede produsente tot op hul knieë gedwing. Daarom het verskeie rolspelers in die bedryf onlangs ‘n werkswinkel in dié verband aangebied. Hierdie rolspelers het ook in noue samewerking met prof Gareth Bath, professor emeritus aan die Fakulteit Veeartsenykunde by die Universiteit van Pretoria, ‘n veterinêre prosedure kennisgewing aan die hand van aanbevelings uit die werkswinkel ontwikkel.
Die voorstel was dat die siekte steeds ‘n beheerde siekte moet bly, maar dat kwarantyn uit die maatreëls verwyder moet word. Hy sê die probleem is egter dat dit net kan gebeur as die siekte na ‘n aanmeldbare siekte afgradeer word en nie meer ‘n beheerde siekte is nie. ‘n Voorstel is aan die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling voorgelê.
Lees meer oor hoe om siektes in ‘n intensiewe skaapboerdery te beheer.
Ondoeltreffende siektebeheer
De Beer meen die huidige beheer van Johne se siekte is eintlik onprakties.
“Daar is uitstekende entstowwe in die land beskikbaar, maar produsente kan dit net gebruik as hul plase reeds positief getoets het. Ons voel dit sal beter wees as almal toegang tot die entstof kan kry en dit as ‘n voorsorgmaatreël kan aanwend om juis die siekte uit hul kuddes te hou.
“Elke produsent kan ‘n verklaring aflê dat die dier wat hy verkoop skoon is van dié siekte, of dat die dier daarteen ingeënt is. Ons wil ook hê dat die plase wat positief getoets het vir Johne se siekte, nie onder kwarantyn geplaas word nie,” meen hy.
Hy het ook genoem dat daar wel reeds vergunnings gemaak is in dié sin dat eienaars met ramme en ooie mag handel dryf, maar net met plase waar die siekte ook voorkom. Die siekte kom meestal in die Wes-Kaap voor, maar omdat dit so ‘n onpraktiese reëling is, het baie produsente met produsente uit ander provinsies begin handel dryf en daarom het verskeie plase in ander provinsies positief getoets vir Johne se siekte.
Volgens prof Bath het die huidige stelsel heelwat probleme en omdat produsente wie se kudde een keer positief getoets het, vir altyd onder kwarantyn gaan bly, begin hulle om die siekte weg te steek. Dit veroorsaak dat die siekte vinniger versprei.
Hy voel daar is nie ‘n beweging na die beheer van die siekte nie. Volgens hom is dit onmoontlik om die siekte uit te roei en om behoorlike beheer en bestuur daaroor te kry, moet die bal na die produsent toe teruggegooi word.
“By elke punt waar daar skape verhandel word, behoort die verkoper ‘n dokument te toon wat aandui of die diere positief of negatief is vir Johne se siekte. As dit net ‘n aanmeldbare siekte is, moet verkopers die inligting beskikbaar stel, en kopers kan dan self besluit of hulle die transaksies wil beklink.
In Australië is die bestuur van die siekte aan die bedryf oorgelaat en die streng maatreëls is opsy geskuif. Vandag is dit nie meer ‘n kwessie nie. Ons moet weet ons sal nie die siekte kan uitroei nie, maar as ons inligting op die tafel sit, kan ons dit bestuur,” voeg hy by.
Vind meer uit oor die veesiektes wat tydens die lente aangemeld is.
Die pad vorentoe
Prof Bath stem ook met De Beer saam dat Suid-Afrika oor uitstekende entstowwe beskik, maar as dit net vir dié produsente gegee word wie se kudde reeds positief getoets het en daardie plaas gaan vir altyd onder kwarantyn wees, gaan baie produsente eerder stil bly. Hy glo produsente sal pro-aktief optree en betyds begin om hul diere te ent as die maatreëls verander.
“Ons het gevalle waar die produsente die diere oor ‘n paar jaar gereeld geënt het en die siekte het klinies verdwyn. As jy ophou om te ent sal dit altyd weer na vore kom. Daarom kan dit nie soos Brusellose uitgeroei word nie en moet dit net reg bestuur word. Om plase lewenslank onder kwarantyn te plaas gaan ook nie die probleem oplos nie.
“Die staat probeer al vir meer as 30 jaar om die siekte te keer, maar die probleem is nog nie opgelos nie. Produsente moet ruimte gegee word om die siekte te bestuur. Dit is die enigste oplossing,” sê prof Bath. – Koos du Pisanie, AgriOrbit