
Estimated reading time: 5 minutes
Wes-Kaapse leerders wat vanjaar in die Wes-Kaap Jeugskouspan opgeneem is om aan die Nasionale Jeugskou-kampioenskappe deel te neem, kon weens die gevare wat die uitbreking van bek-en-klouseer vir die lewendehawebedryf in die Wes-Kaap inhou, nie aan die nasionale kampioenskappe deelneem nie.
Lees meer oor die impak van bek-en-klouseer op die jeugskou hier.
Om erkenning te gee aan die harde werk van hierdie leerders, het die Wes-Kaapse Jeugskoubestuur egter besluit om ’n spesiale geleentheid te reël waar die bestuur saam met sy vennote (borge) en ouers erkenning kan gee aan diegene wat deur die jaar op jeugskoue presteer het.
Die geleentheid het in die Percheron-saal op Elsenburg naby Stellenbosch plaasgevind. Elke spanlid het ’n medalje gekry en daar is ook spesiale toekennings gegee voordat almal lekker saam gekuier en so ’n suksesvolle jeugskou-jaar afgesluit het. Plaas Media as ’n vennoot van jeugskoue in die Wes-Kaap en ook die mediaborg van die Nasionale Jeugskou, het die spesiale geleentheid bygewoon.
Breyton Milford, voorsitter van die Wes-Kaapse Jeugskouvereniging, het gesê die plaaslike jeugskou het vanjaar ná die Covid 19-pandemie opgestaan en uitstekend gevaar. Daar was die afgelope jaar sewe streekskoue in die provinsie waaraan altesame 770 leerders deelgeneem het.
Milford skryf die sukses van jeugskoue in die provinsie toe aan vyf belangrike bene waarop die Wes-Kaap Landbou-Jeugvereniging staan. “Die struktuur van die Wes-Kaap is reg. Dit begin by die kinders, die skole (as ons nie landbouskole het wat die diere voorsien nie, dan kan ons nie jeugskoue doen nie), die bestuur van die Jeugskouvereniging, die vennote (die Wes-Kaapse Departement van Landbou en Agri-Expo), en laastens en die belangrikste, die ouers. Ons kan niks doen sonder ons ouers nie,” het Milford gesê.
Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse Minister van Landbou, het gesê met die woord landbou moet die klem op “bou” geplaas word. “Ons land is stukkend en moet weer opgebou word. Dit is net landbou wat die land weer kan opbou. Daarom moet daar meer landbouskole en landbouvakke in die Wes-Kaap wees.”
Die voordele van landbou as skoolvak
Daar is bewyse dat landbou as vak in skole groot voordele kan inhou. “Ek het dit self gesien by die Jakes Gerwel Tegniese Skool vir Vaardighede naby Bonnievale. Die skool het landbouvakke ingebring en daar het vier goed gebeur. Dissipline het verbeter, die leerders se akademiese prestasie het verbeter, minder kinders is betrokke by anti-sosiale gedrag, en daar is ’n afname in tienerswangerskappe. Landbou bou die jeug. Ons moet meer landbouers kry, het dr Meyer gesê.
Joubert van der Merwe, ’n onderwyser van Augsburg Landbougimnasium op Clanwilliam, het gesê jeugskoue is ’n relatiewe nuwe sport, maar dit is uniek en is ver voor ander sportsoorte. “Ons leef in ’n wêreld waar dames sukkel om dieselfde erkenning as mans op die sportveld te kry. Deur die Jeugskou belê ons in ’n sport waar én seuns en dogters op gelyke voet met mekaar meeding en dieselfde erkenning kry.
“Ons leef ook in ’n land waar almal nie dieselfde voorregte of geleenthede het nie. Deur die jeugskou belê ons in ’n sport waar die kommersiële mega-boer se kind én die plaaswerker se kind op dieselfde platform kan meeding.”
Erkenning aan presteerders
Tydens die geleentheid is spesiale toekennings is aan deelnemers wat oor die jaar tydens die streeksjeugskoue en ook met die WP-kampioenskappe presteer het. Die toekenning vir die meeste streekskoupunte is aan vier leerders toegeken. Almal het aan drie streekskoue deelgeneem, naamlik Heidelberg, Riversdal en Swellendam en het 100% behaal. Die vier leerders is soos volg:
- Leana van den Berg van Hoërskool Charlie Hofmeyr, Ceres (Witzenberg-streek).
- Benjamin Turner van Augsburg Landbougimnasium, Clanwilliam (Cederberg-streek).
- Henré Swanepoel van Laerskool Volschenk, Riversdal (Eden-streek).
- Jaco van Deventer, Hoër Landbouskool Oakdale, Riversdal (Eden-streek).
Die toekenning vir die beste toetrede tot jeugskou is aan twee leerders gemaak, naamlik Ruan Immelman en Luan Skog, albei van Hoër Landbouskool Boland, Paarl (Boland-streek).
Die toekenning aan leerders wat die beste in die kennistoets tydens die WP Kampioenskappe gevaar het, is aan twee leerders gemaak, naamlik Anré de Klerk van Augsburg Landbougimnasium, Clanwilliam (Cederberg-streek), en Ansu de Buisson van Hoërskool Langenhoven, Riversdal (Eden-streek).
Die toekenning vir die beste skouman tydens die WP Kampioenskappe gaan aan Katrien van Wyk van Laerskool Bertie Barnard, Stilbaai (Eden-streek). Sy het 50 uit 50 behaal.
Die toekenning in die was- en voorbereidingsafdeling tydens die WP Kampioenskappe gaan aan Bianca Viljoen van Augsburg Landbougimnasium, Clanwilliam (Cederberg-streek). Sy het ’n punt van 29 uit 30 behaal. – Hugo Lochner, Plaas Media