’n Landboujeugfokus is een van die vier pilare waarop ALFA 2017 staan. Die doel van dié program is onder meer om die jeug aan die landbou in praktyk bloot te stel en die landbouers van môre deel van die landbougemeenskap te maak.

Dit gee landbouskole die geleentheid om hulself teen ander skole te meet en lekker kompetisie te hou. ’n Interskole-kompetisie met verskeie onderafdelings beloof baie opwinding. Altesaam tien kompetisies vorm deel van dié uitdaging. Drie is verpligtend. Elke skool moet aan die FNB landbouskole-uitstalling, Veeplaas-vasvrakompetisie vir landbouskole en Voermol en Konsortium-Merino se jeugskoue deelneem.

Daarby kan hulle twee kompetisies uit die oorblywende sewe kies om aan deel te neem. Dit sluit opwindende uitdagings in soos die Toyota SA Nasionale Junior Afslaerskompetisie, die Obaro junior slagoskompetisie, die JSE wolhanteringskompetisie, die Zoetis junior interras-kampioenskap, die Santam junior kuilvoerkompetisie, die ALFA sweepslaankompetisie en die Sernick junior karkaskompetisie in.

 Landboujeugkonferensie

Die Veeplaas-skolekuddeprojek groei baie sterk met twaalf kuddes wat reeds by tien skole gehuisves word. Dié projek en hoe dit tot die beste voordeel van die skole aangewend kan word, gaan by die landboujeugkonferensie bespreek word. By sommige skole is die projek reeds meer as ’n jaar aan die gang. Daar is dus al baie terugvoer wat met mekaar gedeel kan word.

Die kuddebestuursprogram gaan deur GMP Basic bekendgestel word en Plaas Publishing loods die #SkoleStoetVee-facebookprojek. Die PLAAS Landboujeugstigting sal ook formeel by ALFA gestig word.

 Kommoditeitskonferensie

Op die kommoditeitskonferensie sal die jeug die huidige vleisklassifikasiestelsel @ ALFA 2017 bespreek. Verteenwoordigers van elke skool kry die geleentheid om ’n standpunt voor te berei en op die konferensie aan te bied vir bespreking.

Die ALFA-span sien daarna uit om die energie van die jeug op die terrein te verwelkom en landbouskole die geleentheid te gee om met die bedryf te skakel.

Klik hier vir die volledige ALFA 2017-program

Klik hier om kaartjies te koop vir ALFA 2017.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY